Sirkusleeus by nuwe tuiste vrygelaat

Jora en Black, die twee voormalige sirkusleeus Foto: Born Free-stigting

Jora en Black, die twee voormalige sirkusleeus Foto: Born Free-stigting

Jora en Black, die twee sirkusleeus wat uit haglike toestande in Bulgarye gered is, is Maandag in hul nuwe tuiste in die Shamwari-natuurreservaat, 75km buite Port Elizabeth in die Oos-Kaap, vrygelaat.

Die twee agtjarige boeties is in Julie uit die hoofstad Sofia gered deur die internasionale diere-liefdadigheidsorganisasies, die Born Free-stigting en Four Paws.

Die leeus is deur Thomson Airways van die Bourgas-lughawe na die Gatwick-lughawe in Londen gevlieg, waar die medestigter van Born Free, Virginia McKenna, by hulle aangesluit het. McKenna het die hoofrol gespeel in die fliek, Born Free.

Jora en Black is in ʼn kwarantynvoertuig na Heathrow geneem en het oor die naweek die laaste en langste been van die reis, van Heathrow na Johannesburg, onderneem. Die twee leeus is Sondagaand in ʼn oornagkamp in Suid-Afrika gehou voordat hulle Maandagoggend in hul nuwe tuiste by die Born Free Jean Byrd opleiding- en reddingsentrum in die bekroonde Shamwari-reservaat vrygelaat is.

Jora en Black was oorspronklik deel van ʼn sirkus wat deur Oos-Europa en Turkye gereis het. Nadat die Bulgaarse regering ʼn verbod op die gebruik van wilde diere in sirkusse geplaas het, het die twee leeus sedert 2014 in ʼn klein hok gebly. Die eienaars het ingestem dat Born Free hulle mag oorneem.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bruno Stef ·

Die twee manne het waarskynlik nie eers geweet watter gelukkie hulle getref het nie met so n groot area wat nou tot hulle beskikking is al is hulle afgekamp.

Wondermaarnet ·

Wat is so spesiaal dat die 2 leeus ten duurste ingevoer is, sonder dat hulle volgens wet in SA eers in kwarentyn gehou word, voordat hulle in die natuur vrygelaat word om binnekort deur n trofee jagter met meer geld as verstand geskiet te word?

Nicolette ·

Dankie vir Shamwari vir die wonderlike kans wat die twee maanhare kry, hulle kan darem nou gelukkig en sorgeloos lewe.

Christie Joubert ·

Fantastiese nuus. Kan Maroela nie net bietjie meer detail gee nie? Wat was die leeus se reaksie? Het hulle dadelik uitgegaan? Wat was hul reaksie? n Video?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.