Shosholoza Meyl-treindiens betyds vir Kersfees hervat

(Argieffoto: Facebook)

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) gaan sy langafstand-treindiens Shosholoza Meyl net betyds vir Kersfees hervat.

Dié diens is in Maart vanjaar opgeskort weens die Covid-19-pandemie en die bedryfs- en logistieke probleme wat daarmee gepaard gegaan het.

“Die kansellering het ʼn negatiewe uitwerking op langafstand-spoorvervoer gehad en ons lojale kliënte is erg verontrief,” lui ʼn verklaring van Prasa.

“Gegewe die hoë verkeersvolumes tydens die feestyd, asook padsterftes, bied Shosholoza Meyl aan mense ʼn alternatiewe, veilige en bekostigbare manier van langafstandreis wat ook opeenhoping op ons paaie sal help verminder.”

Die eerste treine vertrek op 15 Desember na bestemmings soos Oos-Londen, Johannesburg, Gqeberha (Port Elizabeth), Bloemfontein en Musina.

Volgens Prasa sal spesiale fokus geplaas word op verbeterde kliëntediens, verbeterde veiligheid- en gesondheidsmaatreëls vir werkers en pendelaars, die sifting van mense voor ʼn reis, asook die handhawing van sosiale afstande en sanitering voor vertrek, op die roete, en waar passasiers afklim.

Die agentskap sê beskikbare plek is reeds beperk en reisigers word aangeraai om hul besprekings so vroeg moontlik te maak.

Prasa het ook mense bedank vir hul voortgesette lojaliteit en steun en sê hy sien daarna uit om passasiers weer aan boord te verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Swerwer ·

Weet nie so mooi van die Veiligheidsaspekte nie. Sal ‘n groot waag kans wees om te neem.

Eric ·

So ver ek kan onthou is daar SAPD beamptes van Prasa op alle hooflyne gewees voor die Covid-19 pandemie

Swerwer ·

Dit is juis die probleem, die SAPD kan nie eens vertrou word nie. Voor hul by die wa uitkom waar jy in is, is jy bokveld toe soos dit deesdae in ons land gaan.

Petrus ·

Swerwer, een rytuig is spesiaal ingerig vir polisie wat die hele rit saamry. Dit is dus absoluut veilig.

Swerwer ·

Diè wat gaan ry, geniet dit. Daar is nie ‘n manier wat ek my lewe waag nie, SAP of nie.

Francois ·

Waarborg : Klim met jou bagasie op, en klim af sonder jou bagasie…

Shakespeare ·

Niks fout met die bestuur vd Shoselosa nie. Ek het jare en jare gelede die treinrit na Durban baie geniet……maar met die krioelende misdadige kaders sit ek nie weer my voet op die trein nie. Jy sal nog so lekker klikkitie klak dan is daar nie meer n treinspoor nie.

Jedi Knight ·

Ek het gedurende die laaste 7 of 8 jaar al 3 keer met die Shosholoza Meyl gery en op hom geslaap. Al 3 kere was baie lekker. Maar moenie vir my glo nie. Glo eerder diegene wat nog nooit met hom gery het nie.

Mariana ·

Laaste Shosoloza wat ek gesien het was in ‘n haglike toestand, totaal oorlaai. Mense het by deure en vensters uitgehang en sommer so op trein gekom ook. Oumense moes op vuil vloere gesit en geslaap. Een lang stinkende trein.

Mallie ·

Dis baie goeie nuus. Daar is niks lekkerder as n treinrit nie, veral nie as jy Kaap toe gaan nie. Net jammer die treine is nie meer op tyd nie.

Dries ·

Baie moeilik om te glo dat treine weer gaan loop. Wonder of spoorlyne geinspekteer is? Is daar nog spoorlyne? Sinjale? Personeel? Hierdie stuur af op ‘n ramp. Watch this space!!!

Sandra ·

Ek het nou gedink die is my antwoord om tenminste goedkoop en in een stuk by my suster in Oudtshoorn te kom. Ek het hulle gebel. Hulle roetes is heel snaaks. Johannesburg, Kimberley. As ek nou reg gehoor het, nie na Cape Town of Durban nie.

SjN ·

En die blou trein uit diens weens menslike nalatigheid, en die drywers sit met volle betaling by die huis.

Eric ·

Ek stem saam dat padverbruik, sterftes op paaie gaan afneem as trein dienste op hooflyne ingebring gaan word.
Wanneer kom Kaapstad en Durban in werking.
Prys gewys wat gaan pryse wees in rigting van Oos London en Port Elizabeth

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.