Singh gepeper met vrae oor Dubai-reise

Anoj Singh (Foto: ANA)

Anoj Singh, geskorste finansiële hoof van Eskom, is Dinsdag tydens die parlementêre ondersoek na staatskaping en beweerde korrupsie by Eskom daarvan beskuldig dat hy nié eerlik was oor wie vir sy reise na Dubai betaal het nie.

Singh, wat ʼn dag voor die verhoor bedank het, is deur adv. Ntuthuzelo Vanara ondervra en onder meer met bewyse gekonfronteer dat een van sy vlugte na Dubai asook sy hotelverblyf deur Sahara Computers gefinansier is – ʼn maatskappy wat aan die omstrede Gupta-familie behoort.

Singh het daarop aangedring dat die Gupta-familie nié vir sy reise betaal het nie, maar dat dié reise geborg is deur ʼn kennis. Dié kennis het hom glo genooi na die Verenigde Arabiese Emirate.

Vanara het gevra of die kennis – bekend as mnr. Alburushi – ʼn verbintenis met die Gupta-familie het, waarop Singh gesê het nie sover sy wete strek nie.

Hy het ook gesê hy het geen persoonlike verhouding met die Gupta-familie gehad nie, hoewel hy die broers ontmoet het toe hulle by dieselfde hotel as hy in Dubai tuisgegaan het.

Vanara het ook gevra hoe dit gebeur het dat ʼn boete wat Tegeta Exploration and Resources, ʼn maatskappy wat deur die Gupta-familie besit word, veronderstel was om te betaal heeltemal opgehef is. Hy het daarna ʼn nota van die voormalige Oakbay-raadslid Mark Parmensky aan Singh gewys waarin Parmensky gevra het die R2,1 miljard-boete “moet verdwyn”.

Singh het gesê hy het dié onderhandeling aan Suzanne Daniels, geskorste hoof van Eskom se regsdienste, oorgelaat.

Die verhoor duur Woensdag voort.

Singh is in September deur Eskom geskors nadat hy aan die einde van Julie op spesiale verlof moes gaan in verband met die toekenning van kontrakte aan Gupta-maatskappye.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

zoom zoom ·

Die man is dalk gepeper met vrae. Maar hy is GESOUT en het die regte geluide gemaak om hom onskuldig te bewys.

Miskien ·

Obviously is hy gesout, n man wat so groot besigheid letterlik kan sink moet gesout wees, maar sekere bewyse kan nie agterna uitgewis word en dan sal dinge uitsorteer. Sy vinger wys in rigtings, maar 3 wys altyd terug en hy gaan dit aan sy bas voel. Die baie gewig wat hy verloor het wys sy benoudheid. Govender se bedanking bevestig baie dingetjies.

Piet Snot ·

‘n Finansiële hoof wat ‘n 2.1 mjd saak bloot aan sy regshoof oorlaat: ek wil graag vir so ‘n maatskappy werk!

Daan Erasmus ·

Die hele proses is ‘n mislukking. Waar ‘n hele paar mense hom ondervraging. Mense wat nie onderlê is in die kuns van kruisverhoor nie. Dit is bedoel dat die ou moet wegkom. Net in ‘n hof waar ‘n gesoute advokaat hom kan vasvat sal hy Singh soos ‘n kanarie

Alida ·

Ek stem saam. Hy sal blêr soos ‘n lam ter slagting as ‘n behoorlike gesoute advokaat hom kruisondervra. Duidelik wil hulle hê die skelm moet weg kom.

dom ·

Jip – hulle is nie opgewasse nie – onbevoeg met ondervraging. Ek hoop Pravin gaan goed vaar vandag met die een wat hy gaan ondervra.

Jacques venter ·

Wat op dees aarde help hierdie parlementêre ondersoeke? Dis te laat en daar sal niks daarvan kom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.