Simba Mhere-ongeluk: Slotbetoë gelewer

Simba Mhere

Die verdediging in die verhoor van Preshalin Naidoo (24) wat betrokke was in die ongeluk waarin die Top Billing-aanbieder Simba Mhere dood is, het Maandag die getuienis van al die staat se getuies verwerp tydens slotbetoë in die Randburg-landdroshof.

Naidoo word verhoor nadat hy glo die motorongeluk veroorsaak het wat in 2015 die lewe van Mhere en sy vriend, Kady-Shay O’Bryan, geëis het. Hy staan tereg op twee aanklagte van strafbare manslag. Die ongeluk waarby drie motors betrokke was het op 31 Januarie 2015 in William Nicol-rylaan plaasgevind.

Adv. Francois Roets, vir die verdediging, het aangevoer dat selfs al het Naidoo inligting gehad, hy nie verplig is om dit aan die staat bekend te maak nie.

Volgens Roets het die staat nie konkrete bewyse dat Naidoo skuldig is aan die aanklagte nie. “Die onus verander nooit nie, die hof kan net bewyse verwerp as dit as vals bevind word deur redelike twyfel,” het Roets gesê.

Roets het verskeie vorige sake wat sy argumente ondersteun voorgehou en bygevoeg dat Mamokete Laka se getuienis tekortgeskiet het en nie ooreengestem het met wat sy gesien het nie.

Hy het bygevoeg die hof kan nie ʼn bevinding maak oor die spoed waarteen Naidoo gery het op grond van dr. Candice Hansmeyer se “gemors getuienis’” nie. “Selfs al kan die hof bevind dat Naidoo die spoedgrens oorskry en beheer verloor het, is die bevinding dat hy roekeloos bestuur het nie voldoende nie.”

Roets het afgesluit deur te sê die staat kon nie sy saak bewys nie en dat Naidoo vrygespreek moet word op alle aanklagte waarop hy tereg staan.

Laka, wat in die ander voertuig was wat in die ongeluk betrokke was, het aan die hof gesê sy het ʼn geluid gehoor toe die verkeerslig oorgeslaan het na oranje. “Dit bewys die beskuldigde het teen ʼn hoë spoed gery.”

Volgens haar het Naidoo aanhou vra vir vergifnis. “Dié spoed is nie die spoed wat jy moet gebruik as jy ʼn afrit neem nie. Dit [Naidoo se voertuig] het gevlieg. As die voertuig meganiese probleme gehad het sou hy ons gesê het, hy het dronk voorgekom,” het Laka in haar getuienis gesê.

Laka se seun Thabiso wat ʼn passasier was, het gesê Naidoo het gesê hy het aan die slaap geraak en dat hy na drank geruik het.

Hansmeyer, ʼn patoloog, het getuig dat, gebaseer op die verslag en voor sy die foto’s gesien het, sy kon vasstel dat die beserings deur hoë impak en hoë spoed veroorsaak is.

Die saak is tot 31 Januarie, presies drie jaar ná die ongeluk, uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

KG ·

Ek hoop van harte dat geregtigheid hier geskied. 2 Mense het hul lewens verloor en baie hartseer vir die geluefdes veroorsaak. Nou wil dit blyk dat die beskuldigde moontlik skotvry daarvan kan afkom. Ek hoop regtig nie so nie.

Hendrik van George ·

Geregtigheid na 3 jaar, vra ek met trane in my oë. Kannie verstaan hoekom slagoffers so lank moet wag vir n bietjie geregtigheid nie.

marous ·

Mnr Roets moet hom aanstel as sy persoonlike bestuurder … om hom en sy familie rond te ry.

Andre ·

Ruik na drank, maar geen bloedtoetse? Het mnr Naido ook konneksies soos Mandoza destyds toe onskuldige mense dood is? En daar was toe geen LUR betrokke of EFF protes optogte. Daar was wel “tradisionele vergadering” met die naasbestaandes.

Annie ·

Wonder hoeveel is Mnr Roets betaal om hom vry te spreek – hoop nie van Roets se familie kom eendag in ongeluk betrokke waar iemand dood is nie – wonder wat sal dan met daardie bestuurder gebeur. Wel Naidoo ek glo nie jy moet vry loop nie – jy moet skuldig bevind word aan nalatige en roekelose bestuur en manslagting – maar hoop jy het ‘n gewete – jy moet daarmee saam leef – gewoonlik is julle tipe gewetenloos. Sterkte aan Simba se familie.

Deloris ·

Ai ek wens Simba het nie omgekom noe, hy was
one-hell-of-a presenter…. dis so onnodig en hartseer….
Mag getegtigheid geskied.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.