Sinkgat in George sluk motor in

Die Toyota Fortuner het omtrent heeltemal onder die water in die gat verdwyn (Foto: Verskaf)

ʼn Pa en seun kon net-net ontsnap voor hul Toyota Fortuner Saterdagoggend onder die water in ʼn sinkgat in George verdwyn het. Die kar het byna heeltemal in die gat verdwyn. Die pad het glo onder die voertuig meegegee weens ʼn ondergrondse pypleiding wat gebars het.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, sê die voorval het omstreeks 10:15 in Heriotrylaan in die Genevafontein-woonbuurt plaasgevind. Die polisie is na die toneel ontbied om die gebied af te sper en die toneel te bestuur.

“Die pa en seun het na bewering in hul Toyota Fortuner gery toe die pad onder hulle meegegee het. Albei kon daarin slaag om betyds te ontsnap, oomblikke voordat die motor onder die water in die gat weggesink het,” sê Pojie.

Die pad het meegegee weens ‘n ondergrondse pyp wat gebars het (Foto: Verskaf)

“Geen strafregtelike ondersoek word gedoen nie.”

Die bestuurder van die motor het aan Maroela Media gesê dat hy moontlike regstappe teen die munisipaliteit oorweeg en verkies om later kommentaar oor die voorval te lewer.

Werkers besig met herstelwerk aan die pyp (Foto: George-municipality, Facebook)

Na afloop van die voorval het die George-munisipaliteit ʼn verklaring uitgereik waarin hy die voorval bevestig. Volgens die munisipaliteit het die pad ineengestort nadat ʼn ondergrondse waterpyp in Genevafontein gebars het. Hy het inwoners gewaarsku om weg te bly van dié straat omdat dit onveilig is. Die pad is vir die publiek gesluit en vir die res van die naweek deur verkeersbeamptes gemonitor.

Herstelwerk aan die pyp het Saterdag begin en is Sondagaand weens swaar reën vertraag. Die munisipaliteit het aanvanklik gesê dat herstelwerk teen Sondagmiddag voltooi sou wees.

Luidens die verklaring het die gebarste pyp die waterdruk in die oostelike woongebiede beïnvloed en inwoners moet water spaarsamig gebruik.

Dié pypleiding bedien die stad se grootste watersuiweringsnetwerk, wat beteken dat daar op die oomblik nie water na die netwerk se reservoirs gepomp kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Marcello ·

Ja, en is dit nie ‘n hengse gemors by ons wonings nie, my huishouding was gister tot 13h00 sonder water. . Is net dankbaar dat die Pa en seun het niks oorgekom nie.

Chantel ·

Dis pateties!!!!! daar is net eenvoudig geen onderhouding van enige iets nie. Als word net eenvoudig gelos, want dit sal MOS self reg kom. Kyk net hoe lyk dit langs die hoofweë, die gras groei oras.
Ek hoop werklik die pa dagvaar hierdie munisipaliteit en sommer die Dept van Vervoer ook

SwartBees ·

Die Glen Marais area van Kempton Park is daagliks sonder water. Wanneer daar wel water is dan is daar geen drukking. Om water in n ketel te tap vir twee koppies koffie neem 30min. En wie moet ons bedank?!?!

Annelize ·

Nou hoe lank moes die pype nie gelek/gemors het, dat hierdie gebeur?

Dis omrede alles mos gelos word. Mens rapporteer verniet ‘n lekkasie, dit vat weke, indien nie maande vir Munisipaliteite om iets herstel nie. Ek smeek en soebat nou al SES maande dat ‘n stopbord by ‘n spesifieke kruising hier in Rustenburg vervang word, dis nou nog nie gedoen nie.

Ons lek en smeek nou al meer as ‘n maand dat ‘n ernstige waterlekasie herstel word in ons buurt, dis die naweek eers gedoen, nadat daar gevloek en baklei is.

Ek hoop hierdie man trek die George Munisipalteit kaal uit vir sy skade. Ek glo dat die man se versekering self ondersoek sal instel na hierdie voorval, want ek dink nie die Versekering gaan gelukkig wees om hierdie skade te betaal agv iemand anders se onbevoegdheid en blatante laksheid nie.

Baardman ·

As daardie dikte asbespyp bars, neem dit minute voordat dit n fiasko veroorsaak. En as asbespype eers begin oud raak en begin bars, veroorsaak dit dat die pype aanhoudend op n ander plekke gaan bars. Enigste oplossing is om te vervang met PVC pype.

Magda ·

Mis daai tyd, vir n SKOON EN VEILIGE SUID AFRIKA, Praatieei van Apartheid nie – Net die skoon en Veilige en VRY Suid Afrika. Apartheid was verkeerd en almal wat dit veroorsaak het is of dood of ampoer dood. Jammer hulle Kan die deel wees van die gemors wat hulle in daai tyd aangevang het nie.

Chrisp ·

Vertel ons asb van die gemors wat daai tyd aangevang is wat aanleiding gee tot die verval van die land en die bars van pype ,slaggate ens?
Voor pype kan bars en infrastruktuur verval moet dit seker daar gewees het in die eerste plek?

Misky ·

@Chrisp, ek dink Magda verwys na die mense wat ons land “uitverkoop” het aan die ANC en daai jare is instandhouding gedoen. Mens kan nie verwag die pype gaan honderde jare hou nie

MT ·

Maar vertel ‘n bietjie meer Magda? Wat presies het die vorige regering gedoen om toe te laat dat ‘n Fortuner Saterdagoggend in een van George se strate onder die water in ‘n sinkgat verdwyn het?

Ek luister sommer by die radio.

Nuff ·

Hulle het die land vir die ANC gegee. Het jy nie geweet nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.