Sigaretverkope: Polisielede vra glo omkoopgeld  

Argieffoto ter illustrasie: SAPD

Vier polisiebeamptes van Worcester in die Wes-Kaap is in hegtenis geneem nadat hulle glo omkoopgeld aanvaar het van winkeliers wat tydens die afsonderingstydperk sigarette sou verkoop het.

Die twee adjudant-offisiere, onderskeidelik 45 en 48 jaar oud, en twee sersante, onderskeidelik 43 en 53 jaar oud, is Maandag in hegtenis geneem.

“Daar word beweer die beamptes het tussen 4 en 21 Junie omkoopgeld aanvaar van talle winkeliers in die Worcester-area,” het kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, gesê.

Die winkeliers het glo die geld betaal om te verhoed dat hul in hegtenis geneem word aangesien hulle nie sigarette mag verkoop nie ingevolge die afsonderingsregulasies.

“Die beamptes is geïdentifiseer en aan voorvalle verbind deur middel van die verklarings van getuies, beeldmateriaal, diensregisters en voertuigliggingverslae.”

Volgens Van Wyk is die dossiere aan die kantoor van die direkteur van openbare vervolgings in die Wes-Kaap voorgelê en is daar besluit dat die beamptes van korrupsie aangekla moet word.

“Die bestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens bly daartoe verbind om alle vorms van korrupsie uit te roei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

christo ·

Die sigarette verbod is belaglik. Waar het jy in die wêreld gesien dat tabakprodukte onwettig is? So lank ‘n sekere minister haar volgende verkiesing as hoof van die ANC befonds sal die sigaret swartmark floreer. Al word die verkoop van sigarette ooit weer gewettig word, is die swart mark se roetes gevestig en sal dit meer floreer as ooit. Nou gebruik NDZ die polisie om haar belastingvrye inkomste te beskerm. Die SAPD kan veel beter aangewend word om misdaad soos huisrowe, geslagsgeweld en plaasaanvalle te beveg.

The Painter ·

Mens kan maar net toe-kyk en kopskud ???? …. asof die manier van die polisieëring nou iets nuuts is ?

Genis ·

Hoekom is ons nie geskok nie, dis aan die orde van die dag. Die SAPD is al erger as die Metro Polisie.. Wolf in skaap klere…

Scalla ·

Tjo Tjo geld, volg net regering se voorbeeld wat korupsie aan betref.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.