Sindikaatlede kry 60 jaar vir gewapende rooftogte

Simpiwe Ngcobo is in aanhouding dood voor die agt jaar lange verhoor afgehandel kon word. Foto: Verskaf

Lede van ʼn sindikaat wat ʼn skrikbewind met huisbrake in Mpumalanga en Gauteng gevoer het, is elkeen tot 60 jaar tronkstraf in die hooggeregshof in Palm Ridge gevonnis.

Die sindikaat het minstens 12 gewapende rooftogte op Springs, Devon en Kinross uitgevoer. Tydens die verhoor het dit aan die lig gekom dat sommige van die lede dagvaardings vir inhegtenisneming gehad het wat tot 10 jaar oud was, maar nooit uitgevoer is nie.

Die 11 rowers het hul vlaag rooftogte in September 2010 begin uitvoer, sê kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, maar hul doppie is geklink nadat hulle drie huise kort ná mekaar beroof het op Kinross, ʼn myndorpie in dié provinsie, en juweliersware, kontant en ʼn vuurwapen gebuit het.

“Die slagoffers is vasgebind en aangerand voor die gewapende bende met die waardevolle gesteelde goedere op die vlug geslaan het,” sê Sekgotodi. “Die drie rooftogte is almal kort ná mekaar binne ʼn uur uitgevoer.

“Dit was by die laaste huis dat die slagoffers die krag gekry het om Devon se polisiekantoor te bel en hulle ʼn beskrywing van die verdagtes en hul wegkommotor te gee.”

Sy sê die polisie het dadelik Secunda se Valke-eenheid, polisielede van Kinross en Leslie asook Ekurhuleni-metropolisie van Springs ontplooi.

“In wat na iets uit ʼn [Hollywood-]fliek gelyk het, is die swaar gewapende bende gekonfronteer. ʼn Skietery het tussen die verdagtes en die polisie ontstaan nadat hulle geweier het om hul wapens neer te lê.”

Sekgotodi sê die rowers het sleg daarvan afgekom, want vyf van die 11 is noodlottig gewond. “Die orige ses het dit reggekry om weg te kom, waarna hulle ʼn vragmotor gekaap het. Die bestuurder het later aan die skietwonde beswyk wat hulle hom toegedien het.”

Die polisie het egter geweier om die aftog te blaas en kort voor lank het hulle die ses rowers ingehaal. Tydens hul ondersoek van die misdaadtoneel en die inhegtenisneming van die ses, het beamptes beslag gelê op tien vuurwapens en al die gesteelde goedere teruggevind.

John Mokele (40), Sfiso Mbele (45), Mandla Panyeko (44), Mpumelelo Biyana (41), Sphiwe Ngcobo (37) en Siphiwe Mbonani (40) is aangekla op 44 aanklagte, onder meer moord, poging tot moord, motorkaping en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Hul ellelange verhoor het reeds in 2010 begin. Die afgelope week het die hooggeregshof die vyf oorblywende rowers 60 jaar tronkstraf opgelê nadat Ngcobo in aanhouding dood is. Mbonani het nie die vonnisverrigtinge bygewoon nie, maar is in sy afwesigheid gevonnis.

Hy is intussen opnuut aangekeer toe hy in besit van vier onwettige vuurwapens en ammunisie betrap is. Nuwe aanklagte staar hom nou in die gesig.

“Ek wil graag die ongelooflike spanwerk deur die geïntegreerde span loof en die ondersoekbeampte wat onder spanningsvolle omstandighede gewerk het nadat hy meermale met die dood gedreig is, die NVG, alle getuies en lede van die publiek prys wat dié skuldigbevinding moontlik gemaak het,” het genl.maj. Ntombizodwa Mokoena, Valke-hoof in Mpumalanga, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

PIPPIE LANGKOUS ·

Wie de hel was so onbevoeg om Mbonani op borgtog vry te laat sodat hy maar weer dieselfde kon doen??? Pateties!!!

koos1 ·

PIPPIE ons wonderlike regstelsel, wat mense (kriminele) regte bo alles stel.
Ons lede van die SAPS het mos baie tyd om 2 tot 3 keer vir die selfde verdagtigs te soek.

Jan makatan ·

Ek het ook gewonder hoe het hy uit die tronk gekom om weer kriminele dase te pleeg. Ingcobo is dan in aanhouding dood! Is die nvg so onvevoeg dat n saak 8 jr lank kan voete sleep? Nee bog man. Daan is bevoegde regter, magistrate en polisie nodig.

Elsa ·

Daar is nog baie sulke gevalle. Bring hul binne ‘n jaar in asb

Hoe nou....... ·

Vorige dagvaardigings wat nooit uitgevoer is nie nogal…….mmmmm mos!

Gert ·

Enige mens wat egter verstand het weet om nie n rower borgtog te gee nie, wan t hy gaan dit nie hou nie. Die NVG wat voete gesleep het moet ook gevonnis word vir hulle laksheid en pure slegtigheid.

PJC ·

Hierdie vonnis sou net help as hulle 60 jaar in die tronk moes deubring.

Basjan ·

Watter vonnis gaan die sindikaat-lede van die “VBS Bank staatskaping sage” kry? Indien hulle ooit ‘n vonnis gaan kry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.