Simonstad-kuslyn gesluit vir rooikat wat pikkewyne vang

Pikkewyne by Boulderstrand, Simonstad (Foto: PaulNicolsonZA, Pixabay)

Pikkewyne by Boulderstrand, Simonstad (Foto: PaulNicolsonZA, Pixabay)

ʼn Gedeelte van Simonstad naby Kaapstad se kuslyn is tot verdere kennisgewing gesluit vir die publiek.

Die Stad Kaapstad het ʼn rooikat geïdentifiseer as die roofdier wat verantwoordelik is vir die reeks vrektes die afgelope twee weke onder die bedreigde Afrika-pikkewyne in die gebied suid van Linkssingel, naby Froggy Pond in Simonstad.

“Die stad sal die gedeelte van die kuslyn vir lede van die publiek tot verdere kennisgewing sluit om die sensitiewe ekostelsel so versigtig as moontlik te bestuur,” het Arne Purves, senior professionele beampte van omgewingsnakoming, gesê.

Die kuslyn is reeds Vrydag om 13:00 gesluit.

Die gebied wat gesluit word, is die deel van Windmillstrand tot Froggy Pond in Simonstad. Die gebied sal met ʼn lint afgesper word en wetstoepassers sal die gebied monitor om seker te maak dat geen lid van die publiek dit betree nie.

Rooikat (Foto: urbancaracal.org)

Rooikat (Foto: urbancaracal.org)

“Ons versoek die publiek om geduldig te wees tydens hierdie periode. Ons hoop om die rooikat aan te keer, sodat ʼn radiospoortoestel deur ʼn halsband aan hom vas te maak en om hom van die pikkewynkolonie te verwyder, maar steeds binne sy bestaande tuisgebied,” het Johan van der Merwe, burgemeesterskomiteelid vir energie, omgewingsake en ruimtelike beplanning bygevoeg.

Verdere maatreëls sal ook tydens die periode ingestel word om die rooikat te ontmoedig om terug te keer.

Die Stad Kaapstad sal voortdurend die gebied monitor deur middel van kameras en voetpatrollies en sal die publiek op hoogte hou met die vordering.

“Natuurlike roofdiergedrag deur ʼn inheemse spesie word as deel van die natuurlike patroon in die ekostelsel beskou en die prooi word nie bó die roofdier geag nie. Wanneer ʼn spesifieke roofdier egter die normale roofdiergedrag verander en verskeie diere aanval – meer as wat net vir sy voeding vereis word, is dit kommerwekkend. Die situasie word vererger as die prooispesie as bedreig beskou word en die aantal en gereeldheid van die sterftes nie volhoubaar is vir die populasie nie,” het Van der Merwe verduidelik. “Bestuursowerhede word dan in ʼn baie moeilike posisie geplaas en die mees lewensvatbare en beste opsie vir die ekostelsel in sy geheel moet oorweeg word.”

Van der Merwe het gesê alhoewel die stad bevestiging ontvang het dat dié roofdier natuurlik voorkom aan ons kusgebied, bly die Afrika-pikkewynbevolking onder bedreiging en elke broeipaar verseker die toekoms van die spesie. “Hierdie situasie moet baie sensitief en gebalanseerd benader word en ons bedank die inwoners en die publiek vir hul ondersteuning.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Stel jou voor die pikkewyn is die plaasboer en die rooikat is die aanvaller.
Sou dieselfde beskerming gedoen word?
Ek sê nie dat die maatreëls verkeerd is maar ek wonder maar net . . .

Pieta ·

Die kat kom weer want hy kon nie langer wag
Die kat kom weer om sy pikkewynki te slag

Jakkals ·

Soos jy se Pieta die kat kom weer want hy kan nie langer wag nie. Dit is wanneer slim mense nie so slim is soos hulle dink nie. Ha ha

Karma ·

@Pieta, ja ons het so bietjie humor nodig ……….. Ek het êrens, onlangs gelees dat dit die Betty’s Baai se luiperd is wat so maai onder die pikkewyne. Is dit dieselfde geval hier? Dat dat dit nie nie befaamde (maar baie skugter) Betty’s Baai se luiperd is wat die slagting doen nie, maar eerder ‘n rooikat?

En is rooikatte dan nie ook ‘n beskermde of bedreigde spesie nie? Dat ‘n uitgegroeide rooikat ‘n ‘stunning’ dier is, is nie te betwyfel nie, maar enige lewende hawe, selfs jou getroue waghond of geliefde huiskat, is nie veilig met ‘n uitgegroeide rooikat in die omgewing nie. Ons het in ons omgewing ‘n ruk gelede een gehad wat omtrent gemáái het onder die bokke, skape, huisdiere en hoenders in die omgewing en toe hulle hom die dag gevang het en doodgemaak het, was ek eintlik hartseer – dit was só ‘n pragtige dier.

Willie ·

Kry daai ou wat die ietermago “geskop” het, hy sal die kat vinnig daar weg “skop”

Bullseye ·

Hahaha skerp Willie. Ek hoop die mooi kat word net verdoof en dan geskuif na ander omgewing

Francie ·

Ek wens die mense in die Kaap wil die waarde van Anatoliese herdershonde besef. Hulle sal die rooikatte verseker ontmoedig om naby die pikkewyne te kom. Om die waarheid te sê, hulle sal enige dierspesie “aanneem” en beskerm. Dieselfde geld vir die bobbejane wat so ‘n oorlas van hulle maak. Hulle word met groot sukses aangewend om bv. veekuddes teen hulle natuurlike vyande te beskerm.

charlene ·

Ek sit hier en kry die pikkewyne so jammer maar die kat doen net wat natuurlik vir hom is. sit en huil meer maar dis niks nuuts. Dan sit daai mense daar beraam planne en maak planne en maak planne vir die planne se planne. En hier is jy…. Wat die berig gelees het en seker binne 15 min `n oplossing gevind het. Ek love jou idee – die honde gaan daar rond baljaar (hulle moet sekerlik opgelei wees) die stand kan steeds oop wees want die honde is baie liefdevol en almal is happy.

christi ·

‘n Rooikat is n pragtige dier, maar as hy/sy een keer gevang het gaan hy/sy verseker weer. Betaal ‘n Probleem dier jagter of betaal iemand om die Kat te dart. Daar is nog baie Rooikatte maar nie so baie Pikkewyne nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.