Sindikaatlede vas oor R99 miljoen se BTW-bedrog

Foto: Valke/SAPD

Nege lede van ʼn sindikaat, wat daarvan verdink word dat hulle ʼn grootskaalse BTW-bedrogskema bedryf het, is deur die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) in hegtenis geneem.

Die bedrogspul het moontlik tot ʼn verlies van meer as R90 miljoen in die fiskus gelei.

“Die nege verdagtes, agt mans en ʼn vrou, tussen 35 en 70 jaar oud, is by hul huise in gegoede woonbuurte van Gauteng en KwaZulu-Natal in hegtenis geneem,” het brig Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, gesê. “ʼn Soek- en beslagleggingsoperasie is Woensdagoggend terselfdertyd by twaalf huise uitgevoer. Dit sluit ook ʼn aantal sakepersele in.”

Mulaudzi het gesê die klopjag is beplan in samewerking met die Valke se eenheid vir kubermisdade, handelsmisdade en die blitspatrollie ná ʼn ondersoek deur beamptes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

“Die SAID-ondersoek het aan die lig gebring dat die sindikaat, insluitend ʼn boekhouer in Durban en Benoni, terugbetalings van R99 miljoen geëis het deur 15 fiktiewe verkopers wat vir BTW geregistreer is. Vervalste verkoperbesonderhede en stawende dokumentasie is gebruik om die verkopers te registreer.”

Die SAID het ongeveer R30,6 miljoen uitbetaal voor die slenter aan die lig gekom het en verdere betalings is gestop. Die opbrengs uit die slenter is in bankrekeninge betaal van waar die geld deur minstens 35 sogenaamde verskaffers gewas is.

Beamptes het tydens die klopjag beslag gelê op ʼn AK47 en vuurwapens,  ongeveer €2 300 en R250 000 kontant, verskeie goudstawe, Krugerrande ter waarde van miljoene rand, en dokumentasie.

Van die dokumente wat gevind is, is identiteitsdokumente en bankkaarte van die mense wat as BTW-verkopers geregistreer is. Voertuie by die huise in Wierdapark (Centurion) waar die bedrywighede uitgevoer is, sluit ʼn Maserati en Mercedes-Benz Gelandewagen in, het Mulaudzi bygevoeg.

Lede van die SAID se ondersoekspan sal die Valke in sy ondersoek bystaan.

Die verdagtes sal binnekort in die handelsmisdaadhof in Durban en Pretoria verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Martie ·

Genade asb. Maroela hou ons op hoogte van die hele storie sal nogal baie interresant wees om te lees wat verder gebeur.

Alida ·

Hoekom ruik ek iets oosters gemeng met Afrika se kenmerkende reuk?

Wouter ·

Hoekom word hulle name nie genoem nie? Maar die ou van Eskom se naam is genoem voordat hy gepleit het.

Alida ·

Hoekom ruik ek ‘n lelike rot hier waar sekere mense dalkies betrokke kan wees.

wraggies ·

Wat van die BILJOENE wat in Pauw se boek onthul is, hoef nie te wonder hoekom niks met dit gebeur nie.

Alida 2 ·

Ai Ai Ai! So hou dit aan.
Registreer vir BTW met vervalste stawende dokumentasie.
My seuns moes maande wag vir registrasie op die plaas. SAID beamptes moes eers die plaas besoek om hulle te vergewis dat daar wel geproduseer word.

LB S ·

Ekke wil ook so blou kar hê,,,, Ernstig, jinne, maar die VALKE is BAIE besig deesdae! Hoeveel van hulle IS daar, die arme mense werk seker nou OORTYD.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.