Siek onnie kom huis toe

Fase-4-kolonkanker is onlangs by Dale Benson, ʼn Engels-onderwyser in Viëtnam, gediagnoseer. (Foto: Verskaf)

Die man wie se ma verlede week gepleit het om hulp om hom op ʼn spesiale vlug van Viëtnam na Suid-Afrika terug te bring, is op pad huis toe.

Dale Benson (37) benodig dringend mediese behandeling nadat hy vroeër die maand met fase 4-kolonkanker gediagnoseer is. Maroela Media het vroeër berig dat Benson, ʼn Engels-onderwyser in Viëtnam, op 2 Julie ʼn groot operasie in Hanoi ondergaan het waarna hy met die kanker gediagnoseer is.

Sy ma, Inge Bosman, het Woensdag aan Maroela Media gesê hy is tans op ʼn vlug uit Singapoer onderweg en sal Donderdag in Kaapstad aankom. “Dis die wonderlikste verjaardaggeskenk waarvoor ek kon vra,” sê Bosman, wat Vrydag haar 57ste verjaardag vier.

Dale Benson het op 2 Julie ʼn groot operasie in Hanoi ondergaan. (Foto: Verskaf)

Sy familie was desperaat om hom huis toe te bring aangesien dokters hom slegs enkele weke gegee het om te leef indien hy nie dringend chemoterapie ontvang nie.

Bosman het vroeër aan Maroela Media gesê dat Dale vanweë sy toestand moontlik met ʼn lugambulans vervoer sal moet word aangesien hy verlede week steeds nie regop kon sit nie. Daar was ook kommer dat sy wonde dalk sou oopskeur. Só ʼn vlug sou die familie meer as R2,5 miljoen uit die sak gejaag het.

“Dokters het egter vandeesweek ingestem dat Dale per standaardvlug kan reis mits dit met besigheidsklas is waar hy plat kan lê. Nóg ʼn vereiste was dat ʼn dokter hom vergesel, wat ook so gereël is,” sê Bosman.

Geliefdes het geldinsamelingsinisiatiewe op Go Fund Me en Back a Buddy begin in die hoop om Benson huis toe te bring en bykomende mediese onkoste te dek aangesien hy nie ʼn mediese fonds het nie.

Volgens Bosman is daar reeds sowat R200 000 ingesamel waarvan ʼn groot gedeelte vir die vlug en gepaardgaande mediese onkoste gebruik is.

“Hy vlieg tans met die lugredery Singapore Airlines, wat ook die kortste oorgangsvlug gehad het. Hy sal dan met ʼn rolstoel na die volgende vlug vervoer word.”

Bosman sê haar seun het baie pyn en dat sy wond steeds in dié stadium ʼn groot probleem is.

“Ek het voor sy vlug met hom gepraat en hy is maar swak. Hy moes ook ʼn entjie stap wat baie moeilik was.”

Bosman sê egter sy is oorstelp van vreugde dat Benson huis toe kom.

Benson se jonger broer, Glen (32), is ook tans uit Frankryk onderweg om sy broer en familie by te staan. Hy het ook ʼn sussie, Lauren (32), en tienerbroer, Luke (15), wat volgens sy ma veral baie swaarkry weens sy broer se slegte nuus en toestand. Hy het ook ʼn hegte band met sy stiefsibbe, Riaan en Liana, en sy stiefpa, Manie.

“Dale se behandeling sal bepaal word sodra hy tuis is. Hy sal waarskynlik binnekort met chemoterapie moet begin en ons kyk ook na ander behandelings. Dit sal egter eers bevestig kan word ná hy die onkoloog gesien het.

“Hy sal waarskynlik elke dag verpleging benodig, veral met die toestand van sy wond, maar ook weens ander siektetoestande wat hy tans ervaar.”

Volgens Bosman was die prognose van Hanoise dokters baie swak en besef hulle dat behandeling sy lewe moontlik net met ʼn rukkie sal kan verleng.

“Ons is net dankbaar dat hy tussen sy geliefdes gaan wees en ons sal die beste doen wat ons kan in die tyd wat hy oorhet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tokkel ·

BLY GLO EN BID…Sterkte aan die familie, jul seun en boetie is amper tuis!

Linda ·

Dankie Here U het ons gebede gehoor ! Ons is so bly Dale is op pad huistoe na sy familie.!
Ons God is groot .
Here ons gebed is dat U hom sal omvou met U liefde en genade en so ook Dale se familie x

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.