‘Sinlose moord’ vir paar bottels whiskey

Daleen en Alex Cameron [Foto: Daleen Cameron, Facebook]

“My ma se moord was sinneloos. Wreed. En dít vir ’n paar bottels whiskey.”

Die vermoorde Daleen Cameron (67) se dogter, Sanjaca Mitrovich, sê sy is kwaad en haar hart is stukkend oor die manier waarop haar ma van die familie weggeruk is. Die feit dat haar ma se vermeende moordenaar nou agter tralies is, bied wel effense troos, sê sy.

Daleen se man, Alex (67), het haar liggaam Dinsdag in die gesin se huis in Bayswater, Bloemfontein, aangetref. Hy was gou hardewarewinkel toe en het Daleen vir sowat 40 minute alleen saam met die tuinwerker wat buite die huis besig was, gelaat.

Met sy terugkeer huis toe, het hy sy geliefde vrou in ’n plas bloed aangetref. Haar keel was oopgesny en haar hande was agter haar rug vasgebind.

“My pa het na buite gehardloop en die tuinwerker gesoek, maar hy was nêrens te vinde nie,” vertel Mitrovich.

Die werker is Woensdagaand in die Botshabelo-nedersetting opgespoor en in hegtenis geneem vir Daleen se moord.

“Ons het van die begin af die tuinwerker verdink omdat hy die enigste persoon was wat saam met my ma op die perseel was.”

Volgens Mitrovich het die tuinwerker verlede week by haar ouers begin werk.

Maroela Media het vroeër berig die tuinwerker het na bewering ’n onbekende bedrag geld en duur bottels drank, onder andere whiskey, gebuit. Dit is tydens die verdagte se inhegtenisneming in sy besit gevind.

“Hy kon alles vat, maar net my ma uitlos. Ons verstaan nie waarom hy haar so wreedaardig moes doodmaak nie. Sy het dit nie verdien nie.”

‘Sterk vrou met hart van goud’

Mitrovich eer Daleen as ’n sterk vrou wat verbete geveg het teen die uitdagings van die lewe. Leukemie is ses jaar gelede by haar gediagnoseer.

“Sy veg al ses jaar lank teen die siekte. Sy is die sterkste vrou wat ek ken. Ek glo sy het tot aan die einde toe geveg.”

Daleen het jare as eiendomsagent in Bloemfontein gewerk en het ʼn paar jaar gelede afgetree.

Sy het meer as 30 jaar gelede as stadsraadslid van die Nasionale Party (NP) op Koster, Noordwes, gedien. Haar pa was destyds burgemeester van die dorp en sy het saam met hom op die raad gedien.

“Dit is selde dat pa en dogter op dieselfde raad dien.”

Volgens Mitrovich was haar ma ’n goeie vrou vir haar pa en wonderlike ma vir haar en haar suster, Xandria, asook ʼn ouma vir haar kleinkinders.

“Die kleinkinders het na haar opgekyk.”

Daleen en Alex sou op 11 Desember 45 jaar getroud wees.

“Hulle was ’n sterk paartjie en welbekend in die stad as sakelui van formaat en as mense met harte van goud.”

Volgens Mitrovich het haar ma uit haar pad gegaan om haar naaste te help.

“Dit is wonderlik om nou na haar dood te sien hoe mense vir ons boodskappe stuur en vertel watter invloed sy op hul lewens gehad het.”

Mitrovich vertel trots hoe haar ma altyd deur ’n ring getrek kon word.

“Sy was stylvol. Sy het altyd grimering gedra en het lekker geruik. Ons het haar soms Emsie Schoeman genoem omdat sy alles perfek gedoen het.”

Mitrovich se stem breek effens terwyl sy vertel hoe haar ma haar heldin en mentor was.

“Sy het my en Xandria toegerus om die lewe aan te pak en net jouself te wees. Alles wat sy in die lewe gedoen het, het sy met soveel liefde gedoen. Sy was ons beste vriendin. Ek gaan haar baie mis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pieter ·

Die anc land is om van op te gooi en as hulle een dag gevang word sal die landros of regter vir hulle duisend rand borg gee.

Irene ·

Wens ek kon sê wat ek regtig dink en voel……afgryslike daad.

Chris ·

Ek het myself verbaas om die berig te lees. Ek lees nie graag sulke “nuusberigte” nie. Ek het nie woorde van meegevoel vir die vrou se naasbestaandes nie. Daar sal niemand vertroostende woorde vir die familie kan gee nie. As jy nog nie die emosies beleef en ervaar het wat die mense tans deurgaan nie, kan jy nie saampraat nie. Al wat ek kan sê is dit hang van jouself af wanneer jy berusting sal vind en hoe gou/vinnig jy vergewe. Die probleem is indien jy dit nie doen nie, gaan jy jouself vernietig en dit vir ‘n siels/gewetenlose skepsel wat niks verkeerd sien aan die daad wat hy gepleeg het nie. Sterkte vir julle, julle het dit nodig

Klein Karoo Loper ·

Daar is niks meer om te sê nie. Sy was ‘n pragtige vrou vir haar man, ‘n mamma en ‘n ouma. Hierdie is nie ‘n lewe nie. God slaap nie Ramaphosa. Hy sien alles!

Boer ·

Kyk Na Korea die man bring net n Netflix film in die land en verspry dit nou kry hy dood straf. Ons land moet die dood straf terug bring om beheer oor die land te kry van sinnelose moorde, vekragtings en molesteerings.

Hennie ·

Laat die werkloses dan maar werkloos bly … wat ek die graagste wil noem sal nie hier toegelaat word nie

Pieter J ·

Ek moet sê ek verstaan nie so lekker hoekom ek iemand moet vergewe vir sy wandade nie. Ook nie hoe dit my lewe sal oorheers as ek dit nie doen nie. Is daar ń verskil tussen vergeet en vergewe? As jy nie vergeet nie beteken dit jy loop gedurig met die wete van die misdaad in jou agterkop rond.

AH ·

Ek kan verstaan dat mens moet vergewe voordat die bitterheid en haat jou opvreet en die misdadiger weet nie eens daarvan nie. Ek was gelukkig nog nie in so ‘n posisie nie, maar ek weet nie of ek ooit so-iets sal kan vergewe nie, en vergeet beslis nie….

Marshall ·

One cannot win a defensive conflict strategy. One cannot defend an infinite border. Secession is the only viable strategy. Wake up my Afrikaner countrymen.

Danie ·

Secession?
And then?
All the criminals will suddenly flee and do their business somewhere else?
I think not

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.