Sibanye-Stillwater gaan nou minder aflê

Die Marikana-myn. (Foto: Sibanye-Stillwater)

Die mynmaatskappy Sibanye-Stillwater sê hy gaan danksy ʼn konsultasieproses nou veel minder werkers by sy Marikana-myn aflê as wat aanvanklik gevrees is.

Sibanye het in September gesê hy vergader met vakbonde oor die beoogde herstrukturering by dié myn in Noordwes. Aanvanklik is gesê dat tot 5 270 werkers afgelê gaan word.

Die maatskappy het vandeesweek gesê 1 612 werkers het vrywillige skeidingspakkette aanvaar, 53 het afgetree en nóg 259 werkers het normaalweg bedank.

Altesaam 1 142 werkers is uiteindelik afgelê en kontrakteurs is met 1 709 verminder.

Sibanye het gesê sy 1B-skag het ʼn spesifieke projek wat nog tot Desember gaan duur. Danksy dié projek bly 329 poste behoue, mits die projek winsgewend bly op ʼn drie maande lange gemiddelde tydperk.

Werksverliese is verminder deur poste vir 166 van die geraakte werkers by ánder myne te vind.

“Ons is tevrede met die uitslag van die konsultasieproses met aandeelhouers wat, ondanks die sluiting van sommige skagte wat die einde van hul lewensduur bereik het, tog daartoe gelei het dat ʼn hele aantal werksgeleenthede behoue bly,” het Neal Froneman, uitvoerende hoof van Stillwater-Sibanye, gesê.

“Dit gaan ʼn meer volhoubare onderneming tot gevolg hê wat werksekerheid vir die meeste lede van Marikana se werksmag vir ʼn veel langer tydperk gaan verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KP ·

So verloor duisende mense hulle kosbare inkomste. Danksy ons demokraties verkose regering, die ANC, maar stem vir die ANC sal hulle stem tot die geldjies opraak en alle “komrades” in Dubai gaan aftree.

Koos ·

Nee, dis ‘n direkte gevolg van ‘n 5 maande lange staking.
Hierdie werkers het hulself bankrot gestaak.

johan ·

Die myn besluit om 1000 mense kennis te gee,dan sê hulle hulle beplan om 15000 mense af te lê, die unies begin onderhandel en na vele onderhandeling kom die my tot n besluit om 2000 mense af te lê die unies voel tevrede oor hulle 13000 poste gespaar het ,die myn kan nou 2000 mense aflê so wie is die slim party en wie het gewen?

Joos ·

Daar is geen wenner in enige aflegging nie, maar vir die wat afgele word hoop ek daar is n ander uitkoms want werk is skaars en vir die wat agterbly , onthou tussen jou en die man op straat is net een salaris tjek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.