Sibanye-staking kom tot ʼn einde

Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye, en Amcu-president Joseph Mathunjwa onderteken die driejaarooreenkoms by Sibanye se Driefontein-myn (17 April 2019) (Foto verskaf deur Amcu)

ʼn Staking deur lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) by Sibanye-Stillwater se goudmynbedrywighede het byna vyf maande later tot ʼn einde gekom.

“Sibanye-Stillwater is dankbaar om aan te kondig dat die vyf maande lange staking deur Amcu opgelos is. Albei partye het ingestem dat dit in hul belang is om ʼn konstruktiewe verhouding te ontwikkel,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê. “ʼn Veilige en volhoubare onderneming wat waarde toevoeg vir alle belanghebbendes, moet bevorder word. Die partye het ingestem om ʼn ‘ná-staking-verhoudingsbouprogram’ te fasiliteer vir leiers van vakbonde en die bestuur van die maatskappy.”

Minstens 15 000 Amcu-lede het op 21 November 2018 begin staak by Driefontein, Kloof en Beatrix-myne. Hulle het hoër lone geëis “ná die maatskappy ʼn Amcu-onderhandelde loonooreenkoms met drie ander vakbonde onderteken het”.

Hulle het ʼn jaarlikse verhoging van R1 000 oor die volgende drie jaar geëis, terwyl die National Union of Mineworkers (NUM), Solidariteit en die United Association of South Africa (Uasa) ʼn verhoging van R750 per jaar oor die volgende drie jaar vir die periode 1 Julie 2018 tot 30 Junie 2021 aanvaar het.

As deel van die ooreenkoms het Amcu onderneem om die 2018 driejaarooreenkoms te onderteken wat die maatskappy met die ander drie vakbonde onderteken het en onderneem om binne 30 dae ʼn vredesverdrag te onderteken. Die vakbond sal berus by die uitspraak van die hof en geen verdere appèlaansoeke sal ingedien word nie.

Ondanks planne om verliese tydens die staking te beperk het Sibanye sy verwagte goudvervaardiging vir 2018 gesny en beraam dit op nagenoeg 34 600 kg of 1,1 miljoen onse, wat effens laer is as die vorige beraming van 35 000 kg en 36 000 kg of 1,13 miljoen onse en 1,16 miljoen onse vir die jaar.

Sibanye het ingestem tot ʼn ex gratia-betaling van R4 000 vir alle werknemers by sy goudmynbedrywighede in die vorm van kontant of ʼn geskenkbewys met ʼn aanbod van ʼn kontantvooruitbetaling van R5 000 op versoek van werknemers wat oor ʼn 12 maande periode betaalbaar sal wees.

Die maatskappy sal ook bystand lewer wat skuldkonsolidasie en -berading betref; sy reg verbeur om koste te verhaal wat namens werknemers aangegaan is tydens die staking; vervoer verskaf vir werknemers om terug te keer werk toe; en enige werknemers wat afgedank is oor stakingsverwante oortredings, sal onderwerp word aan normale dissiplinêre verrigtinge.

Amcu-president Joseph Mathunjwa het nog nie kommentaar gelewer oor die ooreenkoms met die maatskappy nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bert ·

Het iemand al vir die stakers verduidelik hoeveel hulle verloor het deur 5 maande nie te werk nie terwyl die vakbond base ‘n lekker kersfees bonus gekry het?
Nou kry hulle maar net wat hulle in elk geval sou gekry het!

Tershia ·

Ja en hoeveel ander mense se lewens is ook daar deur geraak Ek weet wat my seun werk daar Al die lewensverliese geldelike verliese en na vyf maande keer hulle net terug en verwag alles moet net aangaan soos voorheen Hoe vertrou jy weer jou werkmense wat jou gedreig het omdat jy wou werk En nou moet jy maak of niks gebeur het nie en weer as n span saam werk Vra maar net

Tershia ·

Maar ek dank die Here dit is verby Nou kan die onskuldiges wat nie deel was van die staking ook weer aangaan met lewens

Corrie ·

Belaglik hierdie staking gewees. Geen wenners en baieeeee verliese.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.