Sibanye-Stillwater kom tot Lonmin se redding

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het Maandag gesê dat hy baie positief is oor die verkryging van Lonmin deur Sibanye-Stillwater. Sibanye het op 14 Desember in ʼn verklaring bekend gemaak dat hy Lonmin met ʼn transaksiewaarde van R5 miljard bekom het.

Dit volg nadat Lonmin, een van die wêreld se grootste platinumprodusente, vanjaar onder geweldige druk verkeer het vanweë kapitaalstrukturering en kommer oor likiditeit. Lae platinumpryse en die toenemende uitdagings in mynbou het gelei tot stygende koste en lae winsgrense wat talle afleggings in die bedryf die afgelope 12 maande tot gevolg gehad het.

Lonmin-aandeelhouers sal ná afloop van die transaksie 11,3% van die oorhoofse Sibanye-Stillwater-groep besit, terwyl Sibanye die balans van 88,7% behou. Indien alles volgens plan verloop, sal die transaksie teen die tweede helfte van 2018 afgehandel wees.

Volgens Connie Prinsloo, adjunkhoofsekretaris van die mynboubedryf by Solidariteit, ondersteun Solidariteit die kooptransaksie. “Dié transaksie gaan ʼn positiewe bydrae maak tot ekonomiese groei en stabiliteit in die sektor oor die langer termyn wat weer groter volhoubaarheid in die hand werk. Ons vertrou dat daar onder leiding van Sibanye-Stillwater se bestuur nuwe werksgeleenthede geskep sal word wat Lonmin se huidige beplande afleggings oor ʼn tydperk van drie jaar hopelik aan bande sal lê, of wat afleggingsgetalle sal verminder,” het Prinsloo gesê.

“Solidariteit ondersteun inisiatiewe wat werksgeleenthede skep, werksekerheid bewerkstellig en volhoubare ekonomiese groei bevorder of die geleentheid daarvoor skep,” het Prinsloo dit opgesom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.