Siam Lee: DNS-uitslag bekend

Siam Lee. Foto: Via Facebook

DNS-uitslae is vandeesweek ontvang wat bevestig die erg verbrande liggaam van ʼn vrou wat in ʼn afgeleë suikerrietplantasie naby New Hanover in KwaZulu-Natal gevind is, is dié van die 20-jarige Siam Lee.

Kol. Thembeka Mbhele, provinsiale polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media bevestig Lee is nou positief deur die DNS-toetse geïdentifiseer nadat vergelykende monsters van haar ma, Carmen, verkry is.

Lee se liggaam is aan die familie oorhandig wat vandag [Vrydag] ʼn private gedenkdiens vir haar gaan hou, waarna sy veras sal word.

Maroela Media het vroeër berig ʼn grootskaalse soektog is van stapel gestuur ná Lee se raaiselagtige verdwyning. Sy is op 4 Januarie omstreeks 15:00 die laaste keer gesien toe sy haar werkplek in Margaret Maytom-laan in Durban-Noord verlaat het. Volgens kringtelevisiebeeldmateriaal blyk dit dat sy deur die bestuurder van ʼn swart Mercedes-Benz Vito met ʼn Gauteng-nommerplaat ontvoer is.

Die soektog na Lee het tot ʼn tragiese einde gekom nadat ʼn boer ʼn paar dae later op die erg verbrande liggaam van ʼn vrou in ʼn afgeleë suikerrietplantasie afgekom en die polisie ontbied het. Dit is later voorlopig deur Lee se familie as haar liggaam, glo deur haar lipring, uitgeken. DNS-toetse moes egter gedoen word om haar identiteit te bevestig.

Intussen moet die 29-jarige man wat in hegtenis geneem is in verband met haar moord weer op 7 Maart in die Durban-landdroshof verskyn vir sy formele borgtogaansoek wat vir twee dae op die hofrol geplaas is.

Die man, wie se naam nie meer genoem mag word weens die aanklag van verkragting nie, het in Februarie vlugtig in die Durban-landdroshof verskyn waar die staat ʼn bykomende sewe aanklagte teen hom ingedien het.

Hy staan nou tereg op 16 aanklagte, waaronder ontvoering, roof met verswarende omstandighede, verkragting, die rig van ʼn vuurwapen, crimen injuria, aanranding met die doel om ernstig te beseer, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen, dwarsboming van die gereg, intimidasie, moord, bedrog en roekelose en nalatige bestuur. Van die aanklagte hou moontlik verband met ander sake wat teen die man ondersoek word. Dit is nie bekend wie die slagoffer in die verkragting-aanklag is of hoe oud die slagoffer is nie.

Die man is op 17 Januarie by sy huis in Hillcrest, Durban, deur die private speurder Brad Nathanson in hegtenis geneem.

Hy bly in aanhouding by die Westville-gevangenis nadat hy aangevoer het dat hy glo by die Durban-Noord-polisiestasie “gemartel” is.

Lees alle vorige berigte oor Siam Lee op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Koos ·

Wat het haar voorkoms daarmee te doen? Asof mooi meisies agter in die tou moet staan as dit by moord kom! Volgens meer volledige berigte elders het ‘n man ‘n obsessie met haar ontwikkel en haar heeltyd geteister. Die vraag is: Was dit een van haar kliënte?

Piet ·

Koos ek dink jy ruk die skrywer bo se kommentaar n bietjie uit konteks uit. Enige jong lewe is mos eintlik ‘n “mooi lewe” Ek dink in elk geval is jy ver te vinnig om sulke gevolgtrekkings te maak. Elke maal as jy n kol sien is daar nie noodwendig n trop tarrentale nie. As mens sien hoe mense na haar gesoek het dan was daar baie mense wat vir haar om gegee het, gaan mense na jou soek as jy verdwyn?

KAS ·

Daar word nie melding gemaak of Siam Lee verkrag is nie.Dit lyk vir my of die man by verskeie sake betrokke kan wees as ek na die klagtes kyk.So jammer.Sterkte aan die familie

GM ·

Kas, as ek reg onthou van vorige berigte, is sy wel verkrag. So ‘n pragtige meisie, en nog so jonk. Sterkte aan haar naasbestaandes.

Gesiggie ·

Voel so jammer vir haar Ma, ek dink sy het seker net aan hou hoop en Bid dat dit nie Siam Lee se liggaam is? ek is net bly sy kan darem nou n gedenk diens hou vir haar dogter… sterkte aan jou en al die seer wat jy moes hervaar, ek hoop die siek mens wat dit aan Siam Lee gedoen het… kry sy straf dubbel en dwars..

Elle ·

Chris, Siam het volgens vorige beriggewing by ‘n bordeel gewerk voor haar dood,so kans is goed sy het haar moordenaar geken…

Mari ·

Want hy het nog nie gepleit nie. Die reg verdedig misdadigers

Geen hoop vir die mensdom ·

Ek wil graag weet hoekom die verkragter se naam nie genoem mag word nie. Die slagoffer se hele lewe word ontbloot maar jy mag nie die monster wat haar verniel en vermoor het se naam noem nie… hoekom het hy meer regte as sy? Sy gesig en naam moet orals in die nuus wees en vir die wereld uitgebeeld word vir die wreedaardige dier wat hy is. Rus sag Siam Lee. Sterkte aan haar ma en familie wat die nare nare pad moet stap saam met jou moordenaar wat soveel pyn en leiding veroorsaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.