Shrien Dewani-verhoor: E-posse met ander man nie as bewyse toegelaat

Shrien Dewani daag op 9 Oktober 2014 by die Wes-Kaapse hooggeregshof op Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Shrien Dewani daag op 9 Oktober 2014 by die Wes-Kaapse hooggeregshof op Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Regter Jeanette Traverso, adjunkregter-president van die Wes-Kaapse hooggeregshof, het Dinsdag gelas dat sekere bewysstukke rakende Shrien Dewani se seksualiteit nie toegelaat sal word in die verhoor nie.

Traverso het in haar uitspraak gesê die bewysstukke is ontoelaatbaar aangesien dit nie relevant is nie. Sy het dié uitspraak gemaak nadat die staatsaanklaer Adrian Mopp bewyse aan die hof wou voorhou oor e-pos-kommunikasie tussen Dewani en ʼn ander man tussen Junie en Augustus 2009. Die e-pos-kommunikasie is op Dewani se vrou, Anni, se skootrekenaar gevind.

Mopp moes argumenteer hoekom die e-posse as bewysstukke in die verhoor toegelaat moet word, nadat Francois van Zyl, Dewani se regsverteenwoordiger, beswaar aangeteken het teen die toepaslikheid daarvan. Mopp het aangevoer dat sekere onthullings in die e-posse gemaak is rakende Dewani se seksualiteit. Traverso het hierna gevra hoekom sy seksualiteit relevant is.

“Hier het ons ʼn stel feite, wat in afsondering kan blyk om ʼn vreemde stel feite te wees,” het Mopp geantwoord. Volgens hom voorsien die e-posse konteks rakende die feite. “Dit is duidelik in die e-posse dat hy in ʼn stryd geworstel was oor of hy moet trou en of hy sy seksualiteit bekend moet maak.”

Van Zyl het egter aangevoer dat die e-posse grafiese besonderhede bevat oor seksuele voorkeure, wat die mans met mekaar wou doen en slegs twee of drie verwysings oor die “konflik” waarna Mopp verwys het. “Hulle het duidelik ʼn gesprek gehad oor of hulle hul seksualiteit moet bekend maak. Die vriend het hom advies gegee en gesê ʼn huwelik is ʼn baie ernstige verbintenis en dat hy ernstig daaroor moet dink,” het Van Zyl gesê.

Volgens Van Zyl is die e-posse baie nadelig vir sy kliënt, aangesien handel oor sy karakter en die datums is te ver uit mekaar om relevant te wees. Mopp het egter aangevoer dat hy later bewysstukke aan die hof sal voorlê wat glo wys dat Dewani ook in September 2009 met ‘n ander persoon gepraat het oor sy “worsteling”. Mopp wil daarop wys dat die verhouding tussen Dewani en sy vrou nie so “seepglad” verloop het soos wat hy beweer nie.

Regter Traverso het egter gesê Dewani het in sy pleitverduideliking sy seksualiteit en die probleme in sy huwelik duidelik gemaak. Die saak is kort na Traverso se uitspraak verdaag sodat Mopp gereed kon maak om sy volgende getuie te roep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.