Sibanye-Stillwater: Reddingspoging gaan voort; myn gekap

Foto: Matthew Baloi/ANA

Die departement van minerale hulpbronne het Vrydag gesê daar moet dringend na veiligheid by Sibanye-Stillwater se myne gekyk word nadat minstens vier mense ná seismiese aktiwiteit by sy Masakhane-myn naby Carletonville gesterf het.

Die myn het Vrydagoggend in ʼn verklaring gesê drie werkers is steeds ondergronds vasgekeer en ses ander sterk aan in ʼn plaaslike hospitaal nadat hulle gered is. Een van die drie wat ondergronds vasgekeer is, is opgespoor, terwyl daar nie rekenskap vir die ander twee werkers  gegee kan word nie.

Altesaam 13 werkers was Donderdag omstreeks 14:30 ondergronds vasgekeer ná die seismiese aktiwiteit wat 2,2 op die Richterskaal gemeet het. Alle bedrywighede by die myn is opgeskort.

Die departement het Vrydag die myngroep versoek om meer aandag aan sy gesondheids- en veiligheidsmaatreëls te gee.

“Die goudmynbedryf het vanjaar ʼn toename in sterftes getoon, met Sibanye-Stillwater as een van die hoofbydraers. Dit dui daarop dat meer aandag gegee moet word aan veiligheidskwessies, veral om die lewens van werkers te beskerm, eerder as om produksie op te jaag.”

Die departement het gesê sy inspekteurs is op die toneel terwyl die reddingspoging voortgaan.

Die National Union of Mineworkers (NUM), wat voorheen die mynmaatskappy van nalatigheid beskuldig het, het gesê hy is woedend oor die jongste voorval.

Die voorval is die jongstes in ʼn reeks ongelukke die afgelope tyd by Sibanye-Stillwater se myne. “NUM is kwaad en bekommerd oor die tempo waarteen noodlottige voorvalle by dié myngroep plaasvind,” het die vakbond Vrydag in ʼn verklaring gesê.

In Maart het NUM gesê ʼn derde van die sterftes in die mynbedryf sedert Januarie, het by Sibanye-Stillwater se myne plaasgevind. Die vakbond het “meer ernstige ingryping” in die myngroep se bedrywighede versoek.

Intussen het Solidariteit Vrydag in ʼn verklaring sy meegevoel met die oorledenes se families betuig en gesê die vakbond se gedagtes gaan ook uit na die families van die mynwerkers wat steeds vermis is.

Volgens Connie Prinsloo, adjunk-hoofsekretaris van die mynboubedryf by Solidariteit, is die vakbond verlig en dankbaar dat ses mynwerkers gered en veilig is.

“Die voorval is betreurenswaardig. Ons deel in die families se hartseer en vertrou dat die werkers wat steeds vermis is, binnekort en ongedeerd gevind sal word,” het Prinsloo gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ronèll ·

Dis bad maak nie saak van die kleur nie dit bly `n mens dalk `n pa `n seun `n broer `n oom `n neef `n vriend of `n kennis.. R.I.P

Theo ·

Diep mynbou sal altyd gevaarlik wees .Niks wat die mens doen sal dit veilig maak nie. Dit is hartseer dat terwyl kollegas hulle lewens in gevaar stel om die toegevalde persone te bereik ,maak die unies politiek daarvan.Plaas daarvan dat hulle self afgaan en help.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.