Showmax-dokkie vertel Hannah Cornelius-verhaal

Hannah Cornelius. (Foto: Facebook)

Tien maande ná die grusame moord op die 21-jarige student Hannah Cornelius, het haar gebroke ma, Anna, by Scarborough in die Wes-Kaap verdrink.

Hannah se pa, landdros Willem Cornelius, en haar outistiese broer, Dries, is alleen agtergelaat om die hartseer van Hannah se dood op 27 Mei 2017 te verwerk. Dié moordsaak en die nadraai van die tragiese gebeure het wêreldwyd opslae gemaak.

Die drie mans wat Hannah op Stellenbosch ontvoer, verkrag en vermoor en haar vriend, Cheslin Marsh, ernstig beseer het, is in November 2018 in die Kaapstadse hooggeregshof gevonnis.

Vernon Witbooi, Geraldo Parsons en Eben van Niekerk is skuldig bevind op aanklagte van roof, ontvoering, verkragting en moord. Hulle is elk lewenslange tronkstraf opgelê.

ʼn Vierde man, Nashville Julius, is skuldig bevind op aanklag van roof en ontvoering. Hy is tot 22 jaar tronkstraf gevonnis. Julius het van die toneel gevlug ná die groep mans Hannah en Cheslin aangeval en beroof het.

Die nuwe Showmax-dokumentêr, Last Blue Ride: The Hannah Cornelius Story, gee die besonderhede van Hannah se laaste oomblikke in die blou Citi Golf wat haar ouma vir haar present gegee het.

Hannah en Cheslin is aangeval toe hulle buite Cheslin se woonstel in die parkeerterrein in die motor sit en gesels het. Sy het daarop aangedring om hom huis toe te neem nadat hulle mekaar in Stellenbosch in ʼn kuierplek raakgeloop het.

Die mans het hulle met ʼn mes en ʼn skroewedraaier gedreig en met hulle in die motor rondgery voor hulle beroof is.

Cheslin is met bakstene aangerand en vir dood agtergelaat. Hy het die aanval wonderbaarlik oorleef, maar het ernstige kopbeserings opgedoen en is na die aanval doof in een oor gelaat.

Die aanvallers het daarna met Hannah weggery en haar in ʼn verlate plek om die beurt verkrag. Hulle het daarna met haar na ʼn wynplaas gery waar hulle haar in die nek gesteek en sy gesterf het.

Cheslin vertel in die dokumentêr presies wat hy alles onthou van die aand toe hy so erg aangerand is dat hy sy gehoor in sy een oor verloor en sy blouoog-blondekopvriendin gesterf het.

Die dokumentêr is smaakvol aangepak, met besonderhede oor Hannah se verkragting wat onder meer uitgelaat is uit respek vir haar familie.

Dit word ondersteun deur kringtelevisiebeeldmateriaal en ʼn dramatisering van die aand se gebeure, asook ʼn vertelling deur regisseur en joernalis, Anthony Molyneaux. Daar is ook beeldmateriaal van Hannah se gedenkdiens en hofsaak, waar daar onthul is dat die aanvallers deel van een van die berugte nommer-bendes was.

“As ʼn misdaadjoernalis dek ek tientalle wreedaardige misdade en die hofsake wat daarop volg. Hannah se moord het my egter meer beïnvloed as ander,” sê Molyneaux.

“Suid-Afrikaners is ook deur die gebeure aangeraak en miljoene mense het die saak gevolg. Hannah se lewe sal, ten spyte van die morbiede besonderhede, egter bly skyn en sy word openbaar as ʼn slim, sterk, jong vrou wat baie geliefd was. Die dokumentêr het ten doel om haar nagedagtenis te vereer.”

Anna en Hannah Cornelius in gelukkiger tye. (Foto: Verskaf)

ʼn Familielid vertel ook van die uitwerking wat die tragiese gebeure op Hannah se gesin gehad het.

Anna het voor haar dood die Hannah Cornelius-stigting op die been gebring. “Anna was gedryf om te verseker dat Hannah se nalatenskap voortleef deur haar goeie dade, vergewensgesindheid en liefde.

“Dit was Anna se wens om deur die Hannah Cornelius-stigting ander jongmense te ondersteun om bo hul omstandighede uit te styg en hul drome deur harde werk en passievolle toewyding tot hulle eie ontwikkeling te bewaarheid.”

Last Blue Ride: The Hannah Cornelius Story is vanaf 1 April op Showmax te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Althes ·

Ek was een van die mense wat die tragiese gebeure gevolg het. In ñ oogwink het bose mense onskuldige mense se lewens verwoes.
Om so ñ tragiese, wreedaardige lewensdrama smaakvol uit te beeld, is ñ fyn kuns.

KatjieDeKat ·

Om haar te verkrag is erg genoeg, ek het geen benul hoekom hulle gevoel het hulle moet haar nog vermoor ook nie! Walglike gespuis! Hierdie is so n tragedie, met haar ma wat ook selfmoord gepleeg het uit hartseer. Hulle het eintlik Twee mense vermoor. Afskuwelike goed!

Petrus Albertus ·

Weerlê of weergee? Ek kom nie agter uit die berig dat iets “weerlê” word nie?

Gerra ·

Ek stem saam met jou Petrus.
Dit is dalk eerder die feite “weergee”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.