Sibanye bied kontantvoorskot vir werkers wat nié staak

Die Beatrix-myn. Foto: Sibanye-Stillwater

Sibanye-Stillwater het te midde van die voortslepende staking by sy goudbedrywighede ʼn kontantvoorskot vir van sy werknemers aangebied wat wel by die werk is.

Die kontantvoorskot is beskikbaar vir alle werknemers in kategorie 4 tot 8, mynwerkers, ambagswerkers en beamptes in die onderhandelingseenheid wat wel by die werk is en die kontantvoorskot teen Dinsdagmiddag aanvra. Werkers kan tot 50% van hul basissalaris as voorskot kry om tydens die feesseisoen te gebruik.

Hierdie kontantvoorskot sal vanaf einde Februarie 2019 oor ʼn vyfmaandetydperk aan die maatskappy terugbetaal word deur middel van salarisaftrekkings.

Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye, sê hy het besluit om dié voorskot aan werknemers te bied om die negatiewe uitwerking van die staking op werknemers te versag in aanloop tot die Desembervakansie en tydperk in Januarie voor almal weer terug skool en werk toe keer.

Volgens Froneman is die tydsberekening van die staking kommerwekkend en is die bestuur bekommerd oor die finansiële uitwerking op werkers wat vroeër aan die staking deelgeneem het, aangesien die geen-werk-geen-betaling-beleid vir die staking geld.

“Ek doen ʼn beroep op alle werknemers om hulle vir werk aan te meld, asook vir daardie werknemers wat die kontantvoorskot nodig het, om daarvoor aansoek te doen. Ons verstaan die finansiële uitdagings wat baie werknemers in hierdie tyd moet hanteer en ons wil graag ʼn mate van verligting aan ons werknemers en hul families bring sodat hulle ʼn veilige en vreedsame feestyd saam kan geniet,” sê hy.

Sibanye het Donderdag gesê die staking deur lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) is nie meer beskermd nie aangesien hulle verbind is tot ʼn gesamentlike bedingingsooreenkoms en hulle ingevolge dié ooreenkoms vandag weer vir werk moes aanmeld.

Sibanye het ʼn loonooreenkoms met drie ander vakbonde by sy Suid-Afrikaanse goudbedrywighede gesluit.

Ongeveer 15 000 Amcu-lede het sowat drie weke gelede begin staak. Hulle eis ʼn R1 000 jaarlikse verhoging oor die volgende drie jaar. Die staking het gepaardgegaan met intimidasie en geweld by verskeie goudmyne wat tot die dood van vier werkers gelei het.

Sibanye het in Oktober ʼn drie jaar lange loonooreenkoms met die National Union of Mineworkers (NUM), Solidariteit en UASA aangegaan.

Dié ooreenkoms maak voorsiening vir ʼn verhoging van R700 in die maandelikse basisloon van werkers in kategorie 4 tot 8 (bogronds én ondergronds) in die eerste jaar, nog R700 in die tweede jaar en R825 in die derde jaar. Mynwerkers, vakmanne en amptenare kry ʼn verhoging van 5,5% in die eerste jaar, en 5,5% óf die verbruikersinflasiekoers – na gelang van watter een die hoogste is – in die tweede en derde jaar.

Joseph Mathunjwa, Amcu se president, het egter Vrydag vir Sibanye van “onderduimse taktiek” beskuldig omdat die maatskappy dié ooreenkoms van toepassing maak op Amcu-lede wat nie tot die ooreenkoms ingestem het nie. Hy het gesê Amcu sal voortgaan met sy staking totdat die regmatige prosesse gevolg word.

Sibanye het tans 32 200 mense in diens by sy Suid-Afrikaanse goudbedrywighede en Amcu verteenwoordig ongeveer 43% van die werknemers in die bedingingseenheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.