Sielkundige waarneming vir hofordonnans oor omkoopgeld vir seks

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Hofordonnans, wat glo R150 omkoopgeld aanvaar het om ʼn verhoorafwagtende gevangene toe te laat om seks met ʼn gevangene se meisie te hê, is Vrydag vir 30 dae sielkundige waarneming gestuur.

Ao Bongani Ndikho (42), wat op ʼn waarskuwing vrygelaat is, was in bevel van gevangenes wat in die hof moet verskyn toe die beweerde voorval in Maart 2013 in die aanhoudingselle by die Wynberg-streekshof in Kaapstad plaasgevind het.

Landdros W Rixana het hom, op versoek van staatsaanklaer Simone Liedeman, beveel om as ʼn buite-pasiënt by die Valkenberg psigiatriese hospitaal aan te meld. Hy sal opgeneem word sodra ʼn bed beskikbaar is. Die staatsaanklaer het gesê sy het ʼn mediese sertifikaat en ʼn brief van ʼn psigiater dat Ndikho aan erge depressie ly en nie tydens die hofverrigtinge kan fokus nie. Hy sukkel ook om met ander mense te kommunikeer, ly aan geheueverlies en sukkel om te konsentreer.

Ndikho het aan die hof gesê ʼn kameraman het hom ná sy vorige hofverskyning deur Bellville se strate gejaag en hy het beswaar aangeteken teen die media se teenwoordigheid in die hof. Hy wil nie hê sy foto moet gepubliseer word nie. “Dit is ʼn korrupsiesaak en die mediateenwoordigheid benadeel my en my siek ma,” het hy gesê. Hy het gesê die fotograaf het hom ongeveer 500 m ver gejaag.

Die landdros het die media aangesê om ʼn formele aansoek te bring indien hulle foto’s of beeldmateriaal in die hofsaal wil neem. Die hof het egter geen beheer wat buite gebeur nie, het hy verduidelik. Hy het gesê Ndikho het die reg tot privaatheid en hy moet die probleem met sy prokureur, Chantelle Morgan, bespreek wat ʼn siviele saak namens hom kan indien vir skadevergoeding teen die koerant wat die foto sonder sy toestemming gepubliseer het.

Die gevangene John Maggot, wat glo die R150 vir Ndikho gegee het, het saam met hom in die hof verskyn.

Ndikho staar twee aanklagte van korrupsie in die gesig. Een hou verband met die beweerde R150 omkoopgeld vir seks en die ander aanklag hou verband met beweerde bykomende omkoopgeld van R12 000 wat hy ontvang het om daggapakkies vir Maggot te smokkel.

Maggot staar dieselfde twee aanklagte in die gesê.

Albei mans staar ook ʼn aanklag wat verband hou met dwelmhandel in die gesig.

Die klagstaat verwys ook na ʼn aantal SMS-boodskappe waarin reëlings getref word vir die daggapakkies wat aan Ndikho oorhandig moet word, wat hy op sy beurt vir Maggot moet gee. In een SMS het Ndikho glo gesê indien die omkoopgeld “nie ʼn blok (R1 000) is nie”, moet die persoon nie eers die moeite doen om op te daag nie. Die staatsaanklaer voer aan Ndikho het op 27 Maart 2013 R12 000 in sy bankrekening gedeponeer.

Die saak is tot 18 Augustus uitgestel sodat die sielkundige waarneming afgehandel kan word.

Dit is nie bekend gemaak waarvoor Maggot verhoorafwagtend is nie. -SAPA

Lees ook:
Hofordonnans in hof oor omkoopgeld vir seks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Erich Goosen ·

As alle korrupte amptenare van Korrektiewe Dienste vir geestelike waarneming verwys moet word omdat hulle omkoopgeld aanvaar kan ons netsowel die tronke se deure oopgooi en die aangehoudenes huistoe stuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.