Shrien Dewani-verhoor: Manlike prostituut getuig glo

Leopold Leisser

Leopold Leisser

Leopold Leisser, ʼn manlike prostituut, sal na verwagting Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn waar die moordbeskuldigde Shrien Dewani se voorverhoorkonferensie plaasvind, het die Sunday Times berig.

Leisser, ʼn Duitser wat in Engeland bly, beskryf homself op sy webwerf as “Europa se beste S&M (sado-masochisme) metgesel”. Hy sal na verwagting ʼn sleutelgetuie in Dewani se verhoor wees.

Dewani staar vyf aanklagte in die gesig wat verband hou met die moord op sy vrou Anni tydens hul wittebrood in Kaapstad in November 2010. Dit is Maandag sy tweede hofverskyning in Suid-Afrika nadat hy aan die land uitgelewer is. Maandag se hofverrigtinge sal na verwagting ‘n voorverhoorkonferensie wees om te bepaal of die staat en verdediging gereed is om met die hofsaak te begin.

Anni se pa, Vinod Hindocha, het aan die koerant bevestig dat Leisser sal getuig. “Hy is ons sleutelgetuie,” het Hindocha gesê.

Leisser het aan die koerant gesê hy kan nie kommentaar lewer nie, aangesien die saak voortduur. Sy naam is in 2012 in mediaberigte oor Dewani genoem. Die Britse koerant, die Daily Star, het berig dat Leisser aan die polisie gesê het Dewani was een van sy kliënte. Hy voer aan Dewani het aan hom gesê hy wil “ʼn manier kry” om “nie meer getroud te wees nie”. Dewani het glo ook gesê sy familie sal hom “onterf” as hy die verlowing sou verbreek.

Sedert Dewani se laaste hofverskyning op 8 April was hy in Valkenberg, ‘n psigiatriese staatshospitaal, waar hy vir depressie en post-traumatiese stres behandel word.

Hy word aangekla van sameswering tot ontvoering, roof met verswarende omstandighede, moord, ontvoering en dwarsboming van die gereg. Hy het nog nie gepleit nie.

Anni is glo ontvoer toe hulle tydens die wittebrood in ʼn minibustaxi in Gugulethu gery het. Dewani is ongedeerd vrygelaat, maar Anni is doodgeskiet.

Staatsaanklaers voer aan Dewani het Xolile Mngeni gehuur om sy vrou te vermoor. Mngeni is intussen skuldig bevind aan die moord en is lewenslange tronkstraf opgelê. Twee ander medepligtiges dien ook reeds tronkstraf uit in verband met die misdaad. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marlene ·

Ek moes nou sowaar eers hierdie woord gaan google (sado-masochisme). Siek spul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.