Shoprite se klante-data geteiken

Tot dusver is nog geen misbruik of bekendmaking van enige inligting aangemeld nie. (Foto: Shoprite)

Forensiese ondersoekers en dataveiligheidskenners ondersoek die oorsprong, aard en omvang van ʼn sogenaamde datablootstellingsvoorval wat klante raak wat geld tussen en in Eswatini, Namibië en Zambië oorgeplaas het.

Die Shoprite-groep sê bykomende veiligheidsmaatreëls is reeds ingestel om verdere dataverliese te verhoed. Dit sluit in die wysiging van die verifiëringsproses, bedrogvoorkomings en planne om klante se data beter te beskerm.

Die netwerke in gebiede wat geraak is, is reeds ingeperk.

Die blootstelling sluit in die name en ID-nommers van klante, maar geen finansiële inligting of bankrekeningnommers nie.

Shoprite het ook reeds die Inligtingsreguleerder oor die voorval ingelig en die ondersoek na die voorval duur voort.

Die groep waarsku dat die data deur die kuberaanvallers gebruik kan word en klante is aangeraai om voorsorgmaatreëls te tref. Hy het ook ʼn beroep op mense gedoen om Shoprite of die betrokke owerhede dadelik in kennis te stel, sou enige ongemagtigde bedrywighede plaasvind.

“Die groep vra opreg om verskoning aan diegene wat geraak word,” lui ʼn verklaring van die Shoprite-groep.

Alle klante wat geraak word, sal ʼn SMS ontvang by die selfoonnommer wat tydens die transaksie aan Shoprite verskaf is. Tot dusver is nog geen misbruik of bekendmaking van enige inligting aangemeld nie, maar die web word dopgehou vir enige verwikkelinge wat met die voorval kan verband hou.

Maroela Media het vroeër berig twee derdes van maatskappye wêreldwyd loop een of ander tyd deur onder kuberkrakers en verloor in die proses miljoene rande om hul data terug te kry.

Die Universiteit van Mpumalanga (UMP) het verlede jaar onder ʼn moontlik katastrofiese kuberaanval deurgeloop wat dié universiteit nagenoeg R100 miljoen sou kos. Danksy genoegsame voorkomende maatreëls in sy kuberveiligheid het die boosdoeners slegs R3 000 gebuit.

ʼn Kuberaanval is ook verlede jaar op die nasionale departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling se IT-stelsel geloods. Dit het veroorsaak dat die departement nie broodnodige bedrywighede, soos uitbetalings aan begunstigdes wat maandeliks kinderonderhoud ontvang, kon voortsit nie.

Miljoene van Dis-Chem se klanterekords is ook onlangs gebuit nadat ʼn kuberkraker toegang tot die inligting verkry het deur ʼn derdeparty diensverskaffer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Botterblommetjie ·

Ek kry ‘n oproep, “is this Mrs ** *********”, ek antwoord “Yes” …”please repeat your surname”….. huh, jy dan so pas my voorletter en van gesê, ek antwoord toe, “You phoned me, your repeat it yourself. Nogal van Standardbank glo af…. en opdringerig…. ek net gesê “not interested, and no” —- al gehoor hulle neem jou stem op.. besef dat mens spontaan maklik in die moeilikheid kan trap, want ons is altyd hulpvaardig en vriendelik. Hulle “kuberkraak ” jou sommer oor die foon deesdae….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.