Sibanye-Stillwater gaan dalk duisende aflê

Die Beatrix-myn. Foto: Sibanye-Stillwater

Die goudmyngroep Sibanye-Stillwater het Donderdag gesê hulle sal begin om met belanghebbendes in gesprek te tree oor die moontlike herstrukturering van dié groep se goudbedrywighede wat meer as 6 000 werkers kan beïnvloed.

Volgens ʼn verklaring wat Sibanye uitgereik het, gaan ’n moontlike herstruktureringsproses volg ná voortgesette finansiële verliese gedurende die 2018-boekjaar by die Beatrix 1-mynskag in die Vrystaat asook Driefontein se skagte 2, 6, 7 en 8 in Gauteng.

Die myngroep verwag om ’n jaarverlies van R1 miljard aan te kondig wanneer dié groep sy bedryfs- en finansiële resultate volgende week moet aanbied.

Die bestuur het herhaaldelik operasionele en finansiële risiko’s uitgelig wat verband hou met die onderprestasie van die Driefontein- en die Beatrix-skagte, lui die verklaring.

Sibanye en belanghebbendes sal dus oorleg pleeg hoe om moontlike afleggings te vermy of te beperk. Hulle sal ook na alternatiewe maniere kyk om die dreigende beëindiging of afskaling van bedrywighede by dié skagte te hanteer.

Die myn sê gesprekke oor moontlike afleggings het nou onvermydelik geword ná talle inisiatiewe om verliese by die skagte te beperk, misluk het.

Ongeveer 5 870 werknemers en 800 kontrakteurs kan moontlik deur die afleggings geraak word. Sibanye verskaf tans werk aan meer as 61 000 mense in Suid-Afrika, vergeleke met 37 700 werknemers ses jaar gelede. Dié myngroep is een van die grootste werkgewers in die Suid-Afrikaanse mynbedryf, lui hul verklaring.

Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye, het gesê die oorweging van ’n moontlike herstrukturering word beslis nié ligtelik geneem nie.

“Ons is bewus van die moontlike impak daarvan op baie van ons kollegas. Al ons pogings om die verliese by die skagte aan te spreek, het misluk. Dit kan die lewensvatbaarheid van ons ander bedrywighede bedreig,” het Froneman gesê.

“Vorige pogings van hierdie aard was suksesvol met Beatrix se skag 4 wat operasioneel en winsgewend bly as gevolg van ’n suksesvolle uitkoms van twee afsonderlike prosesse in 2013 en 2017.”

Minstens 15 000 werkers wat met Amcu geaffilieer is, het sedert November verlede jaar by die Beatrix- en Driefontein-mynskagte gestaak. Die mynwerkers het op hoër lone aangedring en al Sibanye se loonaanbiedinge verwerp.

Amcu was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Elvis ·

Jip julle VAKBONDE wil mos staak. .. kry vir julle .. die stakers like dit om amok te saai en te demand en mense aan te val en dood te maak en bande te brand en eiendom te beskadig . dan gee die bestuur toe . en na ‘n paar maande moet duisende mense die pad vat . ongelukkig GEEN SIMPATIE Met die mense wat gereeld gestaak het nie, ongelukkig is daar altyd onskuldiges wat nie wou staak nie wat ook nou aan die pen gaan ry.

Jan ·

Stem heeltemaal saam. Hulle gaan oes wat hulle saai. Maar hulle koppe is hard en gee altyd ander die skuld.

KAKtus ·

Stem saam. Ek boer met kaktusse, ek oes wat ek saai. So sal hulle.

Jan ·

Ek wens net CR lees bietjie die kommentaar. Maar wat help ons kommentare en dit kom nie by die persone of groepe uit nie waaroor ons kommentaar skryf nie. Dan kom hulle nooit op ander gedagtes nie.

Tershia ·

Ja Elvis Die onskuldiges ly as gevolg van vakbonde en ander gebeur Vra my ek het n kind wat eers moes gaan by Marikana Hy was drie jaar sonder werk Nou is hy by Beatrice Nou bekommer jy jou weer En elke keer is dit dieselfde vakbond Dink daar moet weggedoen word van vakbonde Ongelukkig is dit die wat wil werk wat hulle werk verloor en nie die wat staak nie Hartseer ma waar

Jan ·

Stem heeltemaal saam. Hulle gaan oes wat hulle saai. Maar hulle koppe is hard en gee altyd ander die skuld.

David ·

Die skagte wat onekonomies geraak het om te bedryf moet toemaak.

Dié aankondiging gaan ook seker nou op ‘n staking uitloop. As dit tot gevolg het dat nog skagte onekonomies raak om te bedryf, moet hulle ook toemaak.

D B ·

Daar gaan CR se “werkskeppings” planne.

Stakings + afbrand + afbreek = afdankings.

Was daar al ·

Mense ja dis verdiende loon, maar weet julle hoeveel onskuldige mense hierdeur geraak word? Ek is 18 maande terug afbetaal by ñ myn wat presies deur dieselfde bootjie is. Ook begin met hestruktuering en ñ jaar later was dit verby. Ek het gelukkig binne een en half maand werk gekry, permanent, maar van my vriende sukkel nou nog. Hulle velkleur maak dit moeilik. Wees waaksaam wat julle sè.

Jacques ·

Het julle n wonderwerk verwag ? As julle nie werk nie is daar nie produkte om te verkoop nie , dus is daar nie inkomste nie . Nou wat nou ?

Sheep to the slaughter ·

Wanneer die vakbonde die mynwese totaal vernietig het met stakings en looneise, en die myne doen afleggings en maak skagte toe, sal die sluier dalk by party (ook net by party) lig en die verwoestende nagevolge gesien word van vakbonde ….maar dis dan ongelukkig te laat. Swaar dae lê nog voor, want die lesse word nie geleer nie.

Jerry ·

Nee wat hierdie land ken nie die woorde Groei en Werkskepping. Die ryke gaan ryker word en die armes nog armer. Een groot gemors.

Arnold ·

Ek is aan die verkeerde kant van 60 en onthou die dae toe ons myne en ekonomie,ongeag sanksies,geblom het. Nou bloei dit.

Dries du Toit ·

HOE DAN ANDERS. Kos nie baie dinkwerk om te weet dat alle myne dieselfde paadjie gaan stap nie. Oral waar die unies betrokke is gaan die selfde paadjie na bankrotskap gestap word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.