Shoprite: ‘Net nege klante geraak deur roekelose krediet’

shoprite

Argieffoto.

Die Shoprite-groep het Woensdag in ʼn kort verklaring gesê hulle bevestig die Nasionale Verbruikerstribunaal se bevinding dat die groep roekeloos krediet uitgeleen het, maar dat dit net “nege uit duisende klante” geraak het.

Volgens die kleinhandelreus het die saak net betrekking op kredietooreenkomste wat tussen Junie 2013 en Junie 2014 met nege klante van die groep se filiaal, OK Meubels, gesluit is. Die groep het ook gesê die betrokke verbruikers het hulle ekstra krediet ten volle vereffen.

Shoprite is met R1 miljoen beboet nadat die tribunaal bevind het OK Meubels het roekeloos krediet aan van sy klante verskaf. Die tribunaal het Shoprite opdrag gegee om op eie koste ʼn skuldberader aan te stel wat kan kyk of die betrokke verbruiker oorbelas is wat skuld betref.

Nomsa Motshegare, hoof van die Nasionale Kredietreguleerder (NKR), het gesê Shoprite het die Nasionale Kredietwet oortree omdat dit onbevestigde inkomste van ʼn gade of lewensmaat in ag geneem het, wanneer daar bepaal is of ʼn verbruiker die vermoë het om ʼn lening terug te betaal. In ander gevalle is inligting van die kredietburo opsetlike geïgnoreer, wat aangedui het die klante is reeds te diep in die skuld.

Motshegare het gesê die beslissing volg ná ʼn ondersoek van die NKR, wat bevind het die Shoprite-groep het kredietooreenkomste met verbruikers aangegaan sonder om ʼn redelike en objektiewe beoordeling te doen van die verbruiker se vermoë om die lening te bekostig.

Shoprite het in die verklaring gesê die Nasionale Kredietwet is ʼn komplekse stuk wetgewing, soos wat die tribunaal self ook erken het, maar dat die kleinhandelgroep se kredietverleningskantore tans aan al die wet se streng maatreëls voldoen. Die groep het ook gesê hulle is tevrede dat die prosesse wat hulle nou volg die beste belange van hul klante dien en in ooreenstemming met die wetgewing is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Opsommend dus n gejaag na wind want niemand het niks verloor nie. Pleks dat hul aandag gee aan die SAA en Eskom .

Willem Grobler ·

Dit is verdomp belaglik – almal het stemreg maar sommige moet soos kinders beskerm word. ‘n Volwasse mens besluit tog seker self hoeveel skuld jy kan bekostig. Hier in La-la-land word maatskappye egter verplig om dit vír party mense te doen…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.