Siekte laat perde (jaarliks) vrek

Deur Petronell Vorster

Argieffoto: Petronell Vorster

ʼn Landswye uitbraak van die gevreesde Afrika-perdesiektevirus (APS) het sedert die begin van Desember 2016 etlike honderde perde se lewens geëis.

Volgens die Afrika Perdesiekte-trust se webwerf is daar tot dusver gedurende die 2016/2017-seisoen 108 gevalle van die siekte aangemeld. Eienaars en veeartse vrees egter dat hierdie statistieke nie akkuraat is nie en dat ’n gebrek aan kennis en ʼn stigma wat aan die siekte kleef veroorsaak dat baie van die gevalle nie aangemeld word nie.

Volgens me. René Brinkman (47), ʼn eienaar in Kyalami wat in April 2017 ʼn siek perd gehad het en al in vorige jare perde aan dié siekte verloor het, is sy bewus van te veel ander gevalle om die statistiekte te glo. “Daar is baie eienaars wat nie eens bewus is van die APS-trust nie en dus nie die gevalle aanmeld nie. Baie eienaars behandel ook self hul perde en gevolglik word daar nie bloed deur veeartse getrek om die siekte te bevestig nie. Daar is ook baie perde in afgeleë gebiede wat aan die siekte vrek.”

Die Wet op Dieresiektes (Wet no. 35 van 1984) bepaal dat perde-eienaars enige verdagte gevalle van APS by die staatsveearts moet rapporteer. Die wet vereis ook verder dat alle perde jaarliks teen die siekte ingeënt moet word.

Argieffoto: Petronell Vorster

Die enigste erkende entstof vir APS word deur Onderstepoort vervaardig en versprei en bestaan uit twee spuite wat die lewende virus bevat en drie weke uitmekaar toegedien moet word.

Sedert 2016 is daar ook ʼn jaarlikse voorgestelde inentingstydperk tussen 1 Junie en 31 Oktober vasgestel. Hierdie inentingstydperk is om te voorkom dat die lewende entstof ʼn uitbraak in die siekte veroorsaak omdat die vektor-aktiwiteite van die muggie wat die siekte veroorsaak in dié tydperk laag is.

Die inenting verseker egter nie dat perde nié die siekte kan opdoen nie. Verskeie gevalle waar perde ʼn lewenslange entingsrekord het en steeds die siekte opgedoen het, is al aangemeld. Hierdie fenomeen word deur baie eienaars beskou as ʼn bewys dat die huidige entstof nie voldoende is nie, en dat daar daadwerklike stappe geneem moet word om ʼn meer effektiewe entstof te ontwikkel.

Die siekte, wat orals in Suid-Afrika behalwe die Wes-Kaap voorkom (laasgenoemde is ʼn perdesiektevrye gebied), word veroorsaak deur ʼn virus (Orbivirus) waarvan daar nege verskillende stereotipes is en word oorgedra deur die Culicoides spp.-muggie wat hoofsaaklik in die laatsomer en vroegherfs in warm, vogtige weer uitbroei.

APS kom in vier verskillende vorms voor:

  • Perdesiektekoors is ʼn ligte vorm van die siekte en simptome sluit koors, moeilike asemhaling, ʼn verhoogde polsslag en soms rooi slymvliese in. Sterftesyfer: 10%.
  • Dikkop (hartvorm) laat die perd se kop, nek en holtes bo die oë swel. Die perd ontwikkel ʼn baie hoë koors en die hart word aangetas. Sterftesyfer: 50-70%.
  • Dunkop (longvorm) is die ernstigste vorm van die siekte. Die perd ontwikkel ʼn hoë koors en skuim begin by sy mond en neusgate vorm omdat hy as’t ware in sy eie vloeistowwe verdrink. Sterftesyfer: 90%.
  • Gemengde vorm kan simptome van beide dikkop en dunkop toon. Sterftesyfer: 90%.

Die siekte kan slegs simptomaties behandel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Perdemens ·

Korreksie: Daar kom wel APS in die Weskaap voor. Daar is slegs ‘n baie klein gedeelte wat wel APS vry is. Die Weskaap is soos volg opgedeel
1. Free Zone
2. Protection Zone
3. Surveillance Zone

Andersins, goeie artikel dankie.

Hartseer ·

Dit verskeur jou hart om te sien hoe jou kind se ‘beste maatjie’ doodgaan! So vinnig dan is als verby!

Carla ·

Dit is ook nie net meer perde wat pedestrian siekte kry nie maar n hele paar gevalle waar honde dood is as gevolg van perde siekte is geraporteer die jaar

Patricia ·

Een van die maniere wat hulle keer dat perdesiekte in die Kaap pos vat is om beweging van perde te beperk of stop as daar siekte is naby die ‘grense’, maar elke jaar is daar in die res van die land groot skoue met perde van elke provinsie wat deelneem al is daar perdesiekte in die omgewing. Dié perde kan onwettend perdesiekte terugvat na hulle eie area.

Jdr ·

The state vets have not been strict enough with quarrentines, horses are still being moved across the country, blood results take so long, your horse has either survived or died days after blood is sent in to be tested! Lots of mystery viruses going around that arent be tested for…

Mercia Smith ·

50 Jaar oue OBP entstof wat geen voorsiening maak vir virus mutasies nie, PCR bloed toetse wat binne 48 uur beskikbaar kan wees maar nie is nie, die AHS Trust website wat eintlik nie eers moet bestaan nie dit is eienaar rapportering gedrewe en getalle wat gereflekteer word ‘n grap. As die regering enigsins Ahs ernstig opneem sal ‘n sentrale, publieke beskikbare waarskuwingstelsel wat deur staatsveeartse opgedateer word soos en wanneer labs uitslae aan staatsveeartse deurgee op die been gebring word. Onbevestigde maar vermoedelike gevalle moet deur eienaar, veeartse aangeteken kan word. Geen kommunikasie is nerens teenwoordig tussen partye om enigsins ‘n verskil te maak nie en eienaars het geen keuse as om hulle tot sosiale media te rig om enigsins inligting te bekom ten opsigte van uitbrake ie fb “African Horse Sickness The Equine Challenge” groep met 11 000 lede vermag meer as al die ander partye gesamentlik, en al die verskonings waarom die entstof faal en veral geente diere vrek verkeerd bewys word. Die amptelike partye stel meer belang in gewin vir hul eie sakke deur deel te neem aan die resies vir ‘n nuwe verbeterde entstof wat elke 5 jaar nog 5 jaar uitgeskuif word terwyl internationale entstof reeds beskikbaar is en baie beter entstof plaaslik se registrasie geblok word deur deelnemers in die entstof resies. Dis ‘n skande en die verlies aan lewens op hulle en die staat se gewete.

Kim Qui ·

Die getalle is baie baie meer as wat ofisiele syfers wys. Entstof is nie die enigste antwoord nie want voorkoming word glad nie gewaarborg nie, en die verskillende behandelings wat wel werk moet meer bekend gemaak word omdat veeart medikasie nie so goed werk soos meer natuurlike medikasies nie. Dit is goed bewys deur eienaars gedurende die seisoen wat perde met medisinale kruie ens gehelp het om deur te trek.

Zuzette van Zyl ·

Kan die skrywer bietjie navorsing doen en ‘n beter artikel skryf. Sluit in dat die entstof erg verouderd is en dat Onderstepoort geen moeite doen om dit te verbeter nie. Ook dat daar instansies is wat ‘n beter entstof maak en elke jaat die vorige jaar se serotipes insluit, maar dat hulle evrhoed word om te registreer en dat hulle entstof nie erken word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.