Shoprite word ‘groener’ met sonkragopwekking

Shoprite Kroonstad (Foto: Verskaf)

Shoprite beoog om in die volgende vyf jaar sonkrag vir 25% van sy bedrywighede te gebruik.

Luidens ʼn verklaring deur dié kleinhandelgroep uitgereik, het hy reeds tussen Februarie en September vanjaar 22 nuwe sonkrag-PV-terreine aangeskaf, wat sy sonkragkapasiteit meer as verdubbel het. Dit is in ooreenstemming met die groep se strategie om klimaatsverandering te beveg.

Tesame met die sonpanele, beoog die groep om ook ’n aansienlike aantal sonkrag-aangedrewe verkoelde vragmotors en sleepwaens aan te skaf.

Volgens Shoprite sal sy planne om sonkrag en ander hernubare krag te installeer, help om sy klimaatsveranderingdoelwitte en -teikens te verwesenlik, spesifiek om teen 2050 geen kweekhuisgas vry te stel nie.

Checkers Fairbridge Mall (Foto: Verskaf(

Sanjeev Raghubir, Shoprite se volhoubaarheidsbestuurder, sê Shoprite is van plan om sy indirekte kweekhuisgasvrystellings te verminder deur meer van hernubare energie gebruik te maak. Die groep wil ook voortdurend energiedoeltreffendheid verbeter om sy elektrisiteitskoste te bestuur, wat nou al byna R3 miljard per jaar beloop.

Volgens die verklaring verteenwoordig die nuwe PV-sonkragstelsels tot 29 280 MWh sonkrag per jaar, wat ’n 138%-toename in sonkrag is. Hierdie uitset, gegenereer deur sonpanele wat oor die ekwivalent van 14 rugbyvelde versprei is, kan tot 2 674 huishoudings vir ’n jaar van krag voorsien en sodoende die druk op die nasionale kragnetwerk verlig.

Die persele waar die nuwe sonpanele in werking gestel word, sluit Shoprite-winkels in Ficksburg, Bethlehem, Kroonstad, De Aar, Bronkhorstspruit, Brakpan, Vryburg, Delft, Worcester, Beaufort-Wes, die Paarl, Kraaifontein en Ondangwa in Namibië in. Checkers-winkels met nuwe sonkragstelsels sluit takke in Welkom, Virginia Circle, Zevenwacht, Stellenbosch, Protea Heights en Checkers Hypers in Sandown en Sun Valley in.

Die groep het nou 41 PV-sonkragstelsels by twee verspreidingsentrums (Basson en Centurion), by 38 supermarkte in Suid-Afrika en Namibië, asook in ’n parkeerterrein by sy kantoor in die Wes-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

kaplyn ·

Nie moontlik iets positief nie, maar defnitief iets positief.

JohanR ·

Soos die ANC aangaan sal die land nie by 2050 22 uur elke dag in donkerte wees nie?

Eclectus ·

“Kom ons raak ontslae van Eskom” onder die dekmantel van “Kom ons beveg klimaatsverandering”.

Francois Le Cochon ·

Sonkrag klink na ‘n oplossing vir beurtkrag, maar dit is net te duur. ‘n Basiese stelsel om net internet en TV aan die gang te hou, sal sowat R15,000 kos. Batterye (R6,000) se leeftyd is dan so 3 jaar. LiFePo (Lithuim Iron Phosphate) batterye sal wel langer hou, maar sal genoemde stelsel se prys na R30,000 verhoog. Sonkrag vir huis gebruik is eintlik net vir dele waar daar geen Eskom/Munisipale krag is nie.

Juliet ·

Bittersoet, want net nog ‘n spyker in Eskom se doodskis…. Hoe meer besighede onafhanklik raak, hoe minder betalende kliënte bly oor. Soos wat mens ry sien jy sonpanele op Malls en fabrieke se dakke. Die res van ons pleps gaan maar net meer moet betaal vir ons krag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.