‘Sindikaatleier’ aan VSA uitgelewer

Foto: Rawpixel/Unsplash.com

Die vermeende meesterbrein agter ʼn internasionale dwelmhandelsindikaat wat verlede jaar in Johannesburg in hegtenis geneem is, is die week aan die VSA uitgelewer.

Edwin Elochukwu Anyaoku (54), ʼn Nigeriese burger, is in Fourways in hegtenis geneem ná ʼn gesamentlike ondersoek deur die Valke se dwelmeenheid (Saneb), misdaadintelligensie en die Amerikaanse federale dwelmpolisie (DEA). Tydens sy inhegtenisneming is daar op 29 kg heroïen ter waarde van R6 miljoen beslag gelê.

Volgens brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, is Anyaoku saam met twee ander verdagtes, Lerato Diannah Mohai (42) en Christopher Okonkwo (53), in hegtenis geneem. Mohai was die beweerde muil en Okonkwo die werwer.

Die saak teen Okonkwo is egter verlede jaar in die Randburg-streekhof laat vaar. Mohai se verhoor sal op 16 Julie in dieselfde hof begin.

Mulaudzi het gesê die ondersoek na die groep het in 2017 begin en ʼn geheime operasie is begin waarin Anyaoku glo ingestem het om heroïen te verskaf. Hy en die ander verdagtes is ná die aankoop van die dwelms in hegtenis geneem.

Die VSA het einde verlede jaar versoek dat Anyaoko aan dié land uitgelewer word. Die uitleweringsverhoor het in Desember plaasgevind en Anyaoko het besluit om nie teen die uitspraak te appelleer nie.

“Die uitlewering is in April vanjaar deur die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling gemagtig en Anyaoko is Donderdag met die hulp van Interpol se Pretoria-kantoor aan die VSA uitgelewer om daar tereg te staan op aanklagte van dwelmsmokkelary.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jaco ·

kan al die wit mense van SA asseblief vir hulle skuld aan die misdaad van apartheid ook uitgelewer word aan die VSA?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.