Siek kleuter moet noodgedwonge Duitsland toe

Ebert Ludik (Foto: Verskaf)

’n Driejarige kleuter van Kathu in die Noord-Kaap sal binnekort peperduur behandeling in Duitsland moet ontvang nadat hy vir die tweede keer in sy kort lewe ernstig siek is.

Ebert Ludik is in Julie 2016 op die ouderdom van 14 maande in die hospitaal in Kimberley opgeneem nadat hy oor ’n naweek knieserig was en gevolglik ’n stuiptrekking gekry het.

Dit was egter eers nadat sy ma, Anna-Marie Ludik, opgemerk het dat sy gesig vreemd begin trek het wat haar vrees ’n naam gekry het: Ewing Sarcoma, ’n soort beenkanker in sy regteroor.

Ludik het Dinsdagmiddag aan Maroela Media vertel dat Ebert se gesig in die hospitaal snaaks getrek het. “So asof sy gesig nie saam reageer as hy huil nie.” Dokters het aanvanklik vermoed dat dit bloot as gevolg van die stuiptrekking van die vorige dag moes wees. Ludik het egter opgemerk dat sy gesig nié die vorige dag so gelyk het nie. Die dokters het gevolglik toetse laat doen waarna dit teruggekom het met ’n duidelike wit kol sigbaar op die skandering – ’n gewas.

Klein Ebert het gevolglik altesaam 14 sessies chemoterapie ontvang. “Hy was vrek siek in hierdie tyd. Hy was so maer dat daar ’n oomblik was wat ek gedink het dat hy nie die behandeling sou oorleef nie. Ons het hom twee keer amper verloor as gevolg van sepsis in die lyn waardeur hy chemoterapie ontvang het,” vertel Ludik.

Anna-Marie en Ebert Ludik kort voordat hy met chemoterapie moes begin. (Foto: Verskaf)

Aan die einde van 2017 was Ebert se kanker wonderbaarlik in remissie. In April vanjaar was sy gesig egter weer opgehewe aan die een kant en in Augustus is dit bevestig dat hy weer siek is. Die gewas het teruggegroei.

’n Johannesburgse onkoloog beveel nou aan dat Ebert proton-terapie in Duitsland ontvang. Dié terapie dien as ’n tipe bestraling wat minder aggressief is aangesien dit nie omliggende weefsel doodmaak soos gewone bestraling geneig is om te doen nie.

“Die strale kom in met ’n lae frekwensie en kom bymekaar op een spesifieke area. Dié strale vorm saam ’n hoë frekwensie wat die spesifieke area bestraal,” verduidelik Ludik.

Sy verduidelik verder dat dié behandeling spesifiek vir kinders aanbeveel word. Die behandeling is ook ideaal vir Ebert aangesien sy kanker op ’n slegte area in die oor sit wat dit moeilik maak om bloot uit te sny want dit kan erge komplikasies inhou.

Die behandeling beloop egter R1,2 miljoen en Ludik sal vir twee maande lank saam met Ebert in Duitsland moet aanbly. Die gesin sukkel egter om die behandeling finansieel by te bring.

“Op die oog af lyk hy normaal maar ek wat weet, weet hy is siek; weet ook dat hy sal doodgaan as hy nie die behandeling ontvang nie. Ons het nie ’n opsie nie,” vertel Ludik.

Ebert het ’n tweelingsussie en twee ander sibbes, almal blakend gesond. “Ons doen die beste wat ons kan, maar daar is maar moeilike dae. Dit is moeilik as ek alleen met hom in die hospitaal sit en my man moet by die huis wees saam die ander kinders en huistake verrig.”

Sy vertel dat Ebert ten spyte van die feit dat hy ’n hospitaal haat, altyd ’n glimlag op sy gesig het. “Hy is ’n ongelooflike klein seuntjie. Dit help ons om nie in sak en as te gaan sit nie. Ons moet ook vir ons ander kinders se onthalwe positief bly.”

Besoek gerus die Victory for Ebert Ludik-blad om ’n finansiële bydrae te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Genieve ·

Mammie al het julle nie n opsie nie God bly inbeheer ons moet net glo want alle dinge is moontlik by die Here…daar is geen geheim wat God nie kan doen nie wat Hy doen vir ander kan Hy ook doen vir jou seun baie sterkte met alles.

legens ·

ai , dat so `n onskuldige jong kind en sy gesin sulke ellende moet verduur .

Nossob ·

Ai sauna. Gaan en doen dit. Skop nou vir goed die ewel se agterstewe en kom gesond terug.
Ons hou duimvas vir jou

Simoné Bear ·

Maroela media – kan jul ASB die hulpfonds SE besonderhede deurgee.
Is dit ASB moontlik dat jul dalk Kan help Om dit aan verdere media netwerke San te stuur. Annamarie – ons bid !!!!!!!! Boeta jys n wenner liefie kind consideration

Mariné Lourens ·

Dagsê Simoné Bear

Dankie vir jou kommentaar. Besoek gerus die skarefinansieringsblad Victory for Ebert Ludik om ’n finansiële bydrae te maak. Die skakel verskyn ook onderaan die berig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.