Sirkusleeus op pad ‘huis toe’

Jora en Black, die twee voormalige sirkusleeus Foto: Born Free-stigting

Jora en Black, die twee voormalige sirkusleeus Foto: Born Free-stigting

Twee voormalige sirkusleeus, wat uit haglike toestande in Bulgarye gered is, is besig met ʼn 17 000 km reis om in die Shamwari-natuurreservaat in Suid-Afrika gehuisves te word.

Die twee sewejarige boeties, Jora en Black, is in Julie uit die hoofstad Sofia gered deur die internasionale diere-liefdadigheidsorganisasies, die Born Free-stigting en Four Paws.

Jora en Black was oorspronklik deel van ʼn sirkus wat deur Oos-Europa en Turkye gereis het. Nadat die Bulgaarse regering ʼn verbod geplaas het op die gebruik van wilde diere in sirkusse, bly die twee leeus al sedert 2014 in ʼn benoude hok. Die eienaars het ingestem dat Born Free hulle mag oorneem.

Die twee leeus se toestand het internasionaal opspraak verwek en die sepiester Helen Worth het ook haar ondersteuning aan die leeus gebied. “Dit is wonderlik om te sien dat hierdie twee diere, wat al van welpies af in ʼn sirkushok toegesluit is, uiteindelik na die wonderlike Shamwari-natuurreservaat geskuif word,” het die Coronation Street-aktrise gesê.

Die leeus word deur Thomson Airways van Bourgas-lughawe na Gatwick in Londen gevlieg waar die medestigter van Born Free, Virginia McKenna, by hulle aansluit. McKenna het die hoofrol gespeel in die fliek, Born Free.

Jora en Black sal dan in ʼn kwarantynvoertuig na Heathrow vervoer word en dan die laaste en langste been van die reis, van Heathrow na Johannesburg, onderneem. Die twee leeus sal dan deur ʼn konvooi Land Rover Discovery-voertuie na hul nuwe tuiste by die Born Free Jean Byrd opleiding- en reddingsentrum by die bekroonde Shamwari, net buite Port Elizabeth, vervoer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Winston ·

Goeie nuus. Dankie vir almal betrokke. Dit was n groot stuk werk.

Sue ·

Dankie vir mense wat omgee. Mag die twee konings veilig aankom by hul nuwe tuiste en nog vir baie jare hul vryheid geniet!

Ludwig ·

As hulle die kans kry, sal hulle hul dank uitbrul aan almal wat gehelp het om hulle terug te besorhg waar hulle hoort. Dit maak jou hartseer as mense diere so misbruik.

Justa ·

Welgedaan aan almal betrokke. Ons het meer sulke mense nodig. Ek stel voor dat mense wat dierewelsyn ondersteun die petisies op change.org begin teken – dit maak wel n groot verskil aan diere se lewens as daar genoeg druk toepgepas word.

Liewe land! ·

Kan die eienaars van die sirkus asseblief nou die leeus se plek in die hok kry?

Miskien bevry n organisasie vir menseregte hulle oor so tien jaar…

Eliza-beth ·

Liewe land – DIS nou kommentaar waarvoor jy sommer ‘n groot boks tjoklits moet kry! Ek stem 100% saam! Hoop die leeus gaan nog jare van vryheid en geluk in die natuur, waar hul hoort, geniet!

Sonia ·

Baie dankie aan Born Free Jean Byrd vir die reddingspoging van Jora en Black, ek het so gehuil toe ek dit lees en besef daar is nog goeie mense op die aarde, baie min van julle. DANKIE BAIE !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.