Siam Lee-verdwyning: Man vas

Siam Lee. Foto: Via Facebook

ʼn Man is Woensdagaand in hegtenis geneem in verband met die verdwyning van die 20-jarige Siam Lee wat vroeër vandeesmaand in verdagte omstandighede by haar werkplek in Durban-Noord verdwyn het.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn 29-jarige verdagte is Woensdagaand by sy huis in Hillcrest in hegtenis geneem.

Die polisie het tydens die inhegtenisneming op ‘n Mercedes Benz Vito en ‘n vuurwapen beslag gelê.

In dié stadium kan daar slegs bevestig word dat die verdagte met die verdwyning van Lee verbind word. “Ons kan nog nie aanvoer dat die verdagte met haar moord verbind word nie, omdat ons steeds wag op die uitslae van die DNS-toetse wat gedoen is op die liggaam wat gevind is en vermoedelik dié van Lee kan wees,” het Mbhele gesê.

Sy kan dus nie onmiddellik bevestig wanneer die verdagte in die hof sal verskyn of waarvan hy aangekla sal word nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn grootskaalse soektog is van stapel gestuur ná Lee se verdwyning. Sy is op 4 Januarie omstreeks 15:00 vir die laaste keer gesien toe sy haar werkplek in Margaret Maytom-laan in Durban-Noord verlaat het. Volgens kringtelevisiebeeldmateriaal blyk dit dat sy deur die bestuurder van ʼn swart Mercedes Benz Vito met ʼn Gauteng-nommerplaat ontvoer is.

Die soektog na Lee het tot ʼn tragiese einde gekom nadat ʼn boer ʼn paar dae later op die erg gebrande liggaam van ʼn vrou in ʼn afgeleë suikerrietplantasie naby New Hanover afgekom en die polisie ontbied het. Volgens die nooddiensnetwerk Mobi-Claw, wat toegewyd aan die soektog deelgeneem het en Siam se naasbestaandes bystaan, is die verkoolde oorskot later deur Lee se familie as haar liggaam uitgeken.

DNS-toetse moet egter nog amptelik bevestig dat dit wel Lee se oorskot is.

Lees alle vorige berigte oor Siam Lee op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Besemryer ·

Verheug dat iemand dalk nou aan die pen gaan ry! Verskriklik jammer dat daar so jag gemaak word op ons pragtige vroue. My hart bloei steeds vir haar ma

Peet J ·

So, blykbaar het niemand, selfs haar familie, ook nie van die verdagte persoon geweet nie, sy moes tog sekerlik met iemand oor haar verhouding met die persoon gepraat het .
Die polisie het dan ook geweet van die swart Mercedes Benz Vito wat haar ontvoer het , vinnige optrede kon dalk haar lewe gespaar het , iemand moes tog gesien het wat aan die gang was toe sy ontvoer was.

Se Net ·

Peet J volgens vorige berigte het die polisie die motor en person volgens kringtelevisie identifiseer. Indien hul ‘n verhouding gehad het, het ek dit nie gelees nie.

Estelle ·

Dankbaar oor die arrestasie. Mag geregtigheid geskied vir Siam. Niemand het die reg om ‘n ander se lewe te neem nie. Rus in vrede mooie kind. Vrede ook vir jou, haar ma, in jou seerste seer.

Hannatjie ·

Ek het nie gelees dat Siam in ‘n verhouding met die verdagte was nie. Ek dink sy was dopgehou en toe gegryp en ontvoer op so ‘n wyse dat sy in die proses haar skoene verloor het. Die ontvoering is op ‘n kamera gesien en so is daar geweet van die Mercedes Benz Vito.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.