Simonstad-rooikat suksesvol aangekeer wat pikkewyne jag

Die rooikat wat die bedreigde Afrika-pikkewyne in Simonstad gejag het (Foto: Stad Kaapstad)

Die rooikat wat die bedreigde Afrika-pikkewyne in Simonstad gejag het (Foto: Stad Kaapstad)

Die Stad Kaapstad het suksesvol ʼn rooikat aangekeer wat verantwoordelik was vir aanvalle op bedreigde Afrika-pikkewyne in Simonstad.

Maroela Media het vroeër berig ʼn gedeelte van die kuslyn suid van Linkssingel, naby Froggy Pond in Simonstad, is vir die publiek gesluit in ʼn poging om die rooikat aan te keer. Dié kuslyn is nou weer oopgemaak.

“Die wyfie is verlede Vrydag omstreeks 19:00 aangekeer,” het Johan van der Merwe, burgemeesterskomiteelid vir energie, omgewingsake en ruimtelike beplanning, gesê. “Sy is verdoof, in ʼn hok geplaas en deur ʼn plaaslike veearts ondersoek. Die volwasse wyfie was gesond en die veearts het bevestig sy het nie onlangs kleintjies gehad nie.”

ʼn Spoortoestel is met ʼn halsband om die rooikat vasgemaak en sy is na haar oorspronklike gebied in die Tafelberg- nasionale park teruggeneem en vrygelaat. “Ons het bevestiging ontvang dat sy rustig is en haar bewegings word nou dopgehou.”

Van der Merwe het gesê drie pikkewyne, wat as lewendige lokaas in verskillende hokke gebruik is, is vrygelaat. “Hulle is nie beseer nie en het nie enige teken getoon dat hulle angstig is nie.”

Hy het almal bedank wat by die projek betrokke was om seker te maak dit is ʼn suksesvolle oplossing vir die pikkewyne en die rooikat.

“Die Stad bedank ook die lede van die publiek vir hul geduld en samewerking.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Drie pikkewyne as lokaas. Sy het seker gegaan vir die middelste een?

Lammer Vanger ·

Hier is 4 Jakkals pare en 2 Rooikatte wat my skape vang. Wil hierdie slim mense nie kom en hulle vang en elders reabiliteer nie.

Francie ·

Kry vir jou ‘n Anatoliese herdershond. In 6 jaar het ek nie ‘n enkele lam verloor nie, en dit terwyl jakkalse deesdae in troppe van tot 8 in die omgewing jag maak op veral skape.

KarooKlong ·

Na so 3 pikkebrannewyne doen ek dit sommer vir jou verniet.

Eliza-beth ·

Dankie tog die pragtige, mooiste van alle katte, rooikat is weer vrygelaat. Mens moet maar wonder of hul oorspronklike prooi nie min geword het (die mens gewoonlik skuldig, vergiftig, maak alles dood voor die voet) en dis hoekom kattekind ander kos gaan soek het nie.

Francie ·

Jy het baie duidelik nog nie die skade aanskou wat een rooikat in ‘n kudde skape of hoenderhok kan aanvang nie. Hulle maak dood vir die pret en vreet bv. net die hoenders se kroppe. Jou bloed sal kook wanneer jy ‘n hoop van jou hoenders so afgemaaai sien. Hulle raak te lui om hulle natuurlike prooi te vang en kies dan die weerloosste van diere om dood te maak. Ek kan jou waarborg jy sal dán ‘n ander deuntjie sing.

Eliza-beth ·

Francie – die mooiste kat van almal se habitat word deur die mens bedreig. Ek he top die platteland grootgeword (meestal plaas) en weet hoe die natuur werk. Dink jy regtig hulle sommer net geksape? Hulle het hul plek in die natuur en as die mens nie so meer word en oral wilde diere se habitat oorneem sal nisk van hierdie gebeur nie. Bedaar tog.

Marinus van Aswegen ·

goed. pikkewyne is nou weer veilig. Kom of fokus nou op die Afrikaner…

oom Piet ·

Kan iemand vir die rooikat ‘n gepaste naam gee , ons gaan in die toekoms weer van haar hoor.

Gallie ·

Kon die opskrif nie eerder as volg gewees het nie: Simonstad-rooikat, wat pikkewyne jag, suksesvol aangekeer. Ek vra maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.