Siphokazi Booi-moordverhoor begin eindelik

‘n Foto van Siphokazi Booi. (Foto: Action Society)

Die Paarl-streekhof was Maandag gepak met familie en vriende van die 27-jarige Siphokazi Booi, toe die moordverhoor teen haar gewese kêrel, Sithobele “Rasta” Qebe, eindelik begin het.

Maroela Media het vroeër berig dit was 5 Mei reeds ʼn duisend dae nadat Booi se verkoolde liggaam in September 2021 in ʼn asblik langs die Mbekweni-spoorlyn in die Paarl in die Wes-Kaap aangetref is.

Kaylynn Palm van Action Society sê die drukgroep is vol vertroue dat hierdie week ʼn groot stap op die lang pad na geregtigheid vir Booi sal wees.

“Vandag het die verdediging die ondersoekbeampte kruisondervra en die patoloog sal môre getuig.”

Die ondersoekbeampte het die grusame aard van Booi se dood uiteengesit; sy is erg aangerand, haar ledemate is afgesny en sy is in ʼn asblik gegooi voordat dit aan die brand gesteek is.

Palm sê die verdediging het bygevoeg dat haar gesig onherkenbaar verbrand is en dat haar identiteit deur middel van DNS-toetse bevestig moes word.

“Die verdediging het ook daarop gewys dat Rasta ten tyde van haar moord op borgtog uit was vir geslagsgebaseerdegeweld teen Siphokazi. Een van die voorwaardes was dat hy nie naby haar mag gaan nie.”

Gemeenskapslede het glo gehelp om Qebe op te spoor en in hegtenis te neem nadat hulle van die moord uitgevind het.

Action Society beplan om Dinsdag in groot getalle na die Paarl-streekhof op te ruk waar die vermeende moordenaar van Siphokazi Booi sal verskyn. (Foto: Facebook / Action Society)

Palm sê Booi se moord is simbolies van Suid-Afrika se “verrottende” regstelsel en “hoe geregtigheid vir slagoffers van geweld voortdurend vertraag en ontken word”.

“Dit wys ons net weer hoe misdadigers die regstelsel misbruik deur tallose onnodige vertragingstaktieke. Dit is ook simbolies van hoe duisende gesinne moet ly terwyl hulle wag dat geregtigheid vir hul geliefdes moet geskied.

“Ons sal hierdie week elke dag in hierdie hof wees en die lang pad na geregtigheid saam met Booi se familie, vriende en die Mbekweni-gemeenskap stap totdat ons haar moordenaar lewenslank agter tralies sien,” sê Palm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yvonne ·

Hoe bitter tragies dat n lewe in hierdie land so goedkoop geword het….mag die waarheid seëvier

Dries ·

Was tydens die moord uit op borgtog, op voorwaarde dat hy nie naby haar mag kom nie.
Glo die aanklaer en verdediging is trots op hulself.

yollie ·

Kom ons hoop daar is nie weer ‘n geval waar die saak uitgestel word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.