Sigaretverbod: Prysmakietie vir onwettige handelaars, maar ‘weinig openbare belang’

(Foto: Maroela Media)

Onlangse navorsing deur die Universiteit van Kaapstad het bevind die prys van sigarette wat onwettig verkoop word, het tydens die voortgesette afsonderingstydperk selfs verder die hoogte ingeskiet en terwyl die verbod ʼn fees vir onwettige handelaars se sakke is, is daar weinig openbare gesondheidsbelang.

Die navorsers voer aan dat die verbod ná vlak 5 van die afsonderingsregulasies misplaas was en dadelik opgehef behoort te word.

Hulle het bevind as ʼn manier om rokers te kry om op te hou, het die verbod nou sy beperkte nut uitgedien en 70% van diegene wat opgehou rook het, het dit reeds voor 2 Mei (tydens vlak 5 van die afsondering) gedoen. ʼn Studie wat in die eerste vyf weke van die afsonderingstydperk gedoen is, het gewys dat net 16% van rokers die gewoonte laat staan het.

Prof. Corné van Walbeek, direkteur van die navorsingseenheid oor die ekonomie van aksynsprodukte by die universiteit, het gesê die bedoelde afsonderingsvoordeel om mense aan te moedig om op te hou rook, het grootliks op vlak 5 gerealiseer. Die persentasie respondente wat daarna opgehou het, is bitter klein.

Die getal respondente wat gesê het dat hulle nou gereeld sigarette deel, het van 1,7% tot 8,9% toegeneem terwyl die prys van sigarette in sommige gevalle tot 250% meer is as markpryse voor die afsonderingstydperk.

“Die gemiddelde prys per sigaret was R5,69 of R114 per pakkie van 20. Sommige respondente het pryse van tot R300 per pakkie van 20 sigarette of R3 000 per karton van 200 sigarette aangemeld. Dit is beduidend hoër as die 90% toename in sigaretpryse wat in vroeëre navorsing in Mei waargeneem is.”

Die navorsing is vroeg in Junie oor ʼn tydperk van twee weke gedoen en 23 000 respondente het aanlyn deelgeneem. Die navorsing is onder meer gefinansier deur die Bill en Melinda Gates-stigting, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR).

(Foto: Jackson Mthembu/Twitter)

In ʼn opsomming van hul navorsing sê die navorsingspan die verbod word ondermyn deur die bewyse wat hulle gevind het.

“Die skrywers van die verslag voer aan dat die bedoeling van die verbod op verkope, wat betref ophou rook en die vermindering van die verspreiding van Covid-19 deur die deel van sigarette, ondermyn word deur die feit dat soveel mense steeds rook, asook deur die toenemende gebruik om sigarette te deel.”

Hulle meen die verlenging van die afsonderingstydperk ná vlak 5 was misplaas en beveel aan dat die verbod dadelik opgehef word. Die verbod het reeds die onwettige mark ʼn beduidende hupstoot gegee. Onwettige verspreidingskanale word al hoe meer gevestig en dit gaan blywende openbare gesondheid- en ekonomiese gevolge inhou.

Die studie het bevind voor die afsonderingstydperk is 53% van sigarette deur formele kleinhandelaars verkoop, maar dit het nou tot 0,3% gedaal. Die meeste sigarette word nou deur sogenaamde informele kanale soos spazawinkels en straatsmouse verkoop. Hulle is in hierdie stadium verantwoordelik vir sowat 36% van voortgesette verkope.

Die navorsers het bevind die regering verloor vir elke week van die verbod boonop sowat R1 miljard in inkomste. Die formele tabakmark is reeds geweldig gedestabiliseer.

“Die verbod op tabakprodukte tydens die afsondering het die sigaretmark heeltemal omvergewerp. Dit mark het heeltemal verander,” het Van Walbeek gesê.

“Terwyl multinasionale korporasies vantevore die mark oorheers het, het hul aandeel van verkope nou gedaal tot minder as 20% van diegene wat uitgevra is. Die meeste van ons respondente is gedwing om van handelsmerk te verander en ʼn groot gedeelte [van die handelsmerke] word plaaslik vervaardig.”

(Argieffoto: Tony Dejak, AP)

Meer as die helfte van alle sigarette wat gekoop is deur diegene wat aan die studie deelgeneem het, is handelsmerke van maatskappye in die Fair-Trade Independent Tobacco Association (Fita)-stal. Dit sluit die Gold Leaf Tobacco Corporation, Carnilinx en die Best Tobacco Company in.

British American Tobacco (Batsa) het teruggesak tot in die vyfde plek en sy handelsmerke verteenwoordig nou net 9% van dít wat respondente gekoop het.

“Vervaardigers wat vantevore in die skadu van die multinasionale maatskappye bedryf is, het hul markaandeel onder diegene wat aan die opname deelgeneem het, beduidend vergroot. Daar gaan waarskynlik ʼn prysoorlog plaasvind wanneer die verbod opgehef word,” het die navorsers bevind.

Die internasionale maatskappye sal waarskynlik dié markaandeel probeer terugwen. Hulle plaaslike mededingers wat ʼn hupstoot gekry het danksy die wins wat tydens die afsonderingstydperk gemaak is, gaan weer aan hulle markaandeel wil vasklou. Pryse gaan dus na verwagting daal tot dít wat voor die afsonderingstydperk gesien is.

Nagenoeg sewe miljoen Suid-Afrikaners is rokers.

Beide Fita en Batsa is tans in hofsake gewikkel om die verbod te laat ophef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Frans ·

Enigiets wat oordoen word het ‘n negatiewe uitwerking.Te veel drink,te veel eet,te hoë spoed,te veel rook,te drakoniese wetgewing.Ek kry alhoemeer die gevoel dat Nkosazana Dlamini-Zuma dalk nouer bande met die onwettige sigarethandellaars het as wat bewys kan word.
Dit lyk vir my of sy deur die verbod wil seker maak van ruimskootse finansiële ondersteuning in haar veldtog om Ramaphosa uit die saal te lig.
Ek is dalk verkeerd maar haar halstarrige optrede in die rookverbod raak nou alhoemeer belaglik en is die skade aan die staatskas onberekenbaar en met elke sent wat so verlore gaan en wat weer geleen moet word beweeg Suid Afrika alhoenader aan ‘n fiskale afgrond.Een Zuma was genoeg,Suid Afrika kan nie nog een oorleef nie.

Pierre ·

Ons weet al lankal sy is kop in een mus met hulle. Haar seun besit dan fabriek in KZN wat dit maak.

Nie Verbaas ·

En so NDZ word alweer bewys dat meer mense nou sigarette deel. Ek wonder wat gaan die volgende verskoning wees? Ek is bly ons het n regering wat ons so lekker kan laat lag en hulle onvermoe op n daaglikse basis ten toon stel.

Rita ·

JA, MAAR NA LEKKER LAG KOM LEKKER HUIL!!!! ONS REGERING IS ‘N GRAP WAT GLADNIE SNAAKS IS NIE.

Andre ·

Is dit nie ook maar net nog ‘n wet om kriminele te beskerm nie? Wie beskerm dit met alle mag?

Hennie J ·

Ja, ek is een van die beduidende min rokers wat opgehou het. Na 55 jaar van volstoom rook en dit geniet het, het ek 66 dae gelede besluit geen half-aan-die-slaap ou vrou met n kopdoek gaan my in n krimineel laat verander nie en geen krimineel gaan deur my verryk word nie. Let wel ek het opgehou sonder enige intervensie en dit was taai maar haalbaar.
Neem kennis, ek het opgehou koop en gebruik. Sodra die lagwekkende beperking opgehef is sal ek n pakkie van my gunsteling sigarette koop en dan sal ek en die pakkie n geslote vergadering hou waarna ek sal besluit of ek opgehou rook het.
Laat my dink aan die ou wat eendag gelees het hoe skadelik rook vir die menns is. Hy het dadelik opgehou………..lees.

Pieter ·

So gaan dit as jy brein dood is. Gaan op IMF se facebook blad en ondersteun die ander mense om nie geld vir die siek ANC kommuniste te leen nie. Hulle wil gaan geld leen om te plunder maar hulle het dan nie die belasting geld nodig op drank en sigarette nie.

Simon ·

Waar kom die smokkelaars aan die sigarette? Die ANC weet presies wie die smokkelaaars, die bron en die oorsprong is. Hulle tree nie op nie want dit is nog net ‘n manier om wit ekonomie te knak. Polisie wat sigarette konfiskeer speel net so lekker saam.
Het jy ‘n oom in die Polisie_handel? Kry jou sigarette daar teen gister se bilikke pryse!

Punisher ·

NDZ en haar kinders natuurlik! Maak geld op swart mark natuurlik…

Persheks Adri ·

Die regering is dan verslaaf aan omkopery, korrupsie en hul koppe weg te draai vir moord en dood en die reëls is dubbel sinnig genade man! Wat van mense wat verslaaf is aan drugs, dagga, pille ens? Dagga rook is ook aanvaarbaar vir hulle en NDZ maak geld op swart mark en word steeds nie vervolg nie! Lyk my hul wil hê ons moet die plekke gaan plunder soos our people en maak soos taxi organisasies. Ek’s taamlik gatvol vir die sirkus nou

JohanR ·

Ek sien meer en meer mense wat nou stompies in die straate. malls winkels ens optel, en hulle is nie jou gewone down and out wat jy sien dit doen nie, maar jou middelklas. Nou as jy aan daai stompie gaan suig wat sit daar nie aan nie? Miskien beter om ‘n paar stompies se tabak in dun papier op te rol, en soe jou “fix” te kry.

ZeldA ·

Ek kan nie help om te wonder…. wie gaan vir die verlore tax betaal? Hulle gaan verseker dit inhaal op iets anders.

JohanR ·

Zelda…..hulle gaan nou agter mense se pensione aan. Hulle sal alles plunder!

Persheks Adri ·

NDZ ek haar kinders kan dit gerus betaal! Hulle het genoeg geld gemaak

Peetjie ·

As hierdie sirkus verby is, gaan hulle die prys behou en so opmaak vir die verliese, want die mense het mos nou gewys hulle is bereid om astronomiese pryse te betaal… Watch it…

Oom Hennie Pennie ·

Goeie tyd om op te hou rook. Ek al 30 jaar gelede opgehou nadat ek 3 pakkies twintig ‘n dag gerook het.

Stefan ·

Ek weet van 2 onwettige handelaars wat fortuine maak, waar kan ek hulle aankla?

gatgogga ·

Die miljarde verlies aan staatsinkomste as gevolg van tabakverbod belasting verliese, sal eersdaags aangesuiwer moet word. En dit gaan via verhoogde belastings geskied.
Dus, die belastings wat deur tabakverkope van die hand gewys word, sal nou DEUR NIE-ROKERS NAMENS ROKERS BETAAL WORD.

katerinadiekat ·

Nee. My man en ek is altwee rokers, hy betaal n hengse bedrag inkomste belasting. So die rokers gaan Ook betaal.

Janneman ·

Waar kom jy nie-rokers gaan namens rokers betaal. As ons nie gerook het nie sou die regering elkgeval daai geld iewers anders verhaal het. Sê dankie vir die rokers anders sou almal lankal baie meer belasting betaal het om die sakke vol te kan maak.

Adam Adriaan ·

Die mense wat die sg regering is, is siek en mags dronk, met NDZ wat die touleier is.

4ntj13 ·

Ek dink dis hoog tyd dat die rokers gelos word om hul liggame op te voeter soos hulle wil. Vuurhoutjie-aanbidders is báie groter longvernietigers en eiendomsvernietigers as wat rokers ooit kan droom om te wees. Al daai belasting was boonop op die verkeerde artikel. As vuurhoutjies en hul maters vir NDZ eerder geld verdien het, sou rokers dalk veel eerder twee keer gedink het. Dis nie sigarette wat als op die aardbol laat verbrand nie!

Jakes ·

Die rook relaas sal vir ewig aanhou tensy die groot rolspelers in die bedryf ernstige aksie teen die verbod neem. Die agbare lede in die kabinet wat rook moet bekendmaak waar hulle hul siggarette daagliks koop? Dit is erg te betwyfel dat nie een van hulle n dampie maak nie.

Maritza ·

Hoe langer sy die rokers gysselaar hou, hoe meer geld maak sy. Hoekom bekommerd wees oor mense wat nou werkloos sit, solank sy nie te kort kom nie.

Sê Ook Maar Net ·

Ek is geen ekspert maar ek dink die ekperts is verkeerd.Rook partikels gesien onder ‘n mikroskoop het “hakkies” wat aan alles klou. Dis daarom wat alles na rook ruik as ‘n roker naby was. Ek ry gister agter ‘n motoris wat rook en ek kon sowaar sy rook van sy sigaret ruik.Nou maak ek ‘n bevinding. Rook partikels is baie lig en Covid partikels ryloop as te ware op die rook walms wat uit die roker se longe kom en word so verprei. Covid partikels wat op “droplets” versprei deur praat,hoes of nies val vinniger grond toe.Hierdie bevinding het betrekking op die VERSPREIDING en NIE met die feit wat Dlamini-Zuma sê dat rokers hoër risiko het om dood te gaan weens verswakte longe. Voorts beteken dit “siek” persone hulle masker afhaal om te rook. So as jy wil rook..doen dit by die huis

Persheks Adri ·

Ons rook by ons huis moet jy nie worry nie en daar bestaan nog steeds ordentlike rokers! Ek rook nie in my voertuie of huis nie. Sê ook maar net hoor!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.