Siam Lee: ‘Krag van gebed’ help speurder om verdagte vas te trek

Brad Nathanson van Brad Nathanson Investigations. Foto: Via Facebook

ʼn Private speurder van Durban het die deurbraak wat verlede Woensdag tot die inhegtenisneming van Siam Lee (20) se vermeende ontvoerder en moordenaar gelei het, aan die krag van gebed en basiese speurwerk toegeskryf.

Brad Nathanson van Brad Nathanson Investigations het Woensdag aan Maroela Media gesê hy is aanvanklik deur familie van Lee uit Australië genader om na haar te soek nadat sy op 4 Januarie omstreeks 15:00 in verdagte omstandighede by haar werkplek in Margaret Maytom-laan in Durban-Noord verdwyn het. Sy was kaalvoet en het ʼn geel somerrokkie aangehad.

“Kort ná haar verdwyning het Siam se ma [Carmen Lee] ʼn ander private speurder aangestel om na Siam te help soek. Ek ken die persoon en het aangebied om saam met hom te werk,” het Nathanson gesê.

ʼn Grootskaalse soektog is van stapel gestuur ná Lee se verdwyning en verskeie leidrade is opgevolg nadat kringtelevisiebeeldmateriaal getoon het Siam is glo deur die bestuurder van ʼn swart Mercedes Benz Vito ontvoer.

Twee dae ná Lee se verdwyning het ʼn boer op die verkoolde liggaam van ʼn vrou in ʼn afgeleë suikerrietplantasie naby New Hanover afgekom. Vyf dae later het die nuus gebreek dat die oorskot dalk dié van Lee is nadat familielede haar onder meer aan haar lipring kon uitken. DNS-toetse moet egter nog amptelik bevestig dat dit wel Lee se oorskot is.

Nathanson het gesê hy was erg ontstel toe hy meegedeel is van dié vonds en uitkenning.

“Ek het vir die eerste keer in my 38 jaar in die bedryf in trane uitgebars, al het ek haar nie geken nie. Ek het dadelik op my knieë gegaan en gebid dat ek haar moordenaar kan vang.”

Nathanson het sy personeel bymekaar geroep en besluit om weer van voor af met die ondersoek te begin, van die dag dat sy verdwyn het. Hulle het onder meer ook verskeie leidrade op sosiale media nagegaan.

“Ons het daarna vasgestel dat Siam in ʼn swart Mercedes Viano ontvoer is en nie ʼn Vito soos aanvanklik gedink is nie. Skaars twee minute nadat sy ontvoer is, het die bestuurder van die Viano teen ʼn ander motor vasgery en weggejaag. Ek persoonlik vermoed sy het ʼn geveg opgesit ná sy in die voertuig ingedwing is en dit het tot die botsing gelei.”

Siam Lee. Foto: Via Facebook

Volgens Nathanson het die Viano baie skade opgedoen en het hy en sy span deur nadere ondersoek die voertuig by ʼn huis in Hillcrest, Durban, opgespoor waar dit beskadig in die motorhuis weggesteek is. Die polisie is ontbied en die verdagte, Cebolenkosi Philani Gift Ntuli (29), is in hegtenis geneem.

Die polisie het tydens Ntuli se inhegtenisneming beslag gelê op die Viano en ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

“Toe ons verlede Woensdag by die groot huis aankom, het ek dit dadelik herken. In 2016 het ons ʼn saak ondersoek van ʼn jong meisie wat by ʼn bordeel ontvoer is, en na dié huis gebring is waar sy beweer sy aangehou is. Die meisie het egter later koue voete gekry en die saak teruggetrek en ons kon niks verder doen nie.”

Nathanson was Maandag in die Durban-landdroshof toe Ntuli vir die eerste keer op aanklagte van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen, dwarsboming van die gereg, moord, ontvoering en bedrog verskyn het. Meer aanklagte kan in ʼn latere stadium bygevoeg word. Nathanson het gesê hy sal alles in sy vermoë doen en staan die polisie by om seker te maak dat geregtigheid geskied.

Die saak is tot 2 Februarie uitgestel wanneer Ntuli na verwagting om borgtog gaan aansoek doen. Hy bly in aanhouding by die Durban-Noord-polisiestasie.

Lees alle vorige berigte oor Siam Lee op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Geen borg ·

GEEN BORGTOG. As die manne van die kissaak en ander sake nie kon borg kry nie HY OOK nie. Die is moord, die ander was ‘n baie ligter klag .. so mense in die omgewing .. gaan BETOOG voor die hofgebou .. GEEN BORG!

Tammy ·

Baie dankie vir jou uitstekende werk en ook vir die gees waarin jy jou werk doen Brad. Jy is voorwaar n aanwins vir die wereld. Dankie!!

Casper Labuschagne ·

Ek voel self of ek in trane kan uitbars as ek na Siam Lee se foto kyk en die tragiese verhaal lees. Hoeveel ander meisies is oor die laaste twee of drie jaar nie ook ontvoer en na daardie selfde huis in Durban geneem waar hulle as slawe aan bordele verkoop word nie? Wees verseker, hierdie Ntuli verdagte het nie sy Mercedes motor asook die huis gekoop as ‘n maandelikse salaristrekker nie, maar eerder uit die opbrengs van misdaad en in die besonder, mensehandel.

TLC ·

Amen jip op mens se knieë sal jy baie kan vermag al wat dit van jou vat is om vas te glo en so sal als in plek val Amen. Baie baie dankie vir jou harde werk en mag geregtigheid geskied

Blondie ·

So, as die meisietjie daai tyd net deur gedruk het sou Siam vandag nog geleef het. Wys jou net hoe die lewe werk. Kanse kom en gaan. As hy verby is is hy verby.
Ons vrouens moet ons monde oop maak en ophou weg kyk.

Lollie ·

Goeie werk, baie dankie.! Wens daar was meer mense van jou kaliber sodat die skuldiges vinniger vasgetrek kan word. Doen so voort!!!!!
GEEN BORG VIR SKULDIGE ASB!!!!!

Siek en sat ·

Baie baie dankie vir jou ongelooflike speurwerk. Hou daardie man in die tronk asb. Geen borg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.