Shrien Dewani-moordverhoor: “Anni wou skei,” sê niggie

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

Anni Dewani wat in 2010 tydens haar wittebrood in Suid-Afrika vermoor is, wou glo vroeër van haar Briste sakeman-eggenoot, Shrien Dewani, skei.

Sneha Mashru, Anni se niggie en die staat se sewende getuie in die saak teen Shrien, hou vol dat sy en Anni soos sussies was en dat Anni haar gereeld in haar vertroue geneem het oor die onstuimige verhouding.

Mashru sê die paartjie het probleme ondervind tot met hul huwelikseremonie in Oktober 2010, maar Anni was nog lief vir Shrien. “Toe hulle ná die huwelikseremonie in Indië teruggekeer het, het ek en Anni ʼn egskeiding bespreek, want sy het gevoel sy kan nie saam met hom leef nie,” het sy gesê. Anni wou glo ook nie saam met Shrien na Suid-Afrika toe kom nie, maar Mashru het haar oortuig en onderneem om geld te stuur indien Anni wou terugkeer huis toe.

Mashru het vroeër aan die hof gesê ʼn paar dae voor die huwelik het sy en Anni Shrien in ʼn hospitaal in Indië gaan besoek omdat hy siek was. Shrien was glo ontsteld om Anni daar te sien, aangesien hy hulle aangesê het om nie in die hospitaal vir hom te kom kuier nie. Francois van Zyl, Dewani se prokureur, het egter aangevoer sy kliënt het voedselvergiftiging gehad en het diarree gehad en opgegooi. “Hy wou nie enige besoekers gehad het nie,” het Van Zyl gesê. “ʼn Volwasse man wat sy bed bevuil wil niemand sien nie.”

Die saak duur voort.

Bly op hoogte met alle verwikkelinge in die Shrien Dewani-saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.