Shell-uitspraak is ʼn knou vir Wildekus

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Dringende interdik van vier omgewing- en menseregte-organisasies teen Shell om te verhoed dat die olie- en gasreus met seismiese opnames aan die Wildekus voortgaan, is Vrydag van die hand gewys. Shell het aangevoer sy planne is wettig en dat omvattende omgewingstudies gedoen is alvorens die projek van stapel gestuur is.

Die saak is Woensdag in die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) aangehoor. Shell sou reeds op dié dag met sy opnames aan die seebodem begin het.

Border Deep Sea Angling Association, Kei Mouth Ski Boat Klub, Natural Justice en Greenpeace Africa word deur die omgewingsregsfirma Cullinan & Associates verteenwoordig.

Volgens Happy Khambule, senior klimaat- en energieveldtogbestuurder by Greenpeace Africa, het die hof geweier om die interdik toe te staan omdat “onherstelbare skade aan mariene spesies” nie bewys kan word nie.

“Waarnemende regter Avinash Govindjee het gesê hy betwyfel of die aansoekers die eksplorasieregte, wat in 2014 toegeken is, sal kan laat hersien of tersyde kan laat stel (weens die hoeveelheid tyd wat reeds verloop het). Die aansoekers kon egter bewys dat hulle ʼn prima facie-vooruitsig het weens skynbare onvoldoende openbare deelname.”

Die aansoekers kon egter nie die regter oortuig dat daar ʼn redelike bewys van “onherstelbare skade” bestaan indien die interdik nie toegestaan word nie. Indien daar ʼn vertraging sou wees vir die seismiese opnames, is die “balans van gerief” tot voordeel van Shell. Hy het dus die aansoek met koste van die hand gewys.

Die aansoekers is teleurgesteld dat die hof die aansoek van die hand gewys het sonder om hul versoek toe te staan om terug te keer na die hof met verdere bewyse en getuienis van kenners. Die kostebevel is ook ʼn terugslag omdat die aansoek in openbare belang gedoen is om die omgewing en kusgebied te beskerm.

Die aansoekers het verwag dat hulle die geleentheid gebied sal word om verdere bewyse in te dien van onherstelbare skade wat aangerig sal word.

“Die aansoek moes uiters dringend hanteer word, as gevolg van Shell se optrede en die versuim van die minister van minerale hulpbronne en energie om op te tree. Dit was dus nie moontlik vir kenners om gedetailleerde verslae en beëdigde verklarings af te handel teen die tyd wat die aansoek ingedien is nie,” verduidelik Khambule.

Die aansoekers sal die uitspraak met hul regsadviseurs bespreek om te bepaal of aansoek om verlof tot appèl ingedien sal word.

“Ons sal voortgaan om die landswye weerstand teen Shell te ondersteun en alle regsopsies oorweeg om die maatskappy te verhoed om voort te gaan,” het Khambule bygevoeg.

“Shell en sy aandeelhouers behoort hulself te skaam,” sê John Luef, van die Border Deep Sea Angling Association. “Ons behoort almal ons beleggingsadviseurs en pensioenfondse aan te sê om uit Shell te onttrek. Dit is die enigste taal wathulle verstaan. Ons is uiters teleurgesteld met die uitspraak. Dit is egter nie die einde nie. Ons sal bly veg vir ons plaaslike inwoners, hul nalatenskap en die omgewing. Ons doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners om saam te staan en hierdie indringing en omgewingskadelike seismiese opname teen te staan – asook enige toekomstige mynbouplanne.”

Shell se bedrywighede wat vanaf Morgansbaai tot by Port St. Johns sal strek, sal ongeveer vyf maande lank duur.

“Die moontlike impak op die mariene omgewing van die Wildekus bly kommerwekkend,” sê Dave Bryant, die DA se skaduminister van omgewingsake, bosbou en visserye. “Dit is noodsaaklik dat die projek nou baie noukeurig gemonitor moet word om seker te maak dat enige veranderinge of impak op die kusgebied onmiddellik aangemeld word.”

Die DA neem kennis van betogings teen Shell se aktiwiteit landswyd die volgende paar dae. “Ons maan almal wat aan dié betogings gaan deelneem, om dit asseblief vreedsaam te doen en om diegene, wat by vulstasies werk en negatief geraak kan word deur direkte optrede, in ag te neem.”

Bryant sê die beskerming van die Wildekus se kwesbare mariene omgewing is uiters noodsaaklik. “Daar is vier mariene beskermde gebiede aan die kus en walvisse gebruik dié kuslyn om in die somer te kalf. Dit is nog nie duidelik watter impak die skietwerk op die mariene lewe gaan hê of die talle mense wat ʼn bestaan maak uit die sensitiewe omgewing nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Toffie ·

Dit is werklik ‘n groot teleurstelling dat Shell die saak gewen het, dis duidelik dat geld harder praat as bewaring.

Hendrik ·

Ek sal nie weer by Shell brandstof ingooi of self n koeldrank by shop koop nie.

Dirk Mostert ·

Ek sal! Ek is nie gebreinspoel deur “Extreme Green”nie.

Tanja ·

Ek is geskok dat regter Avinash Govindjee dit nie kan insien nie………

Shakespeare ·

Shell. Nou het jy jouself in die voet geskiet. Onbevoegde, korrupte kaders het julle die toestemming gegee. en julle buit dit uit nadat die kaders hulle “cut” gekry het.

Pieter ·

Die sleg anc kommuniste het lankal geld by shell gekry. Daar was klaar vir die anc regter gese wat die uit spraak moet wees. Die regters in die land is net so korrup soos die anc vir wie hulle werk

Misky ·

Jy haal die woorde uit my mond…… Daai geldjies is lankal aan ANC betaal en al gespend ook. Regter spreek net wat aan hom voorgesê word deur sy base

Mariana ·

Natuurlik gaan daar ‘n negatiewe impak om die omgewing wees. Maar hierdie maatskappye en die minister het vrede daarmee. Solank daar geld betrokke is sal die regering en Shell nie gehoor gee nie.

Dirk Mostert ·

Erg oordrewe en onwetenskaplik soos die veldtog teen skaliebreking.

johan ·

Dit is waar daar nou ‘n fyn lyn le tussen werkskepping en bewaring van ons see lewe en omgewing.
Wat gaan gebeur as daar dalk wel gas of olie reserwes is. Hoeveel kan die ekenomie baat en werk geskep word.

Di ·

So verkwansel die korrupte ANC Regering on land vir ‘n ‘n paar pennies. Als gaan net oor hoeveel geld hulle kan maak, GEEN berou vir dit wat hulle verwoes daarvoor.

Astrain ·

Leer by die trok situasie…blok die pad van die seismiese skip met…BOTE! Volgens internasionale wette moet hulle ook operasie stop as daar mariene soogdiere in die omgewing is, so nou is die tyd om te leer om dolfyne aan te keer na hulle kant toe…

annie ·

Hier is meer ter sake as wat die oog sien. Die regering is stil… te stil. En ander vingers in die koekie-blik of die geldlaai. Die metode is afgryslik. Was dit nie ook Shell/Nederland wat die skaliegas-projek in die Karoo aangevoor het en toe weer gestaak het nie?

Dirk Mostert ·

‘n Korrekte uitspraak! Die VSA onder Trump het onafhanklik geraak van buitelandse olie en gas. Hy het alle eksplorasie binne en buitelands aangemoedig. Ons het dieselfde skaliegas-formasie as die VSA en daar is potensiaal vir ten minste gas op die vastelandsbank. Lui Mosgas ‘n klokkie? Olie kan van gas gemaak word. Moet ons vir altyd olie en gas invoer teen al duurder pryse. Hoe goedkoper energie hoe beter vir ekonomiese groei en werkskepping. Die groenes voel nie ‘n duit vir S.A. se byna 50% werkloses nie.

Rudolph ·

Shell is nie daarop uit om die seelewe uit te wis nie. Dit is wat vissers doen. As ons werklik omgee vir die seelewe sal ons eerder seediere van ons borde verwyder

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.