Silo-krisis: Solidariteit vermaan Eskom oor vaardigheidstekort

Foto: GCIS

Foto: GCIS

Die vakbond Solidariteit het die kragreus Eskom vandag vir die soveelste keer gewaarsku oor sy ernstige vaardigheidstekort en die onvoldoende instandhouding van sy kragstasies.

Solidariteit het Eskom veroordeel en gesê dat die maatskappy vir etlike jare reeds teen die vaardigheidstekorte gewaarsku word en dat daar ʼn uittog van kundiges uit die maatskappy is, maar dat hierdie waarskuwings op dowe ore geval het.

Solidariteit se reaksie volg nadat ʼn silo met tonne steenkool by Eskom se Majuba-kragstasie gister ineengestort het en die ganse land nou as ʼn gevolg daarvan, soos gedurende die landswye kragkrisis in 2008, beurtkrag moet verduur.

Volgens Deon Reyneke, hoof van die energiebedryf by Solidariteit, waarsku die vakbond Eskom al sedert 2007 oor die gevolge wat sy ernstige vaardigheidstekort en die neem van kortpaaie tydens roetine-instandhouding vir die maatskappy en die ganse Suid-Afrika inhou. Hy sê Solidariteit eis nou die nodige optrede van Eskom.

“Die tyd het aangebreek dat Eskom verantwoording moet doen vir sy onwilligheid om aan hierdie kwessies aandag te skenk. Solidariteit sal Eskom daarom versoek om ʼn behoorlike opname van sy huidige vaardigheidspoel te doen en om die ernstige gebreke daarin die hoof te bied. Eskom kan nie nóg ʼn krisis soos gister bekostig nie,” sê Reyneke.

Daarbenewens blyk dit dat onproduktiwiteit van werknemers ook ʼn groot struikelblok vir die maatskappy is. Dit het byvoorbeeld onlangs onder Solidariteit se aandag gekom dat slegs ongeveer 13 000 van Eskom se 43 000 werknemers ten volle produktief is. Reyneke meen dít en ander kwessies sal voortdurend voor Eskom se deur gelê word totdat die maatskappy daadwerklik optree om dit op te los.

Solidariteit waarsku al ’n geruime tyd lank oor die omvang van die tekort aan ingenieurs en ambagslui in Suid-Afrika. Boonop word ambagslui nie voldoende daarvoor vergoed dat hulle in die behoefte aan skaars vaardighede voorsien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

eksteen ·

Hierdie slim mense se onkunde het hulle ingehaal, staal u vir nog meer SNERT.

Francois ·

Die tyd het nie NOU aangebreek vir Eskom om verantwoording te doen nie. DIT het al in 1994 begin met die nuwe regering…maar nee hulle het gedink kom ons kyk HOE lank ons DIE soustrein kan ry! Nou het dit hulle ingehaal – die sous is op – en hulle is soos ‘n hond wat agter ‘n kar aan hardloop…as hy hom vang weet hy nie wat om met hom te maak nie.

Tertius Vosloo ·

Waarom kan die verskaffing van elektrisiteit aan Lesotho en Botswana nie verdomp gestaak word nie of laat hulle beurtkrag infasseer in hul daaglikse roetine!

gert ·

@Tertius. Botswana is probleem ja, hulle het net een kragstasie. Lesotho wek al sy eie krag op deur die waterskema. Eerder Mozambique wat sy Mozal krag van RSA kry @ minder as die opwekkingskoste in Suid-Afrika.

gert ·

Stem saam met Solidariteit se waarskuwing. Maar, laat ons besef dat die ineenstorting van die verdelings-silo nie moontlik nie direk aan die gebrek aan onderhoud gekoppel kan word nie. 20+ jaar gelede toe die ingenieurswerk en konstruksie van Majuba gedoen is, was dit nog onder destydse wit ingenieurs se ontwerp en toesig gedoen.

Miskien kan die blaam geplaas word op gebrek aan instandhoudings inspeksies deur kundiges. En daarvoor sal ESKOM moet pa-staan.

Dalk sal die ongeluk bewys word as ‘n ontwerp fout. Wie weet.

Maar dalk is dit die strooi wat die huidige regering, met Zuma in die leiersposisie, se kameel se rug kan breek.

Laat ons elkeen homself maar voorberei vir moeilikheid in die komende dae. By die werk sonder krag of in die politiek, agv gebrek aan leierskap.

Iemand se kop gaan rol, verseker.

Hendriette ·

Die probleem is, hulle wag altyd totdat iets stukkend gaan voordat daar iets aan gedoen word. Kyk ons treine. Van die treine is 30 jaar en ouer, maar hulle word die afgelope 20 jaar so sleg onderhou dat n trein wat 30+ jaar fantasties was ook nou sal ingee. Selfde storie met die silo. Hulle het gesit en wag totdat iets fout gaan ipv ordentlik onderhoud en instandhouding te doen aan ‘n ou, uit “apartheidstyd” silo. Wat het hulle gedink gaan gebeur as hulle net terug sit en geen instandhouding doen nie?

Francois ·

Hulle dink “apartheid” gaan dit regmaak..soos in die res van Afrika…toe gebeur dit nie en alles verval in elende en is onbruikbaar! Nou staan hulle almal bakhand en bedel.

Gideon Erasmus ·

Dit is soos met ons paaie- doen geen instandhouding. Gebruik die geld vir oorsese reise vir al wat leef en beef. Mors geld soos hier by Medupi. Eindresultaat- tragedie.

Gideon Erasmus ·

Dit is soos met ons paaie- doen geen instandhouding. Gebruik die geld vir oorsese reise vir al wat leef en beef. Mors geld soos hier by Medupi. Eindresultaat- ‘n groot probleem. Wag maar oor ‘n paar weke gaan die probleem nog erger wees met reën seisoen wat nou aan die kom is. Nat steenkool sonder silo- enige kragstasie se grootste vyand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.