Shosholoza Meyl-passasiers moet bus ry ná kabeldiefstal

Shosholoza Meyl (Foto: @ServicesMain/Twitter)

Passasiers op die Shosholoza Meyl-trein moes Vrydag die res van die reis per bus aflê ná oorhoofse kabels tussen Kaalfontein en Muldersvlei gesteel is.

Die trein was van Johannesburg na Kaapstad op pad.

“Prasa betreur die ontwrigting van die langafstanddiens van Johannesburg na Kaapstad,” het die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) in ʼn verklaring gesê. “Die reis het onverwags by Wellingtonstasie tot ʼn einde gekom weens die diefstal van oorhoofse kabels tussen Kaalfontein en Muldersvlei.”

Thami Mabhena, die DA se adjunk-skaduminister oor vervoer, veroordeel die voorval as ʼn “toonbeeld van die ANC-regering se onvermoë en gebrek aan toewyding om noodsaaklike kwessies in die spoorwegbedryf op te los.”

Hy sê die departement van vervoer het opnuut sy minagting getoon vir die welstand en gerief van Suid-Afrikaanse burgers. “Die beeldpoetser-oefening rondom die Shosholoza Meyl se terugkeer het in ʼn voorspelbare debakel ontaard en stel ʼn hoë vlak van onbekwaamheid en onbevoegdheid ten toon.”

Mabhena sê die DA is nie verbaas oor die gebeure nie, gegewe die ANC-regering se fokus op openbare betrekkinge eerder as om die worteloorsake van spoorweginfrastruktuur-uitdagings te takel. “Die DA is daartoe verbind om infrastruktuur-aanvulling, nuwe spoorweë en verhoogde instandhoudingsbegrotings te prioritiseer. Ons onderneem om spoorweginfrastruktuur te beskerm om voorvalle soos kabeldiefstal te voorkom wat passasiers se lewens in gevaar stel.

“Die DA versoek aanspreeklikheid en deursigtigheid in die bestuur van staatsfondse, veral in entiteite soos Prasa, waar wanbestuur duidelik is. Ons sien uit na die 2024-verkiesings, vol vertroue dat ʼn nuwe regering die nodige veranderings sal bring om ʼn betroubare en veilige spoorwegvervoerstelsel vir alle Suid-Afrikaners te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Theuns ·

Wat ‘n gemors deur onbevoegde oorbetaalde ramaposa cadres.
Ramsposa se cadres wat hy so beskerm vernietig alles.
RMG- Ramaposa Must Go!

Karina ·

Jare terug PE na Vereeniging, het dieselfde ondervind. Ons moes 11vm vertrek uit PE, het eers die volgende dag 3nm in Vereeniging aangekom omdat ons moes oorgeplaas word op busse. Ek het my gerug ge-eis, ek het nie vir ‘n bus betaal nie maar vir ‘n treinreis. Hulle het terug betaal.

JohanR ·

Hoe veilig is jou lewe op daai trein? Ek weet nie of ek rustig sal kan slaap of self my kajuit met my goed in sal kan los. Hierdie is die ANC se Suid Afrika waar skelms self R700 sal betaal om jou te rob! Ek het al die jare in die ou Rhodesia, met Rhodesian Railways gery en het nooit onveilig gevoel nie.

Niklaas ·

Ek wou nog graag geld spaar vir daardie duur treinrit , maar nou is ek nie meer so seker of begerig daartoe nie. Wonder net of al daardie passasiers dit kon bekostig en of weldoeners fondse geskenk het , want daai treinkaartjies is nie goedkoop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.