Shell se verklarings deurspek met onwaarhede

Shell

Shell

Die alliansie teen hidrobreking, Treasure the Karoo Action Group (TKAG) en AfriForum, het verklarings deur Shell SA se Bonang Mohale en Jan-Willem Eggink op ʼn vergadering in Cradock in die Oos-Kaap verwerp as deurspek met onwaarhede.

“Óf die publikasie Engineering News het Shell verkeerd aangehaal óf die maatskappy se bestuur bly getrou aan hul misleidende aard in hul strewe om skaliegas aan Suid-Afrikaners te bemark. Ek glo laasgenoemde opsie is die waarskynlikste,” het Jonathan Deal, hoof uitvoerende beampte van TKAG, gesê.

“Shell is deeglik bewus daarvan dat die olie-reus se openbare konsultasieproses heeltemal ontoereikend was omdat dit onder andere honderde duisende van die Karoo se inwoners uitgesluit het. Om 80 000 bladsye vol syfers en 6 000 vrae aan te haal klink indrukwekkend, maar dit slaag nie daarin om Shell vry te spreek van die verpligting van behoorlike en betekenisvolle openbare konsultasie nie.”

Volgens Deal ding Shell in die staat New York direk met inwoners mee om hul drinkwater te gebruik vir breking. “Gebaseer op hierdie onlangse optrede deur die maatskappy is ons met reg suspisieus oor Shell se beloftes aan Suid-Afrikaners rakende die kwessie van water,” het hy bygevoeg. “Ek het baie brekingsterreine in Amerika besoek en nie een gesien wat selfs net amper in 150 vierkante meter sal inpas nie. Al is dit standaardpraktyk om die impak van ontwikkelings in persentasies uit te druk, bly dit oneerlik – natuurlik laat 1% dit klink of net ʼn baie klein deeltjie van die grond beïnvloed sal word. Selfs al is dit waar, bly Shell doodstil oor die hoeveelheid grond wat deur ander multinasionale maatskappye ontwikkel sal word vir ʼn menigte ander gebruike. Die hele prentjie moet in ag geneem word.”

Volgens Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, moet alle aansoekers ʼn openbare konsultasieproses heroorweeg. “Shell en sy medeaansoekers moet minstens die openbare konsultasieproses heroorweeg – en hierdie keer sal hulle te doen kry met ‘n baie beter ingeligte publiek. Ons wil antwoorde hê oor wat verbode is, moratoria, beperkings op breking in ander lande en ook ‘n openbare debat met Shell oor hul gedokumenteer oortredings van brekingsregulasies in Amerika. Dit is tyd dat Shell die waarheid praat en die gevolge dra,” het Kleynhans gesê.

Die maatskappy is intussen ook deur Greenpeace daarvan beskuldig dat hulle twee putte in die see by Nieu-Seeland geboor het sonder die nodige permitte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elizabeth ·

Shell doen wat hulle wil in SA – want hulle KAN; die regering gee net niks om vir die omgewing, water ens. Hulle wil net die diep bodemlose put waarin geld gedurig verdwyn verder gevul hê – maak nie saak wat die nagevolge vir die omgewing ens gaan wees nie, solank hulle NOU geld uit alles kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.