Shivambu kry wind van voor oor sy ‘rassisme’ 

Floyd Shivambu (Foto: Siphelele Dludla/ANA)

Die ANC het Woensdag skerp gekap na die EFF se “blatante rassistiese nasionalisme”. Dit kom ná ʼn voorval waartydens Floyd Shivambu, die EFF se ondervoorsitter, betrokke was in ʼn “aanval” op Ishmail Momoniat, die tesourie se adjunk-direkteur-generaal.

Shivambu het ʼn storm ontketen toe hy Dinsdag kapsie gemaak het teen Momoniat se “herhaaldelike teenwoordigheid” in finansiële komitee- vergaderings. Hy het Momoniat beskuldig dat hy ‘un-African’ is.

Shivambu het glo gesê: “Ek dink hy ondermyn Afrikane, hy neem nie die direkteur-generaal, die minister van finansies of die adjunkminister van finansies ernstig nie. Hy dink hy is meerderwaardig. Hy neem al die besluite en is altyd hier in die parlement asof hy alleen die nasionale tesourie is. Hy moet fokus op dít waarop hy moet.”

Die tesourie het intussen gereageer en gesê Shivambu se opmerkings dui op ʼn diep onbegrip van die werking van die tesourie. Die tesourie het aangedui dat Momoniat al 23 jaar by die tesourie werk en dat hy tien jaar al die posisie van direkteur-generaal vir belasting en finansiële sektor- beleid beklee.

Die Ahmed Kathrada-stigting het ook uitgevaar en gesê hy veroordeel die “diep rassistiese, polities roekelose en hoogs uitlokkende opmerkings” wat deur Shivambu gemaak is.

Neeshan Balton, die uitvoerende direkteur van die stigting, het gevra of die EFF en Shivambu in effek sê dat Momoniat se burgerskap minder werd is net omdat hy nie ‘African’ is nie?

Die ANC het laat Woensdagaand ʼn verklaring uitgereik waarin die party Momoniat verdedig en het Shivambu se opmerkings as “grensend aan erge rassisme” bestempel.

Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris generaal, het gesê sy opmerkings grens aan erge rassisme en saai verdeeldheid.

“Ek ken Momoniat al vir langer as vier dekades en hoewel ek sterk met sy sienswyse oor ons ekonomie se ontwikkelende staat verskil, kan ek dit nie toelaat nie dat hy gevra word om ʼn vergadering te verlaat net omdat hy ʼn Indiër is.”

Duarte het gesê Shivambu se tirade opper noemenswaardige vrae oor die vlak van sommige lede van parlement se begrip van hul verantwoordelikhede, veral om die Grondwet te beskerm en te verdedig.

“Momoniat is en sal nooit rassisties wees nie en ek sê dit sonder vrees van teëspraak. Dit is bekend dat hy deel was van die ondergrondse struggle om vir die Shivambu’s van die wêreld die vryheid te gee om hul opinies te lug, al is dit nou uit ʼn oningeligte posisie.”

Shivambu het glo sedertdien sy opmerkings verdedig en gesê dit het nooit oor Momoniat se ras gegaan nie, maar oor sy ondermyning van ‘African’-leierskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

What a joke! ·

En die einste floyd is n mosambieker as ek nie verkeerd is nie!How un South African…

Akademi Buktu ·

Dit grens nie aan erge rassisme soos die ANC se kritiek dit wil hê nie. Dit IS erge rassisme, en boonop nie vreemd uit Shivambu se mond nie.

Jack Klok ·

Die grootste ondermyners van “African” leadership is African leaders. Mense soos Shivambo is vreeslik liggeraak omdat Afrrican leadership nie die nodige respek ontvang nie , maar hulle moet nog leer dat respek verdien moet word, jy kry dit nie bloot omdat jou vel swart is nie.

As ek so kyk na al die ondeurdagte optrede, korrupsie en bedrog van swart leiers verdien nie een van hulle respek nie.

Annie ·

Was dit nie ń Indier maar ń gebore en getoë blanke het die ANC hul monde styf toegehou en hy kon sê net wat hy wil.

Heinrich ·

Ek stem Annie; dit bewys ook die ANC se eng siening hieroor!

Elize ·

Malema het hierdie kader mooi groot gemaak. Niks gaan van dit kom nie want die rooi overalls kan sê en doen net wat hulle wil. Dit is om van siek te word

Alida 2 ·

Meskien moet ek ook in die toekoms, per geleentheid, ‘n rooi oorpak aantrek. Dan kan ek sê wat ek wil en skotvry daarmee wegkom.

Casper Labuschagne ·

Wanneer die ideologië van nasionalisme, postkoloniale swart bewussyn asook marxisme op dieselfde brandpunt gefokus word, kom daar iets gruweliks na vore.

Landi ·

Ek wil net graag weet hoekom het niemand nog ooit vir Malema en sy trawante aangekla oor rassime nie. Waar is die uwe Agriforum nou

Gerhardus ·

Mmmm Landi, ek neem aan jy praat van AfriForum (of dalk het hulle intussen met AgriSA saamgesmelt, en net jy weet daarvan). AfriForum werk baie hard om rassisme teen ons mense te beveg, en was die laaste ruk gereeld in die nuus oor die goeie werk wat hulle doen. As dit nie so was nie, sou hulle nie soveel teenkanting en kritiek van die linkse pers gekry het nie.

honourable member ·

Sal graag wil weet of hy ook tronkstraf gaan kry vir sy rassistiese uitlatings of geld dit net vir sekere groepe.

Oom Kalahari ·

Die tyd kom nader waar daar onder mekaar gaan geneul word oor wie was eerste in Suid Afrika ( Swart, bruin of Indier) en gaan ongemklik raak oor Mag, posisie, rykdom en grond. Rassisme is onder elke kleur en groepe en hoor dit gereeld onder mekaar, solank dit net nie van die blanke gehoor word nie dan is dit soos ‘n doring in die vlees. Shivambu is maar gewoond om sy tirades op almal te wil afdruk en afdwing as beterwetene.

Haibo ·

Gelukkig was dit nie ‘n WITTE teenoor wie hy rassisties was nie, want as hy rassisties teenoor ‘n BLANKE opgetree het het hy absoluut NIKS oorgekom nie, inteendeel hy sou ‘n verhoging en ‘n medalje gekry het.

Magda ·

Maak n voorbeeld van hom- sluit hom toe vir rassisme, rassisme het nie kleur nie Shivambu maak dit n kleur

John ·

Waarheid is ‘n snaakse ding. Wanneer dit nie op die voorgrond is nie en uit vreemde oorde opklink, lyk dit verkeerd, maar selfs ‘n stoute kind kan jou soms met sy insig verbaas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.