Shrien Dewani-moordverhoor: “Ons soek die waarheid”

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

Anni Dewani se familie het op die vooraand van haar man Shrien se moordverhoor die hoop uitgespreek dat hulle uiteindelik die waarheid sal leer oor haar dood vier jaar gelede.

“Al waarvoor ek vra is die hele storie en geregtigheid,” het Vinod Hindocha, Anni se pa, Sondagaand aan verslaggewers in Kaapstad gesê. “Die Suid-Afrikaanse regstelsel moet nou die hele storie bekom oor hoe my klein dogtertjie dood is.”

Ashok Hindocha, Anni se oom, het bygevoeg: “Hopelik sal ons al die antwoorde kry wat ons soek.” Op ʼn vraag oor of die familie ʼn boodskap het vir Shrien Dewani, het hy gesê: “Vertel vir ons in die hof wat gebeur het sodat ons kan aangaan met ons lewens. Ons kan Anni nie terug kry nie, ons weet dit, maar ons het die waarheid nodig sodat ons kan aangaan met ons lewens.”

Anni Dewani is in November 2010 tydens haar en Shrien se wittebrood in Kaapstad vermoor. Shrien beweer hulle is gekaap toe hulle deur Gugulethu gery het. Die staat meen Shrien het saamgesweer om haar te vermoor.

Anni se familie het intussen gesê hulle sal nie verder kommentaar lewer tot die verhoor verby is nie uit respek vir die regsproses.

Shrien se moordverhoor begin Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Shrien is in April van Engeland aan Suid-Afrika uitgelewer. Hy word aangekla van sameswering tot ontvoering, roof met verswarende omstandighede, moord, ontvoering en dwarsboming van die gereg.

Xolile Mngeni, Zola Tongo en Mziwamadoda Qwabe is in 2012 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir Anni se moord. Mngeni is ook 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede, en is tot ʼn verdere vyf jaar tronkstraf gevonnis vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Die vonnisse word gelyktydig uitgedien.

Kliek hier om vorige berigte oor dié saak te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hettie ·

Ek het regtig baie respek vir die ouers Nog nooit Een slegte woord gese oor Shrien en sy familie nie En geduldig wag hulle viir die waarheid om uit te kom Sterkte

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.