Henk de Beer, hoofbestuurder: bedrywe van die Sentraal-Suid Koöperasie, het aan Maroela Media het gesê die eerste silo het omstreeks 09:30 inmekaargestort. “Dit het ʼn domino-effek veroorsaak en die ander dertien silo’s het gevolglik platgeval. Dit het binne ʼn oogwink gebeur.”
Volgens De Beer is dit ʼn “wonderwerk” dat niemand tydens die voorval dood of beseer is nie. “Soos jy kan dink is dit gewoonlik daardie tyd van die oggend baie besig, maar ons is geseënd dat niemand beseer is nie, want dit het letterlik binne sekondes gebeur.”
De Beer het gesê al veertien silo’s was vol en dat daar nou gepoog sal word om die saad te herwin en dit elders te berg. “ ’n Latere proses sal wees om die strukturele skade en die silo’s self te herstel. Dit is bietjie van ʼn uitdaging om die saad te herwin aangesien dit nie maklik is om kanolasaad te berg nie. Ons moet ook probeer om voor volgende jaar se oesseisoen weer bergingskapasiteit te skep.”
Volgens De Beer kan die ineenstorting nie in dié stadium aan enige spesifieke oorsaak toegeskryf word nie. “Ingenieurs sal ʼn ondersoek doen om te bepaal wat tot die ineenstorting gelei het.”
De Beer het gesê die saad word gebruik om kanola-olie te vervaardig, maar dat die ineenstorting gelukkig nie ’n invloed op verskaffing sal hê nie.
Niks so opwindend soos dominos nie Peet. :)
My kommentaar het ‘n domino geword Mari.