Shoprite-werkers staak landwyd

shoprite

Argieffoto.

Duisende werkers by Suid-Afrika se grootste kleinhandelaar, Shoprite, sal Vrydag staak oor ʼn tekort aan “geslagstranformasie” en veiligheid vir vrouewerknemers.

Die vakbondfederasie Cosatu en die kommissie vir geslagsgelykheid (CGE) steun die beskermde staking waarby 30 000 lede van die South African Commercial, Catering and Allied Workers’ Union (Saccawu) betrokke is.

Die CGE het Donderdag gesê hy het kennis geneem van mediaberigte wat aandui dat ʼn landwye staking vandag deur Saccawu-lede by Shoprite gehou sal word. “Die CGE steun die staking. Hierdie ondersteuning word gerugsteun deur die kommissie se eie studies oor geslagstransformasie in die kleinhandelsektor. Die CGE glo daar is nog die minimum gedoen om aandag te gee aan geslagstransformasie in die werkplek.”

Die kommissie het gesê hy het die departement van arbeid versoek om onmiddellik ʼn ondersoek te doen na Shoprite se versuim om aandag te gee aan kwessies in die werkplek wat die welstand van vrouewerkers affekteer.

“ʼn Gebrek aan veilige en betroubare werknemervervoer vir vroue wat lang ure werk is ʼn reuseprobleem. Vroue word aan hul eie lot oorgelaat en word sodoende blootgestel aan aktiwiteite wat ʼn negatiewe impak op hul menswaardigheid het.”

Die CGE het gesê geslagstransformasie en die aantal vroue wat in bestuursvlakposte aangestel word, is steeds ʼn groot probleem in die Suid-Afrikaanse werkplek.

Saccawu se lede eis ook dat onlangse veranderinge in werksure omgekeer moet word en dat werkers wat ontslaan is omdat hulle geweier het om by die nuwe rooster in te val, weer aangestel moet word.

Ander eise sluit in gewaarborgde minimum werksure vir deeltydse werknemers en veilige vervoer vir werkers wat nagskof werk. Saccawu het gewaarsku sy lede sal op ʼn “volskaalse staking” gaan as Shoprite, wat 2 689 afsetpunte in 15 lande bedryf, sy eise ignoreer.

Shoprite het intussen in ʼn verklaring bevestig dat ʼn staking deur werknemers vandag dienste by Shoprite- en Checkers-winkels kan beïnvloed. “Die groep is teleurgesteld dat klante moontlik nie die vlak van diens sal ervaar wat die groep graag wil lewer tydens die spitstyd van die feesseisoen nie, maar die groep respekteer werknemers se reg om op ʼn vreedsame en wettige manier te betoog,” lui die verklaring.

Shoprite het gesê die groep ag dit as ʼn prioriteit om die besware van die werknemers te bespreek en op gepaste wyse op te los. “Gebeurlikheidsplanne is beraam om winkels oop te hou en handel so normaal as moontlik te laat voortgaan.”

Cosatu het op sy beurt gesê hy steun die een dag staking ten volle. Sizwe Pamla, woordvoerder van Cosatu, het ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om solidariteit te toon met die stakende Shoprite-werknemers.

“Ons kan nie bekostig om ons feesseisoen te vier terwyl die mense wat aan ons ʼn diens lewer by die meeste van hierdie kleinhandelaars verkeerd behandel word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Shirley ·

Dis baie eenvoudig, as jou werkers wil staak in die besigste tyd van die jaar, voel hulle vir jou en jou besigheid net mooi niks. Laat hulle gaan, daar is meer as genoeg mense wat werk soek en bereid is om hard te werk.

KG ·

Klink vir my asof Shoprite ook nie veel vir hul veiligheid voel nie…..dit kom van beide kante af.

Sam ·

Hulle staak vir veiligheid en om menslik behandel te word. Terwyl ons lekker sit en tv kyk veilig in ons huise teen 7 uur die aand werk hulle steeds om 3 ure later by die huis te kom met publieke vervoer. Dis as hulle by die huis kom veilig en dit vir R3500 per maand.

Menslikheid kos niks Shirley en Lizl, doen bietjie die moeite en vra daai vrouens hoe laat hulle by die huis kom in die aand. Vra hulle of daar vriendinne van hulle is wat al verkrag was of vermoor was agv van die omstandighede. Verwonder my of julle die bybel lees.

Meraai ·

Stem saam met jou Sam…… Spar wekers moet die selfde doen,hulle wrk ook in die selfde omstandighede!!!

Sula ·

My werkgewer sorg nie in die aande vir my veiligheid as ek moet huis toe gaan nie, hoekom moet Shoprite verantwoordelikheid neem vir hierdie mense se vervoer? My brandstof, motor se onderhoud en versekering word nie deur my werkgewer betaal nie. Alle werknemers het die volste reg om veilig tuis te kom, maar hierdie mense moet hulle sienswyse van hierdie situasie verander. Hulle moet volgens my eintlik staak vir meer geld – sodat hulle dan daardeur hulself in ‘n posisie plaas om sélf verantwoordelikheid te neem vir hul veiligheid. Nie net wanneer hulle werk nie, maar ook in hul privaat tyd.

AP ·

Stem absoluut saam Sam! Ek het al baie gewonder of die personeel saans veilig tuis kom en nog altyd gedink veral oor die kerstydperk dat vervoer deur die maatskappy vir hulle gereel word, dit is tog net menslik!! Dan wil ek net dankie se aan almal by die kettingwinkels vir julle diens en opofferings!

Elizabeth ·

Gelukkig is daar baie ander winkels waar ons right kan shop!! Wat van diskriminasie teen witmense? Waar sien jy deesdae ‘n witmens by ‘n til in enige kettingwinkel? En die skandalige salarisse!!! Sal graag wil weet wat verdien die hoës en watter christmas bounusse kry hulle vanjaar … HOE leef mens op R3500 per maand??

susan ·

Plaaswerkers word by hulle huise afgelaai betaal geen elektrisiteit geen huur ek sê lankal wat van die groot maatskappye hulle voel ‘n veer. Tog word ons baie op neergesien en vermoor waar bly Shoprite Checkers se hoëlui in paleise Ons betaal vir elke familie lid se begrafnis sien om na die wel en wee van die mense wat vir ons werk EN?

JO-anli ·

Ek moes vir 14 jaar op dieselde salaris werk. Teen R3000 pm Vanaf 8 in oggend tot 10 in aand gesorg vir my eie vervoer en etes. Onmenslikke ongeluk by werksplek.gehad. werknemer net skouers opgelug. Werk of loop. Geld wat hy ingekry het was al wat tel. Bedank nou beter af. Wel met gesondheidsprobleme, maar nie die ongevoelige ingeskiktheid nie, want hy was al mens wat tel . Totaal gevoelloos. Nie meer inkomste nie werk nie weer vir narcisis nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.