Sibanye-Stillwater laat werkers van Solidariteit, Uasa weer toe

Sibanye-Stillwater se Kloof-myn aan die verre Wes-Rand. (Foto: Sibanye-Stillwater)

Die mynmaatskappy Sibanye-Stillwater het sy plan laat vaar om werkers wat reeds sy loonaanbod aanvaar het, ook uit die werkplek te sluit.

Die vakbonde Solidariteit en Uasa het reeds die maatskappy se verhoging van 5% aanvaar, maar is verlede week ingelig dat hul lede – nes die stakende vakbondlede wat nie die aanbod aanvaar het nie – verbied sal word om werk toe te gaan.

Solidariteit en Uasa het die arbeidshof op ʼn dringende grondslag gevra om ʼn interdik teen die uitsluiting van hul lede by Sibanye-Stillwater toe te staan.

Die vakbonde is Maandag egter ingelig dat die uitsluitingskennisgewing teen hul lede opgehef gaan word.

Die besluit sal Woensdag ʼn bevel van die hof gemaak word.

“Die optrede van Sibanye-Stillwater in die afgelope week het in kwade trou geskied,” sê Gideon du Plessis, Solidariteit se hoofonderhandelaar.

“Natuurlik is ons dankbaar oor hierdie uitkoms, maar om lede van ʼn vakbond uit te sluit met wie daar geen dispuut is nie, was en is totaal onaanvaarbaar en dit het onnodige spanning tussen die partye geskep en trauma by ons lede veroorsaak.”

Abigail Moyo, Uasa se woordvoerder, meen ook dat Sibanye-Stillwater nooit ʼn voet gehad het om op te staan toe hy besluit het om werknemers wat die aanbod aanvaar het, ook uit te sluit nie.

“Aangesien Uasa-lede nie aan enige stakingsoptrede deelgeneem het nie, kan Sibanye-Stillwater geen verdere uitsluiting teen hulle afdwing nie,” sê Moyo.

“Uasa het intussen ook versoek dat daar nie enige geld van sy lede se salarisse afgetrek word in die tydperk wat die uitsluiting van krag was nie.”

Volgens Solidariteit sal die maatskappy nou moet werk om weer sy lojale werkers se vertroue te herwin en ʼn atmosfeer van samewerking te skep.

“Ons lede staan altyd reg om hul beste vir die maatskappy te gee en nou moet Sibanye wys dat hy ook dieselfde toewyding aan sy werknemers sal bied,” sê Du Plessis.

“Sibanye-Stillwater se besluit sal Solidariteit help om die strydbyl te begrawe, in die hoop dat daar ook nou spoedig ʼn skikking met die stakende vakbonde bereik kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jr ·

Duidelike bewysing van wie wil werk en wie nie. GENOEG GESÊ. LEES TUSSEN DIE LYNE

Andries ·

Die mynmaatskappy se CEO se salaris was 140 m. Grootste inkomste was nie die goudmyne nie so hul voel vere vir werkers

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.