Sikloon Idai: Ná die storm

sikloon-01

Foto: Leon-Ben Lamprecht

Meer as twee maande nadat ’n natuurramp in Mosambiek kerkdakke afgeruk en bome ontwortel het, gaan Leon-Ben Lamprecht op ’n weeklange “gemeentebesoek” van Maputo tot in Beira. Lamprecht het hierdie storie en foto’s verskaf wat oorspronklik in die Kerkbode verskyn het.

‘Nou moet ons bou’

Dit is ’n gewone Sondagoggend in Mei in Beira, in sentrale Mosambiek. By die Igreja Reformada em Moçambique-kerk (ook bekend as die IRM, of dan die Mosambiekse gereformeerde kerk) se diens word gedans en gesing, soos normaalweg tydens die diens. Jillende vrouestemme klink op; kinders lag.

Maar dit is ’n lag-en-sing-en-dans ten spyte van.

Binne skyn die lig effens blou, soos die sonlig deur die plastiekseile op die dak breek. Dié plastiek is ’n noodmaatreël nadat die kerk se dak grootliks afgeruk is deur sikloon Idai, wat in Maart ’n pad van verwoesting deur Madagaskar, Malawi, Zimbabwe en veral Mosambiek gekerf het.

Meer as ’n duisend mense het in die sikloon omgekom, en meer as 2 000 word nog steeds vermis. Die Wêreldbank se vroeë skattings is dat minstens $2 mil­jard se skade deur Idai aangerig is.

Die water van die reën het hier by die IRM in Beira kuithoogte gestaan, en in die huis van die kerk se leraar, Alberto Fane, ingestroom.

En die kerk het nog relatief lig daarvan afgekom.

Foto: Leon-Ben Lamprecht.

Dit is twee maande sedert Idai as ’n kategorie 2-storm (dis later bevorder tot kategorie 3) op 15 Maart Beira met sy volle mag getref het. Dié stad was in die oog van die storm.

Die hawestad, tuiste van sowat 500 000 mense, is verniel en die impak is nog sigbaar. Al langs Avenida Mateus Sansao Muthemba is daar reusegate in die pad. Die verlepte Grande Hotel, met sy 100 plus kamers, staan ook hier. Dit wat eens ’n luukse kuierplek vir die rykes was, is deesdae ’n vertikale krotbuurt wat tussen 1 000 en 3 000 mense huisves (afhangend van wie jy glo) wat geen ander heenkome het nie.

Hoewel dié hotel blootgestel was aan Idai se winde wat by die 200 km/h gedraai het, en die inwoners die meeste van hul besittings verloor het en steeds gedeel­telik afhanklik is van voedselskenkings om te oorleef, bly hulle nog hier. Soos Fane verduidelik: “Hulle het nie geld vir huur nie, en hier bly hulle minstens verniet.”

Neffens Avenida das FPLM, ook teen die strandfront, lê bome nog plek-plek op die sypaadjie en die strand gestrooi, asof ’n reusetuinier dit soos onkruid uitgeruk het.

Die Katolieke Kerk in die toeristestreek Macuti, Sagrado Coração de Jesus, se dak is totaal deur die winde afgeskil, en die helfte van die mure staan nie meer nie.

Niemand is hier ontsien nie. In die relatief welaf woonbuurt van Marora is daar nou nog huise wat dakloos is. Ross Muir, eienaar van Biques-restaurant, reg teen die strand hier, vertel vanuit die restaurant se kroeg (waar foto’s van Joel Stransky se Wêreldbeker-wenskepskop teen die muur hang) dat die wind so gewaai het, dat jy nie kon slaap nie.

“Ek is al deur drie of vier siklone, maar dié een was so sterk… Jy het net die wind hoor huil, bome hoor losskeur en hoe dakke afgeruk word.”

Foto: Leon-Ben Lamprecht.

Dit is geen wonder nie dat die VN in Maart aan The New York Times dié storm as een van die ergste weerverwante rampe ooit in die Suidelike Half­rond beskryf het nie.

Ross vertel sommige van sy vriende is in sak en as.

“Hierdie is welaf mense, wat alles verloor het waarvoor hulle die laaste 12 jaar gewerk het. Ek wil nie eens dink wat die impak op die platteland was nie.”

En die impak is ontsaglik op die meer afgeleë dele van die land; dis byna ’n oefening in onmoontlikheid om dit te probeer beskryf. Dit is asof die skade abstrak raak.

Die EN6-pad tussen Beira en Inchope, sowat 130 km wes, is plek-plek verspoel (en van die brûe is heeltemal weggespoel). Jy staan vir meer as ’n uur by ’n stop-en-ry-punt voordat jy kan deurry.

By die dorpie Buzi kan jy die vloedlyne in bruin strepe teen van die huise sien – só hoog het die water gestaan. Op ’n staptog deur die dorpie, vertel van die plaaslike inwoners aan ds. Gabriel Chibotha, moderator van die IRM in die Novo-streek, dat hulle in ’n alkoholfabriektoring se tweede en derde verdiepings moes skuil teen die waters. Hulle moes van daar met bote karwei word.

In Guara-Guara, sowat ’n uur per motorfiets wes van Buzi, is ’n massiewe vlugtelingkamp op die been gebring. Mense van Buzi is hierheen gebring, omdat die vrese bestaan dat toekoms­tige vloede weer die dorp op sy knieë gaan bring.

Hier vind jy vernietigde mielielande en weggespoelde rysvelde. ’n Noodwerker van Oxfam vertel een van die groot probleme hier is dat die plotte wat vir Idai-geraaktes uitgepen word, nie groot genoeg is om weer te plant vir ’n oes nie.

“Nou deel die regering nog rys en olie en bone uit, maar as gevolg van die verlore oes, gaan hierdie ’n langtermynprobleem wees.”

Net buite die dorpie Bandua, sowat 35 km suidwes van Buzi, vertel Mama Ruthi Jacobe, ’n ouderling in die plaaslike IRM-gemeente, dat sy en sewe van haar kinders en kleinkinders vir vier dae in ’n boom by die plaaslike skool teen die vloedwaters moes skuil.

Foto: Leon-Ben Lamprecht.

Sy het Saterdag 16 Maart om 23:00 die water hoor kom, en haar gesin gegryp en gevlug. Hulle het geen water of kos in hierdie tyd gehad nie.

“Die moeilikste was om almal wakker te hou in die boom, want jy was bang hulle val in die water en verdrink.” Ander mense het komberse of capluanas (’n tipe Mosambiekse sarong) by hulle gehad om hulle aan die bome mee vas te bind, maar nie Mama Ruthi nie.

En steeds was dit elders erger: Op die skool se dak, langs hulle boom, moes 200 mense teen die vloed en winde skuil. Ook hier het die waters ’n bruin lyn gelos waar dit aan die nok van die dak begin lek het.

Mark Harper, ’n sendeling van Pro Vision, het in Bandua saam met sy vrou Lesley en Johan van Helsdingen (van Africa for Christ Ministries) kom uithelp met, onder meer, waterfiltrering en om weduwees, weeskinders en ou mense by te staan met huise en om te help kos voorsien. Die krag is al maande lank hier af, en hul kragopwekker word ook deur die dorp gebruik.

“Die ding wat my erg vang, is dat hierdie mense brandarm was vóór hierdie sikloon getref het. Hier is ’n soort spirituele onderdrukking in hierdie plek wat my onderkry.

“Maar weet jy, die Here is goed. Ons plan was om 21 families hier te kom help. Op die ou end het ons al 600 families kon bystaan. En nog kos kom net, en nog kos kom net.”

Nova Sofala, sowat 40 km oos van Bandua teen die see, het nie werklike vloedskade nie, maar die wind het getier: palmbome (dié wat nog staan) se blare wys almal in dieselfde westelike rigting, soos wat die wind dit geruk het. Modderhutte is hier onseremonieel platgewaai, en kragpale gebreek soos tandestokkies. Selfs die magtige kremetartbome is ontwortel en omgestoot.

’n Skermskoot van Leon-Ben Lamprecht se roete.

“Hier is chaos, maar dis ’n geordende chaos,” sê Willem Nel, ’n sendeling van Volta A Biblia-Bybelskool. Hy het van sy studente hierheen gebring om die gemeenskap hier te kom dien – met van evangelisasie tot kosverspreiding.

“Ons het nie baie in ons hande nie, maar ons kan die kerk kom bemoedig.”

Die plaaslike pastoor van die Nova Sofala, Mandava Antonio, het sy siek ma in Buzi gaan besoek toe Idai tref. Hy en sy gesin is toe vir drie dae in ’n boom vasgekeer, vertel Willem.

“En toe hy terugkom, moes hy sien dat sy huis omgewaai het. Hy is maar agt maande hier! Maar weet jy, die gemeente het al hul besittings betyds uitgedra. Hier is ’n verskriklike mooi gees.”

Hy gee toe dat kos-sekuriteit ’n bekommernis is, maar hy “dink die grootste krisis is oor”.

“Maar hier is baie werk. En dit is baie moeilik om te sê, want die omvang van die skade is so groot. ’n Mens kyk nie na hoe kry jy dit by hoe dit was nie, maar jy kyk na hoe bemoedig jy mense om weer kans te sien om aan te gaan,” gaan hy voort.

Een van die groot behoeftes, sê Willem, is evangelisasie.

“Die kerk staan, maar ons is bekommerd oor die evangelie, want die hart van die evangelie staan nog nie.” Maar, sê hy, so ’n ramp het verrassende gevolge: “Dis die interessante ding: vir Europeërs bevraagteken dit hul geloof, maar vir Afrika-ouens versterk dit hulle geloof… Hulle sê God het ons net kom wys hoe groot hy is.”

Llewellyn Oliver, leraar van die Lewende Gemeente Maputo, was deel van die span wat die aanvanklike noodlenigingswerk in die rampgeteisterde gebied kom doen het. Hy het ook gehelp om die sogenaamde IRM Project Nova Vida (Projek Nuwe Lewe) te skep.

Dié projek is ’n hulpverleningsprogram juis vir die impak van Idai. Nova Vida is gebore nadat een van die gemeentelede by Buzi in die nadraai van die vloed gesê het dat hulle nou ’n nuwe lewe op die ou een moet bou.

“En dit was vir my so mooi,” sê Llewellyn.

Meer as 900 families van die IRM is deur die ramp geraak.

“Jy weet, in hierdie tyd van #morelexit en die hele gaydebat, is hierdie ’n goeienuus-storie. Ons het reeds R380 000 ingesamel. Dit is ’n goeie storie van hoe die kerk kan saamstaan!” gaan hy voort.

Die onmiddellike behoefte was aan kos.

“Jy kan niks vir ’n honger mens sê nie. En in Matteus 25 sê Jesus self Hy was honger.”

Foto: Leon-Ben Lamprecht.

Kos is waarskynlik vir sowat ses maande nodig, totdat die boerderye weer op die been is. Klere is ook belangrik, en dan om kerke te herbou, want in Mosambiek dien die kerkgeboue ook as gemeenskapsentra.

Llewellyn skat hulle het nog so R250 000 nodig om sowat 20 kerke te herbou. Hulle wil ook saad aankoop, sodat gewasse weer aangeplant kan word.

En dan is die behoefte aan gemeentes om spanne te stuur om te kom help.

“Ons het hande nodig. Kom slaan die spykers in, en kom vertel die storie van die evangelie. Wat hierdie mense hier nodig het, is die hoop wat met die evangelie kom.

“As ons net kos en klere gee, kan ons net sowel die VN wees. Ons moet Christus se liefde kom wys.”

  • Leon-Ben Lamprecht is ’n vryskutjoernalis van Wellington.
  • Addisionele bronne:Netwerk24; Maroela Media; Wikipedia; Atlas Obscura; Wêreldbank.
  • Kontak Llewellyn by [email protected]as jy en jou gemeente betrokke wil raak.
  • Dié berig het oorspronklik in Kerkbode verskyn. Besoek www.kerkbode.co.za vir meer omgeestories soos dié.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.