Siek Kovsie werf orgaanskenkers deur Facebook

Jordan Barber. Foto: Facebook

Jordan Barber. Foto: Facebook

ʼn Onverwagse diagnose van algehele nierversaking het ʼn jong Kovsie gemotiveer om soveel moontlik mense te kry om hulself beskikbaar te stel vir orgaanskenking.

Jordan Barber (21), ʼn derdejaarstudent in landbouwetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), was ʼn gesonde jong man en kranige sportster toe hy in September tydens ʼn roetine-ondersoek met fase 5-nierversaking gediagnoseer is. Hy moes onmiddellik in die waakeenheid van ʼn Bloemfonteinse hospitaal opgeneem word aangesien sy kreatienvlakke gevaarlik hoog was.

“Die dokters het gesê albei my niere het heeltemal ingegee en ek het omtrent 5% nierfunksie oor,” het hy aan Maroela Media gesê. “Die enigste oplossing is ʼn nieroorplanting en ek is op die waglys vir orgaanskenkingpasiënte geplaas.”

Jordan het gesê daar is egter ongeveer 4 300 Suid-Afrikaners wat op orgaanskenkings wag, terwyl slegs 600 pasiënte per jaar orgaanskenkings ontvang. Dit het Jordan geïnspireer om ʼn Facebook-blad, Jordan’s Organ Pursuit, te begin om bewusmaking rondom orgaanskenking te skep en mense aan te moedig om as orgaanskenkers te registreer. Op die blad deel Jordan sy stryd met nierversaking en algemene feite en statistieke rondom orgaanskenking.

Jordan vertel dat sy direkte familie nie ʼn opsie vir ʼn nierskenking is nie omdat die bloedgroepe nie aanpasbaar is nie en die skenker in dieselfde ouderdomsgroep as hy moet wees. “Ek het al so baie oproepe gekry van mense wat graag ʼn nier vir my wil skenk, maar natuurlik is daar baie mediese faktore wat in ag geneem moet word. Dit is ook ʼn baie langsame proses met ʼn lewende skenker, omdat daar sielkundige aspekte betrokke is en eties opgetree moet word,” verduidelik hy.

Intussen moet Jordan drie keer ʼn week vir vier uur by die hospitaal sit om dialisebehandeling te ontvang. “Die dialise vat nogal baie uit jou uit en vir ʼn paar uur daarna voel ek swak en my kop is seer. Maar dit het nou al so deel van my lewe geword; ek dink nie eintlik meer daaraan nie. Ek pas my skedule rondom dit aan.”

Vandat Jordan met nierversaking gediagnoseer is, moes hy sy rugby-, krieket- en hokkieoefening staak om sy liggaam kans te gee om te rus en te herstel. “Ek dink nie ek sal sommer so aktief kan wees soos wat ek was nie, maar ek het nou weer met fietsry begin en kom stadigaan terug in die ding in.”

Jordan het ʼn beroep op Maroela Media-lesers gedoen om meer te wete te kom oor orgaanskenking en as skenkers te registreer. Besoek gerus die orgaanskenkersorganisasie se webblad hier vir meer inligting en om te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sandra ·

sterkte, ek hoop jy kry sommer baie gou ‘n nier. ek het ook net een nier en ek leef soos voor ek my nier verloor het met kanker. ek sal vir jou bid want daar is net Een wat jou kan help. byt net vas!

tanya ·

Wil graag he die seun moet in kontak kom met my ek is deel van die orgaan skenkers en ek is sy ouderdom. Dalk kan ons kyk of ek nie geskik is ni… dankie

Marieta ·

Tanya, sien hy is op FB…dalk kan jy so met hom kontak maak……net n voorstel!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.