Simba Mhere-ongeluk: Getuie se geloofwaardigheid bevraagteken

Simba Mhere

Die staat het Maandag die geloofwaardigheid van ʼn ongelukstoneel-rekonstruksiedeskundige bevraagteken in die verhoor van Preshalin Naidoo (24) wat betrokke was in die ongeluk waarin Simba Mhere, die Top Billing-aanbieder, gesterf het.

Naidoo word tans aangekla in verband met die motorongeluk wat in 2015 die lewens van Mhere en sy vriend, Kady-Shay O’Bryan, geëis het. Hy staan tereg op twee aanklagte van strafbare manslag. Die ongeluk, waarby drie motors betrokke was, het op 31 Januarie 2015 in William Nicol-rylaan plaasgevind.

Stanley Bezuidenhout, die verdediging se ongelukstoneel-rekonstruksiedeskundige, is Maandag deur Dinesh Nandkissor, staatsaanklaer, ondervra. Nandkissor het Bezuidenhout gevra of hy met Naidoo gekonsulteer het voor hy sy verslag saamgestel het wat in Februarie vanjaar gefinaliseer is.

Bezuidenhout het laat hoor dat hy in Desember 2015 met Naidoo vergader het nadat hy reeds die motor ondersoek het.

Nandkissor het aangevoer die getuienis van Naidoo en Bezuidenhout stem te veel ooreen en dat sy webtuiste glo aandui dat sy maatskappy hul ondersoek in lyn stel met hul kliënte en die kliënte se regsverteenwoordiging.

Teks op Bezuidenhout se webtuiste lui: “Ons het nog nooit getuig in ʼn saak waar ons verkeerd bewys is nie, waar ons verloor het of waar ons as kundiges verkeerd bewys is nie.” Bezuidenhout het met Nandkissor saamgestem en laat hoor dat die stelling vir bemarkingsdoeleindes is. Dié stelling is gevolglik aan die einde van die verrigtinge gewysig.

Nandkissor het na ʼn vorige saak verwys waarin Bezuidenhout getuig het en die landdros in daardie saak gelas het dat sy bevindings onbetroubaar was. Bezuidenhout het gesê hy is nie bewus van die uitspraak nie en die stelling op die webtuiste is twee jaar gelede opgestel.

Adv. Francois Roets, vir die verdediging, het vir Bezuidenhout gevra of hy gemanipuleer is om ʼn spesifieke gevolgtrekking te bereik. “Ek pas nie my bevindings aan nie. In ons bedryf kom kennis van navorsing en nuwe bevindings.”

Landdros David Mahango het gevra: “Jy sluit spoed heeltemal uit?”

“Ten tyde van die ongeluk, ja,” het Bezuidenhout geantwoord.

Mahango het gesê die rede hoekom hy vra is omdat Mhere se pa, wat ook in die motor was, én die analise van die snelhede van die motors aangedui het dat die motor stadig gery het toe hulle die kruising waar die ongeluk plaasgevind het, genader het. Volgens Mahango is dit belangrik om die snelheid van die motor voor die ongeluk vas te stel.

Die staat en die verdediging het hul sake gesluit en het ingestem om slotbetoë in 2018 te rig.

Die saak is tot 15 Januarie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.