Shoprite herroep dié rooiworsies oor listeriose

shoprite

Argieffoto

Die Shoprite Groep het Vrydag Farmer’s Deli se rooi Weense worsies, wat vir die groep verpak is, herroep.

Dit volg ná ʼn kennisgewing vroeër die dag van ʼn praktisyn vir omgewingsgesondheid in die Wynlande-distrik, nadat Listeria monocytogenes in ʼn aanvanklike toets van die rooiworsies geïdentifiseer is.

Shoprite het gesê verdere toetse is nodig om te bevestig of gevaarlike vlakke van die listeriose-bakterie teenwoordig is, en gesê dié toetse kan nog ʼn verdere vyf werksdae duur.

Shoprite het al Farmer’s Deli se rooiworsies en gerookte Weense worsies as ʼn voorkomingsmaatreël van sy rakke verwyder tot die produkte goedgekeur word.

Volgens Shoprite is Listeria monocytogenes nie dieselfde as Listeriose ST6, wat deur die departement van gesondheid met noodlottige listeriosegevalle in Suid-Afrika verbind is nie.

Shoprite het gesê die Listeria monocytogenes is slegs in ʼn enkele aflewering gevind en word nie met Listeriose ST6 van Enterprise Foods verbind nie. “Die vervaardigingsaanleg waar dié aflewering verpak is, het ʼn volledige skoon rekord van veiligheidstoetse verskaf wat toetse vir listeriose insluit.”

Die Shoprite Groep versoek besorgde klante om enige aankope van Farmer’s Deli 500 g en 1 kg rooiworsies en gerookte Weense worsies terug te bring vir ʼn volledige terugbetaling. Bewys van aankope sal nie vereis word nie.

Shoprite het gesê sy span voedselwetenskaplikes werk saam met verskaffers en die departement van gesondheid om alles in sy vermoë te doen om die uitbreking van listeriose verder te beperk.

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het verlede week aangekondig dat die bron van die uitbreking van listeriose, wat 180 persone se lewens geëis het, ʼn Enterprise-voedselvervaardigingsaanleg in Polokwane is.

Listeriose is ook met ʼn ander Enterprise-aanleg in Germiston aan die Oos-Rand en ʼn Rainbow Chicken-aanleg in die Vrystaat verbind, maar verdere toetse is nodig, aangesien die tipe nog nie bekend is nie.

Tiger Brands, namens Enterprise Foods, het alle produkte herroep wat met die listeriose-uitbreking verbind word, alhoewel die maatskappy ook sy eie toetse doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eish ·

Die slegte nuus uit die kouevleisbedryf hou net nie op nie. Dié huidige uitbraak van listeriose is blykbaar die grootste nog ter wêreld.
Voeg daarby dat ons 105ste is op n lys van die 150 gelukkigste lande ter wêreld, kan dit seker gesê word dat niemand ter wêreld n bloumaandag soos n Suid Afrikaner kan ervaar nie. Hoe bly ons positief? Sê eenvoudig vir jouself daar is stof tot dankbaarheid want jy kon n verkoopsverteenwoordiger vir Enterprise gewees het!

erik ·

herroep het? die eerste sin van die berig maak nie sin nie…

Sune van Heerden ·

Dagsê Erik

Daar het per ongeluk ‘n ekstra woord ingeglip, ons wysig die berig.
Dankie!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Manie Strydom ·

As daar nog mense is wat geproseseerde vleis koop en eet dan is dit maar n geval as die kop dom is moet die lyf ly.

Rudolph van Wyk ·

Verwerkte vleis produkte is deur die wereld gesondheids organisasie verklaar tot ‘n klas 1 karsinogeen. Dit is dieselfde klas a sigarette. Vars vleis is ‘n klas 2. Daar is oorweldigende bewyse dat verwerkte vleis ongeskik is vir menslike verbruik. Gaan kyk gerus self op die WHO se webtuiste

Annelize ·

Die beste is…bky weg van enige van die verwerkte kosse wat MDN bevat. Almal is nou in die weegskaal…alle rooiworsies en polonies is ñ no-no…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.