Sibanye-Stillwater-ongeluk: Kommer oor veiligheid in myne

Sibanye-Stilwater se Masakhane-myn in Driefontein (Foto: Matthews Baloi/ANA)

Die vakbond Solidariteit het sy ernstige kommer uitgespreek oor veiligheid in Suid-Afrikaanse myne na aanleiding van die onlangse mynongeluk by Sibanye-Stillwater se Masakhane-skag by Driefontein in Gauteng.

Volgens Paul Mardon, adjunkhoofsekretaris van beroepsgesondheid en -veiligheid by Solidariteit, heers daar veral groot kommer oor die aantal seismiese aktiwiteite in diepmyne wat grondstortings veroorsaak en wat tot mynsterftes en -beserings lei.

Maroela Media het vroeër berig 13 mynwerkers is op 3 Mei 2018 ondergrond vasgekeer ná ʼn grondstorting wat deur seismiese aktiwiteit veroorsaak is. Ses van die mynwerkers sterk aan in die hospitaal, maar sewe het aan hul beserings beswyk.

Mardon sê dat hoewel hierdie ongeluk nog behoorlik ondersoek moet word, daar aanduidings is dat dit deur aardskuddings voorafgegaan kon wees en dat dit deur verdere aardskuddings gevolg is. “Ten spyte van groot persoonlike gevaar het die soek-en-reddingseenheid daarin geslaag om ses mynwerkers op te spoor en na veiligheid te bring. Ongelukkig het sewe mynwerkers omgekom.”

Hy voeg by dat, ten spyte van die talle stappe wat gedoen is om mynveiligheid te verseker en ʼn konstante afname in mynsterftes en -beserings tot 2016, die vakbond steeds bekommerd is oor die hoër voorkoms van sterftes in die myne sedert 2017.

“Die minister van minerale bronne, Gwede Mantashe, het nog nie die amptelike gesondheid- en veiligheidsyfers in myne vir 2017 aangekondig nie, maar voorlopige aanduidings is dat 86 mynwerkers in Suid-Afrikaanse myne in 2017 omgekom het, in vergelyking met die 73 mynsterftes in 2016; die 77 mynsterftes in 2015; en die 84 gedurende 2014. Die voorlopige syfers vir 2018 lyk ook baie sleg met 33 mynsterftes wat tot op datum aangeteken is teenoor die 28 gedurende die ooreenstemmende tydperk verlede jaar en die 25 in die ooreenstemmende tydperk in 2016.”

Volgens Mardon is ʼn afname in die getal grondstortings wel gerapporteer, maar hy wys daarop dat die toename in sterfgevalle weens grondstortings groot kommer wek. “Dit dui daarop dat grondstortings in graad van erns toeneem. In 2016 was die getal grondstortings in Suid-Afrikaanse myne 459 (waarvan 249 in goudmyne) in vergelyking met die voorlopige totaal van 437 (waarvan 213 in goudmyne) in 2017. Volgens voorlopige syfers vir 2018 was daar tot dusver al 116 grondstortings (waarvan 43 in goudmyne), teenoor die 156 (waarvan 79 in goudmyne) gedurende die ooreenstemmende tydperk in 2017.”

Solidariteit het voorts sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan hoëvlaksamesprekings tussen die verskillende rolspelers in die mynbedryf ter bevordering van veiligheid en gesondheid. “Die vorige minister van minerale hulpbronne het hoëvlaksamesprekings in dié verband uitgestel en daar het nog geen sodanige samesprekinge met die nuwe minister plaasgevind nie.”

Solidariteit herinner werknemers aan hul wetlike reg om uit onveilige werksomstandighede te mag onttrek en om dit te doen sou dit nodig wees en maan werkgewers om die uitoefening van hierdie reg te respekteer. Solidariteit doen ook opnuut ʼn beroep op werkgewers om daadwerklike en hernieude pogings aan te wend om verdere stygings in mynsterftes te voorkom en doen ʼn beroep op alle rolspelers en op alle vlakke in mynbou om in ʼn volwasse gees van samewerking en interafhanklikheid volle verantwoordelikheid vir hulself en vir mekaar te aanvaar.

Die Kamer van Mynwese het intussen gesê die Myngesondheid- en Veiligheidsraad (MGVR) het meer as R150 miljoen belê om navorsing oor grondstortings te doen. “Deur die MGVR is daar ook meer as R250 miljoen spandeer aan navorsing oor seismiese aktiwiteit wat met diepmyne verbind word,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê. “ʼn Bykomende R40 miljoen is ook spandeer aan fundamentele en toegepaste navorsing en tegnologie-oordrag. Die navorsing het gelei tot nuwe mynontwerpe en -metodes. As ʼn gevolg het die getal sterftes weens seismiese aktiwiteit gedaal van 48 in 2003 tot 14 in 2017.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boet Burger ·

Alhoewel dit gevaarlik is in myne, is dit statisties steeds veiliger as op Suid Afrikaanse plase. Asook in informele nedersettings. Hoekom kry die 2 areas so min publisieteit?

WillieN ·

Dit is veiliger in die myne as op ons paaie. Waarom hoor ons nooit van ESKOM of die Boubedryf se hoë sterfte in diens syfers nie, maar vir elke sterfte in die myne word die bestuur blameer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.