Siekefondse moet nou Covid-19-entstof betaal

(Foto: Justin Tallis/AFP)

Die Raad op Mediese Skemas sê entstof teen Covid-19 is voortaan deel van die voorgeskrewe minimum voordele vir mediesefondslede, nadat dit deur die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, goedgekeur is.

Die wysiging sluit nou sifting, klinies gepaste toetse, inenting, medisyne, mediese bestuur, waaronder hospitaalopname en die behandeling van komplikasies asook rehabilitasie vir Covid-19 in.

Die raad sê hy het deurlopend beraadslaag met die departement van gesondheid en bedryfsliggame soos die drukgroep Health Funders Association (HFA) en die Raad van Gesondheidfinansiers (BHF) wat ʼn benadering steun om universele toegang, verskaffing en beskikbaarheid van die Covid-19-entstof vir diegene wat geprioritiseer word te verseker.

“Die samewerkende benadering tussen die openbare en staatsektor is daarop gemik om die nasionale poging om kudde-immuniteit van 67% of meer deur billike toegang tot die entstof te verseker. Dit is veral nodig omdat die Covid-19-pandemie ʼn nasionale en internasionale openbare gesondheidskrisis is wat almal raak,” lui ʼn verklaring van die raad.

Die raad sê hy is bewus daarvan dat daar ʼn bykomende las op mediese skemas kan wees om vir entstof voorsiening te maak, maar dat die koste daaraan verbonde nie beperkend behoort te wees nie. Hy sê ook bedryfsliggame het die raad verseker dat die koste verbonde aan die entstof deur die meeste mediese skemas geabsorbeer kan word.

Mkhize het die raad opdrag gegee om voort te gaan met samesprekings met mediese fondse en verenigings in ʼn poging om ʼn omvattende raamwerk te skep wat leiding aan die bedryf en lede van die publiek oor die bykomende voordeel sal gee.

Daar is egter steeds verskeie kwessies wat uitgepluis moet word voordat enige ooreenkoms daaroor aangegaan kan word. Dit sluit in duidelike kriteria oor “geprioritiseerde bevolkings”, kliniese riglyne en protokolle, die finansieringsmodel vir die entstof, bestuursprosesse om vermorsing, misbruik en bedrog te voorkom, asook moontlike uitsluiting van die Covid-19-entstof van die enkeluitgangprys vir medisyne.

Die raad sê hy sal in ooreenstemming met sy mandaat voortgaan om te verseker dat die regte van siekefondslede ten alle tye beskerm word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.